Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Arnold Griesel van Bethulie skryf: Die sogenaamde Drie Formuliere van Enigheid (Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), die Heidelbergse Kategismus, en die Dordtse Leerreëls) vorm die belydenisgrondslag van die NG Kerk, en dien dus as hermeneutiese grondslag van die interpretasie en verstaan van die Bybel.
De jure gee die kerkorde van NG Kerk (Art.1) nog erkenning aan die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God en instemmigheid met Art. 7 van die NGB.
Inhoudelik word die status en plek van die Bybel hierin duidelik bevestig uit beskrywende sinsnedes soos: “Ons glo dat…hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat…voldoende geleer word….mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie….En aangesien dit verbode is om by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat …. geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie…. mag ons nie …van persone of van kerkvergaderings, verordeninge of besluite met die waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles…. Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie.”
De facto is die optrede en skrifgebruik van die Algemene Sinode (AS) egter lank nie meer hiermee belyn nie. Ruimte is reeds geskep in ʼn besluit verklaring van die AS van 2004 waarin Skrifgesag beginsels relativeer word.
Ander besluite volg soos die opsionele bestaan en/of aard van die duiwel, ontsondiging van Bybelse aanwysings (SGV), versuimde opsig van dwaalleer (bv. alternatiewe betekenisse geheg aan opstanding en maagdelike geboorte van Jesus)
Van die gevolge van die “Ruim Huis”-beleid:
Dit maak die deur wawyd oop vir veelvuldige alternatiewe Skrifbeskouings en hermeneutiese aanwendings in die NGK – verskeie nuwe en bykomende lense vir die lees en interpretasie van die Bybel kulmineer daaruit.
Die universele Protestantse gereformeerde geloofooreenkoms is verbreek. NGK kerkeenheid verbrokkel interne.
“Ruim Huis” geloof-modifikasies raak predikante en lidmate se geloofsdomein. Regsinniges verwerp die vrysinnige Skrifbeskouing – maar ervaar toenemende blootstelling aan vrysinnige Skrifbediening in die NGK – direk en indirek. Die AS het immers die geloofmodifikasies goedgekeur en is besig om dit toenemend toe te pas – “af te forseer”.
Die bedoeling van die skrywe is veel meer as die ommekeer in Skrifbeskouing, en die implikasies daarvan in die onlangse geskiedenis van die NG Kerk, aan te dui. Dit belig ook die onsekerheid van voortgesette regsinnige woordbediening in die NGK. Wat kerke doen en sê moet tot God se eer alleen wees. Dit is nie net die Bybel wat in die gedrang is nie, maar die Here van die Bybel…
Arnold skryf so Baie sense hy moet ASSEBLIEF meer dikwels skryf!
En dan moet ons ook onthou dat wanneer jy deesdae jou Legitimasie eed aflê, dan stem jy in (volgens die Kerkorde van 2023, Reglement 10 – REGLEMENT VIR DIE OPLEIDING EN LEGITIMASIE VAN PREDIKANTE, DIENSLERAARS EN STANDPLAASLERAARS 8.4):
“5. dat ek my aan die Kerkorde van die NG Kerk sal hou;
6. dat ek, om beroep te word, volgens die Kerkorde en besluite van die Nederduitse Gereformeerde Kerk sal optree;”
Kan ons regtig hou by God se Woord as ons mensgemaakte dokumente tot dieselfde vlak wil lig, terwyl dit in dit sélf teenstrydig is en ook begin neig in sekere opsigte om direk teenstrydig te wees met God se Woord?
Duidelik moet die Kerkorde hersien word en duidelik moet daar teruggekeer word na die Woord van God as onfeilbare bron van ons saligmaking. Die eenvoudige vraag kan maar weer gevra word: Is ons gereformeerd? Is ons gehoorsaam aan- en glo ons die 5 solas? Indien wel, sal die eie-ek nie so sentraal staan nie.
Ek stem saam met die skrywer Dit is ‘n algemene verskynsel by meeste van die kerke , nie net die NGK Die Bybel { God se woord }word stadig maar seker een kant gestoot. Die Israeliete het dit eeue gelede gedoen en die moderne mens doen dit ook.