Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Dr Rowan Williams (regs) met ds. Pieter Grove van die VGK en die skrywer, dr Chris Jones.

Teoloog Rowan Wiliams besoek SA | Solidariteit gaan met kwesbaarheid gepaard, sê voormalige aartsbiskop van Kantelberg


Solidariteit beveg die magte van die dood met gawes van lewe, hoor Chris Jones tydens die teoloog Rowan Williams se onlangse besoek aan Stellenbosch. 

 

Dr Rowan Williams is ’n Walliese Anglikaanse biskop, teoloog en digter. Hy was die 104de Aartsbiskop van Kantelberg, oftewel die hoof van die Anglikaanse Kerk, ’n posisie wat hy beklee het vanaf Desember 2002 tot Desember 2012.

Hy het ’n groot deel van sy vroeëre loopbaan as akademikus, agtereenvolgens aan die universiteite van Cambridge en Oxford, deurgebring.

Williams het onlangs opgetree by die Bonhoeffer-konsultasie, wat aangebied is deur die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie, aan die Fakulteit Teologie, Stellenbosch. Die titel van sy openbare lesing was: “What does Christian solidarity look like today?” Hy was ook deel van die 10de jaarlikse Volmoed Colloquium wat tussen 1 en 3 November by Volmoed naby Hermanus plaasgevind het.

Sy eerste lesing is so goed bygewoon dat stoele in die Hofmeyr-lesinglokaal van die Fakulteit Teologie ingedra moes word. In hierdie lesing het die klem, soos blyk uit bogenoemde tema, op solidariteit geval en wat dit deur verskillende fases van die (meer onlangse) geskiedenis beteken het.

Volgens Williams het die inhoud van hierdie begrip nie net betrekking op individue nie, maar ook op gemeenskappe. En dit behels meer as net deernis. Dit is ’n “sharing risk”. Die inhoud van solidariteit het oor tyd heen geskuif van “kohesie” (samehang), meer na “mutualiteit” (wederkerigheid).

Solidariteit gaan gepaard met geregtigheid en waarheid, terwyl mag mutualiteit (kan) vernietig. Vir Williams groei solidariteit uit kwesbaarheid. Dit gaan met risiko gepaard.

Ook moet solidariteit onder andere onderskei word van empatie. Laasgenoemde lei nie noodwendig tot veranderende optrede nie. Dit sou maklik kon stop by die intelligente waarneming van iemand anders se behoeftes. Ook moet ’n mens versigtig wees om nie vernederend en paternalisties oor te kom as jy mense benader nie.

Solidariteit egter, gaan daaroor om genesing te bring aan die gewondes. Jy gebruik jou “siel” om te genees. Soos Christus. En dit geld nie net vir jou medemens nie, maar dit raak ook die omgewing. En hoe bewus is ons nie van die gewondheid van die skepping nie!

Solidariteit gaan daaroor om jou lewe te deel. Dit gaan om in die “genade van die skepping” begrond te wees. Om eenwording deur solidariteit te ervaar, is bevrydend. Solidariteit beveg die magte van die dood met gawes van lewe.

Solidariteit vra ook gesprek. “We must not close down that which must be kept open”. Dit vra geduld. Dit wil hoop gee.

Op ’n vraag uit die gehoor oor die moontlike verband tussen engele en solidariteit, het Williams geantwoord dat daar energie in die skepping is. Daar is kragte wat vir ons werk, en ander kragte wat teen ons werk. Dit is nie-menslike energie wat ons met solidariteit kan bystaan of nie.

Hoe gee ek lewe (ook as ’n groep) as ek self sukkel? het iemand anders gevra. Hierop het Williams geantwoord dat krisisse nie gelokaliseer kan word nie, soos byvoorbeeld die klimaatkrisis. Ons almal is betrokke. Dit is ’n “gedeelde risiko”.

