Daka deur Jaco Strydom
Uitgewer: LUCA, 2025
Resensent: Heléne Meissenheimer
Koop hierdie boek aanlyn: Beskikbaar by LAPA.
Dit is die voorblad wat my die storie wou laat lees. ’n Man lyk klein en weerloos waar hy alleen op sy rug in ’n turkooisblou see dryf. Rondom hom is skuimende branders wat breek op ’n leë strand.
Dit lyk soos wegraak. Salig maar ook riskant.
In Jaco Strydom se eerste fiksieboek, Daka, is dit Adam Richter wat wil wegraak. Hy het iets vreeslik gedoen en nou vermoed hy sy lewe is in gevaar. Vir sy wegraak kies hy ’n onbewoonde eilandjie hoog op teen die Ooskus van Afrika. Voor sy vertrek sit hy ’n nuwe naam op sy paspoort: Daka – ’n woord wat verskillende betekenisse in vier tale het, maar elkeen gepas vir Adam – nou Daka – se verhaal. En hy besluit hy sal nie weer bid nie.
Strydom het reeds drie Christelike nie-fiksieboeke op sy naam. Hierdie storieboek het ek ervaar lees maklik, want hy skryf soos in sy vorige boeke in ’n taal wat vir ’n wye lesertal toeganklik gaan wees. Hierdie lekkerlees avontuurverhaal is ook mooi deurweef met elemente van mistiek, geloof en verwondering.
So droom Adam as voorstedelike tiener van die rare misterieuse doegong wat algaande ’n groter rol in sy lewe speel – uiteindelik ook die bepalende faktor vir die eiland wat hy kies om op weg te raak.
Die Echo-huise se stigter se liefde vir die wilde Ooskus van Afrika was ’n genot om in te deel. Sy deurleefde en fyn gedetaileerde beskrywings van die mense en die lewe vanaf die Wildekus tot by Zanzibar was by tye vir my meer fassinerend as die storie self. Dalk omdat ek regdeur vermoed het dat ou Adam/Daka oukei sal wees (hy is verstommend lucky).
Dit is natuurlik ook ’n boek wat dié skrywer/blogger se waardering vir afsondering in ongerepte plekke uitlig. Strydom begin sy fiksiedebuut dan ook deur die Noorweegse ontdekkingsreisiger, Fridtjof Nansen, as volg aan te haal: “I can tell you deliverance will not come from the rushing noisy centres of civilization. It will come from the lonely places.” Hetsy dit dan is op ’n onbewoonde eiland, of in ’n klooster in die woestyn – soos wat Adam se domineevriend kies om te doen na ’n krisis in sy lewe.
Nog ’n lekker van die boek was om aanhalings en opmerkings raak te lees wat jou lusmaak om ’n penmerk of oorvou te los vir weer lees. Soos hierdie een deur ’n daggarokende hippie-oompie genaamd Joe wat Daka op ’n dhow ontmoet: “The greatest lesson travel has taught us is to look around us with curiosity rather than judgement”.
Dit het my gelaat met ’n gevoel dat hierdie boek enigeen wil aanmoedig om God in mense en ervarings raak te sien, ook tydens tye wat dinge erg verkeerd loop. As Strydom sê hierdie boek was ’n haastige skryf, dan sien ’n mens uit na die ander twee fiksieboeke waarmee hy vertel hy besig is.
Heléne Meissenheimer is ’n joernalis wat voltyds vir Kerkbode oor kerknuusgebeure asook mense en gemeentes met inspirerende geloofstories skryf.