Caroline Elston het op 16-jarige ouderdom geweet sy wil ’n maatskaplike werker word. Vandag op 67 is dit steeds haar groot liefde om op hierdie manier ander te help.
Sy werk as ’n maatskaplike werker by Badisa Tygerberg met kinders in pleegsorg. Dit is haar werk om hulle by te staan om goed aangepaste volwassenes te word.
Sy vertel haar storie.
Lees ook: Badisa | Die hoop aan die anderkant van hopeloos – Hanri October se getuienis
Waardevolle les geleer in KZN
Ek het na skool maatskaplike werk by Universiteit Stellenbosch studeer en het in 1977 gegradueer. Dis baie lank gelede!
My eerste werksgeleentheid was by Kinderwelsyn in Pinetown, Kwazulu-Natal. Ek het pas 21 jaar oud geword toe ek met my klein VW ‘Beetle’ na Natal gereis het. Daar is destyds van my verwag om gevallewerk, groepwerk en gemeenskapswerk te doen onder mense wat gedwing was om na ’n nuwe behuisingsontwikkeling net buite Pinetown te verhuis. Supervisie het net een keer elke drie maande plaasgevind, so ek het maar my eie vorm van maatskaplike werk toegepas.
Meeste van my dae is spandeer om kospakkies uit te deel. Ek het ook probeer om ’n paar gemeenskapsprojekte van die grond af te kry met baie min sukses.
Ek was ’n jong mens wat niks geweet het van die lewe en die stryd wat mense moes verduur nie.
Een van die projekte wat ek van die grond af probeer kry het, was ’n jeuggroep. Kort voor lank was ek besig om ’n kampeeruitstappie na ’n natuurreservaat aan die Noordkus te reël. Ek het gretig (en met ’n trotse gevoel van prestasie) borgskappe verkry en alles perfek beplan.
Toe die dag aanbreek dat ons moet vertrek, het nie een persoon behalwe die groepleier opgedaag nie. Toe ek hom vra wat aan die gebeur is, het hy kalm vir my verduidelik dat slaap op die grond en kook op ’n oop vuur nie ’n avontuur is vir kinders wat in lokasies woon nie.
Dit was ’n baie vroeë les in ‘verstaan jou kliënt se behoeftes’ wat ek nog nooit vergeet het nie.
Maatskaplike werker in klerebedryf
Na twee jaar in KwaZulu-Natal het ek na Kaapstad teruggekeer waar ek werk gekry het as maatskaplike werker in ’n groot klerefabriek. Ek het dit geniet om saam met die personeel en bestuur te werk en het gou ’n belangstelling in arbeidsverhoudinge en menslike hulpbronbestuur ontwikkel. Ek het vir ongeveer 20 jaar in die klerebedryf gepraktiseer en toe aangesluit by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) as ’n nywerheidskakelbeampte vir die klere- en tekstielafdeling.
Terug na maatskaplike werk op 60
Sestien jaar later en op die ouderdom van 60 het ek besluit dat ek iets meer betekenisvol met my lewe wil doen en het geweet dat ’n terugkeer na maatskaplike werk die manier is om daardie gevoel van selfvervulling te vind. Ek wou graag my stempel los deur iets vir ander te doen.
Ek het die foon opgetel en Badisa gebel, en die res is geskiedenis. ’n Jaar later is ek ’n vaste werk aangebied en het sedertdien nog nie teruggekyk nie.
Ná my vuurdoop as maatskaplike werker in risiko-evaluering, is ek na pleegsorgtoesig geskuif wat beteken dat daar van my vereis word om kinders by te staan om suksesvolle en goed aangepaste volwassenes te word.
In die drie jaar wat ek in pleegsorg is, is ek verstom deur hoe veerkragtig ons kinders is en hoe net ’n bietjie erkenning en begrip ’n blywende impak kan hê.
So het ek en maatskaplike werk verander
Ek dink my grootste verandering het van binne gekom. Ek is wyser, meer menslik, het meer deernis, gee meer om vir ander en is baie ouer, wat dit op een of ander manier makliker maak om my kliënte te sien as mense wat bloot iemand nodig het om hulle te lei, motiveer en ondersteun.
