Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Sosiale innovasie: Gevallestudies belig die nuutskepping caribuntu saamgestel uit caritas (omgee) en ubuntu (“ek is en daarom is jy”)

Caribuntu: Social innovation in South Africa deur Erwin Schwella (red)

Uitgewer: CLF-uitgewers, 2024

Resensent: Yolandi Kok

 

Die Caribuntu: Social innovation in South Africa – gevallestudieboek onder redaksie van Erwin Schwella is ’n tydige geskenk aan gemeentes en organisasies wat betrokke is by gemeenskapswerk.

Die leser word bekendgestel aan die begrip caribuntu, wat ’n nuutskepping is uit die woorde “caritas” (die Latynse woord vir liefde en omgee) en “ubuntu” (die Afrikafilosofie wat sê: “ek is en daarom is jy”). Caribuntu dui gevolglik op ’n wederkerige omgee en sorg-verhouding tussen mense. Hierdie begrip begrond die benadering tot gemeenskapsontwikkeling wat verder in die boek verduidelik word.

Die doel van die boek is om die leser beter vertroud te maak met die begrippe en proses van sosiale innovasie. Hierdie proses sluit die ontdekking van moontlike oplossings tot probleme in ’n gemeenskap en dan die verifikasie, verfyning en uitvoering van ’n prototipe diens of projek in.

Lesers sal ook baat vind by Schwella se lerende leierskapsmodel. Dit verduidelik die houdings en vaardighede wat nodig is vir ’n organisasie om sosiaal innoverend te wees.

In ’n tyd waar geloofsgebaseerde organisasies hulle rol in die lewering van maatskaplike dienslewering herontwerp en herverbeel, is die voorbeelde vervat in die gevallestudies baie prakties en behulpsaam. Die leser kry die geleentheid om na die binnewerke van innoverende nie-winsgewende en geloofsorganisasies te kyk en by hulle te leer. Die verskillende outeurs van die gevallestudies kwyt hulle goed van hulle taak deur die verhale van hulle pionierswerk boeiend vas te lê.

Die gevallestudies kom van uiteenlopende kontekste regoor Suid-Afrika en sluit voorbeelde van wat die boek “sosiale besighede” noem in. Hierdie blootstelling gee die leser die geleentheid om uit strategieë binne werklike situasies te leer. Die leser kry ook dieper insig oor die impak wat innoverende projekte, dienste en besighede maak in die bevordering van volhoubare oplossings.

Caribuntu: Social innovation in South Africa is uiters leersaam en inspirerend!

Beskikbaar by CLF.

Ds Yolandi Kok is predikant by die NG Kerk Domus Dei Randburg-Suid en voorsitter van die portefeulje vir diensgetuienis en gemeenskapsbetrokkenheid van Sinode Hoëveld. Sy is ook voorsitter van die maatskaplikedienstekantoor Tutela in Linden.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top