Die Fakulteit Teologie en Religie by Universiteit Pretoria (UP) het op 7 November proponente en diensleraars vir die bediening gelegitimeer tydens ’n geleentheid aangebied by die NG Gemeente Universiteitsoord.
Proponente
Dean Bentley is gebore op 23 Mei 2000 en het in 2018 gematrikuleer aan die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp. Hy het daarna sy studies aan die Universiteit van Pretoria voortgesit en ’n BDiv, MDiv en BA Hons in Teologie behaal. Hy was vir vier jaar ’n jeugwerker met betrekking tot tienerbediening te NG Gemeente Lynnwood en doen sy gemeentejaar te NG Moedergemeente Mosselbaai. Hy stel veral belang in werk met tieners (13-17) en jong volwassenes (18 tot so 30) en is ook baie opgewonde oor kinderbediening (jonger as 7). Sy navorsing vir sy skripsie, “Hoe bedien NG Moedergemeente Mosselbaai die jong volwassenes?”, handel oor hoe hierdie gemeente jong volwassenes bedien. Hy het ’n gemeente-analise gedoen deur die konteks, statistieke en bestaande bedieninge te bestudeer. Sy gevolgtrekking beklemtoon die belangrikheid van diep verhoudings en kreatiewe maniere om jong lidmate te betrek en geestelik te laat groei. Dean woon op Mosselbaai.
Kontakbesonderhede: 084 782 4595 / dean.bentleydb@gmail.com of dean@ngmosselbaai.co.za
Fanie Fourie is gebore op 3 Julie 2000 en het in 2018 aan die Hoërskool Centurion gematrikuleer. Direk daarna het hy sy BDiv, MDiv en BA Hons in Teologie by die Universiteit van Pretoria voltooi. Tydens sy studies het hy gedien op die Huiskomitee van Dregeana Daghuis, is hy tutor vir verskeie modules en ook betrokke by NG Gemeente Universiteitsoord by wyse van hulle eerstejaarskamp. Fanie het sy prakties by NG Gemeente Eldoraigne voltooi. Fanie se bedieningbelangstellings is Bybelstudies, prediking en pastorale bediening. Sy MDiv-skripsie, met die tema “The portrayal of Xerxes in extra-biblical literature and the MT and LXX versions of Esther – a narratological comparison”, was ’n vergelykende analise tussen die Masoretiese en LXX Ester en Herodotus se Histories in hulle uitbeelding van Koning Ahasveros.
Kontakbesonderhede: 074 933 2000 / fouriefanie01@gmail.com
Jacques Paul Jacobus Heymans is gebore op 14 Februarie 2000 en matrikuleer in 2018 aan die Hoërskool Reitz. Tydens sy studies het hy deeltyds tutorwerk in Sistematiese en Historiese Teologie gedoen. Hy het in die Fakulteit se huiskomitee gedien (bemarking en kommunikasie, 2020-2021) en was voorsitter, 2021-2022. Jaques was verder betrokke by die Master Leader Program (2023), Wêreldraad van Kerke se jeugverteenwoordiger (Central Committee), African Youth Conference (beplanningskomiteevoorsitter, 2024-2025). Jacques is ook ’n Suid-Afrikaanse stapatleet. Hy voltooi sy BDiv (cum laude), MDiv en BA (Hons) Teologie aan die Universiteit van Pretoria. Jacques stel veral belang in kerkreg wat vir hom ’n goeie uitdaging is, maar ook hoe om verskillende mense op verskillende plekke te bereik met die verspreiding van die Woord. Sy skripsietema was “Uittrede uit algemene sinodale verband (Artikel 37 van die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk): Verleentheid of geleentheid”. Die doel van die skripsie was om navorsing te doen en uitkomste te vind wat Artikel 37 van die Kerkorde in geheel bied vir die geleentheid of verleentheid om kerkverband te herenig, te hervorm, herstruktureer of herorganiseer ten einde kerkskeuring te voorkom. Wat duidelik na vore getree het, is dat daar meer op die strukturele aard van artikel 37 gefokus word, soos wie mag uit algemene sinodale verband tree. Bitter min aandag word verleen aan die apostolaat in die artikel, synde dat die besluit geneem moet word in die lig van God se Woord.
