“Hier was ek, 26 jaar oud, pas in die bediening en ek is in die – en ek gaan hierdie nou in aanhalingstekens sit – ‘malhuis’.”
So gesels Konette van Rooyen, ’n jong predikant van Vredenburg, onlangs met LiG oor haar pad met depressie.
Sy vertel dat haar eerste opname in ’n kliniek vir geestesgesondheid moeilik was vir haar. As predikant het sy gevoel dit is veronderstel om goed met haar te gaan. Sy noem dat sy nie heeltemal vrywilliglik opgeneem was nie, maar dat gou besef het dat dié opname haar goed doen. Sy het ’n klomp praktiese gereedskap gekry wat sy vandag steeds vir haarself en in haar bediening gebruik.
Toe Covid-19 egter sy kop uitsteek in 2020 het Konette persoonlike trauma ervaar toe sy deur ’n egskeiding gegaan het. “Ek moes uittrek uit my huis en twee weke later alleen die inperking-tydperk ingaan. Almal van ons het in daardie tyd ons eie uitdagings gehad … Maar dit het my gevat na ’n donkerder plek en ek is weer opgeneem in die kliniek. Dié keer het ek gekies om soontoe te gaan.
“Ek het weer gaan soek vir tools en ’n oomblik om asem te haal in dié chaotiese wêreld.”
Konette lag en sê: “Partykeer wens ek dat ek ’n USB-stokkie in my kan druk en die persentasies bepaal van hoeveel is depressie, hoeveel word veroorsaak deur ’n moeilike tyd waardeur jy gaan en hoeveel is net jou gewone maandelikse hormone. Sodat ek net kan weet wat aangaan.
“Ek is nie ’n sielkundige nie maar ek het tog geleer in ’n rigting waar jy mense moet kan lees. En waar jy mense moet help waar hulle in die lewe swaarkry. Ekself het selfdoodgedagtes gehad, ek het dit nie gesien as depressie nie. So dis waarvoor ons die mediese, professionele mense in ons lewe nodig het.”
Konette deel die wenke wat vir haar werk. “Die eerste ding is dat jy, wanneer jy van jouself praat, jou taal mooi moet kies. En meer vir jouself moet sê: ‘Ek lewe met depressie óf angs óf wat ook al. Want jy kán ’n vol lewe saam met dit hê, dit is nie die einde van die pad nie.
“Daar is hoop daarin dat die Here wat ons dien slegte goed in ons lewe kan gebruik om mooi voort te bring. Dit maak nie die sleg minder sleg nie. Maar hy maak die mooi soveel mooier as wat die sleg is. So wanneer ons fokus op die mooi gaan ons meer sy hand, en minder van die sleg, sien. Dan kán ons ’n vol lewe saam met God leef.”
- Die oorspronklike artikel is gepubliseer op Kerkbode se susterpublikasie, LiG, se webblad.