Die bedryf het beweeg van ’n rigtinggewende benadering – met maatskaplike werkers wat as kundiges optree wat oplossings verskaf het – na ’n meer kliëntgesentreerde benadering. Kliënte neem deel aan hul eie sorg en die klem het verskuif om hulle eerder te bemagtig om onafhanklik te word.
Nog ’n groot verandering wat ek die afgelope jare gesien het, is die klem op trauma-ingeligte sorg, wat die hoeksteen van maatskaplike werk geword het en van besondere belang is wanneer daar met kinders in pleegsorg gewerk word. Trauma gaan altyd pleegplasing vooraf en om bloot die pyn te herken, maak reeds ’n verskil.
Vir Badisa Tygerberg is die skep van traumagroepe in gemeenskappe goed ontvang en is dit ’n stap in die regte rigting. Selfs ’n eenvoudige ding soos om ’n jong meisie se hand vas te hou wat die teenwoordigheid van haar ma mis, kan ’n positiewe impak hê en ’n verskil maak.
Pleegsorg gaan oor bemagtiging van tieners en pleegouers
In my werk fokus ek daarop om kliënte te help om hul vaardighede en hulpbronne te bou om hul probleme doeltreffend aan te spreek. Mens kan sien hoe kliënte groei nadat hul een van ons vaardigheidswerksessies bygewoon het. Baie van ons pleegouers het ’n basiese vlak van opvoeding, en om klasse by te woon is vir hulle ’n senutergende ervaring.
Tieners word na Bright Star-programme gestuur terwyl daar van pleegouers verwag word om klasse by te woon oor hoe om ’n effektiewe pleegouer te wees.
Badisa Tygerberg se ouerskapklasse en maandelikse pleegsorg-ondersteuningsgroepe is daarop gemik om kliënte se selfvertroue te bou om hul probleme op te los en om beter ouers te wees. Dit is veral belangrik in daardie moeilike tienerjare wanneer pleegouers gewoonlik sukkel.
Maatskaplike werk bly spesiaal en lonend
Ek raak so opgewonde as dit my beurt is om die kinders vir die dag uit te neem. Tafelberg of die Akwarium is ons gekose bestemmings en as die weer dit toelaat, gaan ons ook na die strand of na Groenpunt Park toe. Ek word altyd oorweldig deur hul spontaneïteit en gevoel van vryheid wanneer hulle op pad is.
Op elke reis het ek kinders gehad wat nog nooit by die see was of die stad gesien het nie al woon hulle 17 km van die middestad af. Ons dag eindig gewoonlik met ’n roomys of ’n sny verjaardagkoek en amper almal raak aan die slaap op pad huis toe – uitgeput maar bly dat hulle iets nuuts beleef het.
Ek het ook onlangs ’n kliënt se matriekafskeid-afstuurpartytjie bygewoon en dit was ’n vreugdevolle geleentheid vir die kliënt, die gesin, die hele straat en vir haar wat die kliënt se hand vasgehou het deur moeilike tye. Die dag dat al my pleegkinders matrikuleer en selfversekerd die grootmenswêreld betree, is wanneer ek met selfvertroue ‘ja’ antwoord op die vraag of ek voel ek maak ‘n verskil. Badisa Tygerberg as geheel het ’n groot verskil gemaak in die lewens van die mense wat dit bedien.
‘Net vyf jaar’ word toe agt
Toe ek in 2017 teruggekeer het na maatskaplike werk, het ek vir myself gesê: ’net vyf jaar’. Ek is op pad na my agtste jaar van diens en as dit nie was vir die feit dat my enigste dogter, wat in die Verenigde Koninkryk woon, ’n bietjie ‘mamma-tyd’ wil hê nie, sou ek graag by Badisa Tygerberg wou aanhou werk.
Hierdie tyd was die spreekwoordelike ‘kersie op die koek’ en dit is moeilik om iets prys te gee wat jy geniet .
- Hierdie artikel verskyn as deel van ’n inhoudsvennootskap tussen Kerkbode en Badisa.