Kontakbesonderhede: 064 941 1572 / jacquesheymansoo@gmail.com
Bianca Lategan, gebore Smith op 17 Maart 2000, is getroud met Jean-Pierré Lategan. In 2018 matrikuleer sy aan Hoërskool Die Anker. Sy het haar BDiv, MDiv en BA Hons in Teologie aan UP voltooi. In haar gemeentejaar te Dalpark het sy waardevolle blootstelling aan alle aspekte van die bediening verkry, insluitend die reël en beplanning van verskeie funksies. Sy was betrokke by huisbesoek en siekebesoek, met ’n spesifieke fokus op pastoraat wat haar geestelike en praktiese leierskapvaardighede bevorder het. Sy het die jeug gelei en ’n internspan bemagtig om hulle werksaamhede te verrig. Verder was sy verantwoordelik vir die bestuur van die kinderkerkpersoneel en het maandeliks ’n preekbeurt gelei wat haar ervaring in prediking en bediening versterk het. Haar sterkpunte sluit ’n diep passie in vir mense en so kry sy haar energie uit interaksies met mense. Bianca toon empatie met mense en probeer om ander se perspektiewe te verstaan wat haar help om beter met hulle te kommunikeer. Sy is aanpasbaar en benader verandering met ’n positiewe ingesteldheid wat haar toelaat om uitdagings met veerkragtigheid te hanteer, alhoewel sy nie die negatiewe ignoreer nie. In haar skripsie, “Die invloed van die Imago Dei konsep op diverse seksuele identiteit binne die NG Kerk konteks” handel haar ondersoek oor hoe die konsep Imago Dei (die beeld van God) verstaan en toegepas kan word in die konteks van seksuele diversiteit binne die NG Kerk. Die studie stel die vraag hoe hierdie teologiese idee, wat sê dat alle mense na God se beeld geskape is, implikasies het vir mense met verskillende seksuele identiteite. Bianca woon in Brakpan.
Kontakbesonderhede: 068 678 4427 / bibi17.smittie@gmail.com
Eduard Johannes Jacobus (Johan) Mostert is gebore op 13 Desember 1998. Hy is in 2023 getroud met Zilcha, wat saam met hom gelegitimeer is. Hy het in 2017 gematrikuleer aan die Hoërskool Langenhoven op Riversdal. Johan behaal sy BDiv, MDiv en BA Honneurs in Teologie aan die Universiteit van Pretoria. Johan het sy gemeentejaar voltooi aan die NG Kerk Potchefstroom-Oos en stel veral belang in die verkondiging van die evangelie. In sy MDiv-skripsie, getiteld “Die verkondiging van die evangelie”, het hy ondersoek ingestel om te bepaal of prediking kan dien as ’n uitnodiging tot geloofsvorming. Dus het die studie gelei tot die ontwikkeling van ’n model vir prediking waarbinne luisteraars krities oor hulle eie lewe en konteks kan reflekteer aan die hand van die evangelie. Die model is daarop gerig om prediking so in te rig dat dit luisteraars begelei in die proses van geloofsvorming deur hulle uit te nooi om hulle eie lewe in gesprek te bring met die boodskap van die evangelie. Johan woon tans in Potchefstroom.
