Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Hennie van Deventer van Melkbosstrand skryf: In die hande van my Tukkie-tydgenoot (’n latere Matie) Frits Gaum was Die Kerkbode ’n formidabele publikasie.
Toe hy in die 90’s by die Nasionale Pers kom aanklop met die voorstel dat sy blad by die dagblaaie van die Nasionale Pers ingevoeg word as bylae, was ek dadelik positief. Dit sou waarde toevoeg, was my redenasie.
LEES OOK: In memoriam | Frits Gaum – gewaardeerde vegter-teoloog sterf – Gerdrie van der Merwe
Van my kollegas was ietwat lugtig vir ’n ander stem wat oor sake van die dag in ’n byvoegsel in hulle koerante standpunte stel. Wat nou as die redakteur van die koerant in ’n hoofartikel hierdie koers inslaan en die redakteur van die kerkblad in sy hoofartikel ’n koers wat lynreg in botsing is? Dit was ’n geldige vraag.
Nadat ons daaroor gewik en weeg het, is besluit: Ons voeg dit in.
Dit was ’n goeie besluit met wedersydse voordele. Die Kerkbode het in meer huise gekom en is wyer gelees. Hy kon sy advertensietariewe opstoot. Die koerante het op Kerkbode-dag aan lesers kerklike verslaggewing van die hoogste orde te lese gebied. Die pakkie was aantreklik en het bygedra tot hulle statuur by lesers wat saak maak.
Van ongemaklik botsende sienswyses, soos gevrees is, het gelukkig niks gekom nie.
LEES OOK: Ons sal mekaar waarskynlik nie oortuig nie, máár …’ – Frits Gaum
Van daardie tyd af het ’n nuwe persoonlike verbintenis met Frits Gaum tot stand gekom. Sy dood op 84 – net ’n jaar ouer as ek – ruk my. ’n Skielike leemte ontstaan. Koffiekuiers by Ons Huisie in Bloubergstrand – met lang geselse oor als en nog wat – sal daar nie weer wees nie.
Van hierdie koerantjoernalis kom ’n diep buiging na ’n dominee-joernalis van stoffasie wat diep spore getrap het. Mense het geweet van Frits Gaum, of hulle met hom saamgestem het of nie. En kritici het geweet: As hulle hom wil aanvat, moet hulle hulle potlode skerp maak.
Op Tukkies was ek in 1961 redakteur van die studentekoerant, Die Perdeby, en Frits redakteur van die jaarblad, Trek. Min het ons studenteredakteurs toe geweet dat ons paaie later weer op die joernalistieke akker sou kruis. Hoe bly is ek nie dat dit wel gebeur het nie. Al het ons ook oor sekere sake deur verskillende brille gekyk, was ons verbintenis vir my altyd verrykend. Ek neem met ’n seer hart afskeid van my vriend Frits Gaum, ’n Israeliet sonder bedrog as daar ooit een was.