In sy tweede lesing op 1 November in die Raadsaal van die Fakulteit Teologie, het Williams gefokus op “Love, guilt and representation: some thoughts on the Ethics”. Hierin het hy stilgestaan by Bonhoeffer se etiek en die klem het daarop geval dat ons almal deel is van die (spreekwoordelike) probleem. Ons word geïmpliseer. Ons word aanspreeklik gehou – individueel, maar ook gesamentlik. Ons is skuldig. Medepligtig. Ons is in Adam maar ook in Christus.

Ons behoort so te werk te gaan dat mutualiteit die gevolg van ons optrede is. Ons moet ten alle koste by mense staan. En hiervoor is vertroue nodig. “To stand with the sinner, is to look beyond the sin”.

Weet ons wat ons verantwoordelikhede is? Wat betref die menslike maar ook die omgewing? Dat God reeds almal en alles omarm? En dat ons dit ook moet wees. Want ons is as gevolg van ander.

Ons moet die ander se plek inneem. Nie vervang nie. Ons moet daarin groei. In hierdie proses moet ons elke vorm van “menslike perfeksie” agterlaat.

Die inkarnasie van God beteken dat God geïdentifiseer word met dit waarop mense hoop. En nooit moet ons onsself sien as God nie.

Ons sal nooit “perfectly righteous” wees nie. Die wêreld is gewond. Beskadig. Gekorrupteer. Net soos ons in Adam is, is ons ook genadiglik in Christus.

Wat bedoel Bonhoeffer met solidariteit en skuld. Ons hoef nie paniekerig te word nie. Die wêreld is ons besigheid, omdat ons deel daarvan is asook verantwoordelik daarvoor is. Dit word reeds deur God omarm. Ons moet die glorie van God in die wêreld probeer herstel.

Ook is gebed en bemiddeling belangrik as dit by ons medemens en die skepping kom. Wanneer ons in solidariteit met ander tree, laat ons toe dat hulle persepsies van hulle omstandighede ons beskouing help vorm. Ek verstaan volledig waardeur jy gaan. En nie: ek weet nie presies wat jy nou nodig het nie.

Tog skram Bonhoeffer nie weg van konfrontasie nie. Dit sal gebeur as jy by die gewondes en lydendes (wil) staan.

Op ’n vraag hoe Bonhoeffer oor ’n Waarheids- en Versoeningskommissie sou dink, het Williams geantwoord dat ons nooit die gewig van die waarheid moet onderskat nie. Ook is daar moeilike waarhede, wat nie noodwendig tot versoening sal lei nie.

Prof John de Gruchy het by dieselfde geleentheid gepraat oor: “The ‘happy’ humanist: Ethics, aesthetics & Christian formation” en het onder andere na vier aspekte verwys wat vir Bonhoeffer belangrik was, naamlik geluk, humanisme, die kerk in die sfeer van vryheid, en hoe dit alles bymekaar kom in dissipelskap.

Vir Bonhoeffer het geluk gegaan oor ’n “goed geleefde lewe”. Dit gaan oor seëninge wat jy in Christus (kan) ontvang. Deur Christus te volg, ontdek jy die lewe in sy volheid. In Christus word die mens in vele dimensies van die lewe gelei.

Bonhoeffer het later gedigte begin skryf – veral oor geluk. Dit het op die kompleksiteit van sy gedagtes gewys. Dit is asof hy uit woorde geraak het, behalwe as hy gedig het. Hy ook gedigte oor vriendskap geskryf – aan Eberhard Bethge, sy goeie vriend.

Aan sy verloofde, Maria von Wedemeyer, skryf hy uit die tronk: Moenie dink dat ek ongelukkig is vanweë my omstandighede nie. Ek is elke dag dankbaar vir jou. Dit maak my opgeruimd!

Dit was twee insiggewende gesprekke (en sessies) oor geloofsvorming in die kerk en hoe ons op grond hiervan in die wêreld behoort op te tree.


Dr Chris Jones is verbonde aan die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.