Suid-Afrikaners neig om alledaagse “sosiale wrywingspunte” as konflik te herdefinieer wat ons interaksies in wen-of-verloor situasies laat ontaard, volgens data deur die navorser en skrywer Pieter de Villiers van die Shadowmatch konsultasieplatform.
“Ons maak ’n gewoonte van konflik,” het De Villiers gesê in ’n uurlange voordrag by ’n onlangse aanlyn predikanteopleidingsessie, aangebied deur Excelsus en onder leiding van dr Lourens Bosman.
“Europieërs (en Kanadese) is baie sagter in social friction point-hantering,” het De Villiers vir konteks gesê, maar bygevoeg dat inwoners van die suidelike deelstate van Amerika se lonte selfs korter as Suid-Afrikaners s’n toets in De Villiers se navorsing wat fokus op gewoontes en psigo-sosiale aspekte soos veerkragtigheid, aptyt vir verandering, konflikhantering, selfmotivering en dissipline.
Die data-komponent (hy praat van ’n steekproef van etlike duisende wat sy voorlegging onderlê) het heelparty van die sowat 20 kursusdeelnemers ooglopend beïndruk en oortuig rondom als van die aggressie in ons samelewing tot die “disconnect” tussen leraars en gemeentelede. “Die data wys ons praat by (lidmate) verby,” het De Villiers gesê. “Ek kan die piep kry as ek uit die kerk stap en die dominee se woorde hang in die lug…wat moet ek doen?” wou De Villiers weet. “En ons het ’n ekstreme hoë geneigdheid om als self te doen.”
De Villiers is self as dominee opgelei voor hy die NG Kerk-bediening verlaat het en hom in die gedragstudie en ’n verskeidenheid vorme van terapie begewe het, het hy vertel oor die voorgeskiedenis van Shadowmatch.
’n Opvallende datapunt was leraars se beduidende hoër altruïsme (guns wat nie terugbewys kan word nie) as lidmate, het De Villiers gesê. Predikante se wil om mense te help oorskry dikwels dié wil van die res van die gemeente wat die omgeekring kleiner trek.
Neels Jackson bekyk NG Kerk se onlangse geskiedenis
Nog ’n spreker by die leergeleentheid was die afgetrede kerksakeverslaggewer, en oud-redakteur van Kerkbode, Neels Jackson. Hy het gepraat het oor sy boek Drie dekades van verandering: Die NG Kerk se pad na verruiming waarin dié NG lidmaat ontledend beskryf hoe die NG Kerk stelselmatig kleiner in lidmaattal geword het, verder van politieke mag beweeg het en teologies gesonder geword het.
LEES OOK: NG Kerk: ‘Kleiner, verder van mag … gesonder’
Die NG Kerk waarin Jackson grootgeword het, in die 1960s en 70s, was volgens hom ’n groot, maar ook siek kerk. As joernalis by Beeld en later Kerkbode het Jackson letterlik vir dekades byna al wat sinodesitting is bygewoon en ’n loopbaan gewy daaraan om die instelling te verstaan wat hy glo mettertyd wegbeweeg het van vername destydse kenmerke soos mag, patriargie, homogeniteit, sentralisasie, isolasie van ander en ’n verskraalde evangelie met swaar klem op die verstandelike. In die kerk waarin die afgetrede koerantman nou aanbid, is daar groter bewussyn onder lidmate oor die nood van ander mense en ’n meer holistiese begrip van Jesus.
- Hierdie berig is ná publikasie opdateer vir helderheid en die opskrif is hersien. – Red.