Kontakbesonderhede: 076 508 0359 of ejjmostert.jm@gmail.com
Zilcha Mostert, néé Welgemoed, is op 15 Augustus 2000 gebore. Sy en Johan, ’n medeproponent en klasmaat, is getroud in 2023. In 2018 matrikuleer sy aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp. Sy het haar BDiv, MDiv en BA Hons aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Sy voltooi haar prakties in Potchefstroom-Oos, saam met haar man Johan. Haar groot en eerste liefde in die bediening is pastorale berading. Haar skripsietema, “Pastorale berading in die konteks van Suid-Afrika: ’n Ondersoek na die bydrae van vroue”, het gefokus op die bydrae van twee teoloë, predikante en akademici, Yolanda Dreyer en Annelie Botha, tot die veld van berading in die konteks van Suid-Afrika. Dit het sy gedoen deur primêr op albei se doktorale proefskrifte te fokus, waar die klem geval het op die ongelyke behandeling van vroue in Suid-Afrika ten einde die relevansie van Dreyer en Botha se studies, bevindings en voorstelle, in ’n tyd soos nou te bepaal.
Kontakbesonderhede: 060 732 4323 / zilchamostert@gmail.com
Daniel Pautz is gebore op 7 Januarie 2000. Hy slaag matriek aan die Hoërskool Montana in Pretoria in 2018 en begin direk daarna met sy studies aan die Universiteit van Pretoria. Hy is van 2019 tot 2023 betrokke by Magalieskruin-gemeente as ’n kategeseleier, dien al van 2022 op hulle kerkraad en doen dan ook sy gemeentejaar daar. Hy geniet dit om menseverhoudinge te bou in die gemeente, asook om met junior en senior jeug te werk. Hy het ’n groot liefde vir prediking en geniet dit om die teks saam met die gemeente te ontleed. Sy skripsie het gehandel oor “Die verhouding tussen pastorale sorg en sielkunde”. Die doel van sy navorsing was om te kyk na die samewerking tussen die twee velde om gemeentelede doeltreffend by te staan. Die navorsing het duidelik getoon dat samewerking tussen die twee velde baie belangrik is vir gelowiges.
Kontakbesonderhede: 082 789 8261 / dpautz2000@gmail.com
Ashton Brondin van Niekerk is gebore op 13 Maart 1992 en het met tuisonderrig gematrikuleer in 2010. Sy aanvanklike teologiese graad voltooi hy in 2015 aan Unisa en werk later in verskeie velde buite die kerk. Hy het ’n passie vir verantwoordelike en suiwer Woordbediening asook bejaardebediening. Hy voel huisbesoeke is ’n kragtige bedieningsveld wat die kerk (veral in die stad) moet herontdek, al is dit in ’n nuwe vorm. Sy skripsie, “Eusebēs tot eusebia: Kontinuïteit in die Pastorale briewe” fokus op die tema van “eusebeia” (godvresend of vroomheid) en ondersoek hoe hierdie konsep in die Pastorale briewe gebruik en verstaan word. Die doel is om vas te stel of die gebruik van “eusebeia” in hierdie briewe ooreenstem met Paulus en Jesus se begrip van godsdienstigheid, en of dit ’n latere toevoeging of interpretasie verteenwoordig wat moontlik ’n diskontinuïteit met hulle oorspronklike bedoelinge aandui. Hy hou homself graag besig met skaak, filosofie en rekenaarwetenskappe.
Kontakbesonderhede: 071 523 4397 / prysdieheer@gmail.com
Diensleraars
Christoffel (Christo) Johannes Brits is gebore op 16 Januarie 1968 en getroud met Karin. Hulle het een seun. Christo slaag matriek in 1985 aan die Hoërskool John Vorster op Nigel. Hy slaag sy BTh by die South African Theological Seminary in 2012 en is tans besig met sy honneurs. Die afgelope 26 jaar praktiseer hy as rekenmeester in sy eie praktyk. In sy weermagjare was Christo ’n Evangelies-Gereformeerde biduurleier, en het hy later ’n nuwe kinderbediening begin wat vir twee jaar geduur het, asook die kinderbediening hanteer vir ’n jaar in die Volle Evangelie Kerk. Christo se gemeentelike vorming het begin by die Evangelies-Gereformeerde Kerk waar hy katkisasie aangebied het, as biduurleier opgetree het en studentebediening vir twee jaar behartig het. Hy het verskeie eredienste gelei asook gereeld in aanddienste gepreek. Hy stel veral belang in opleiding, lering, berading van groepe en kinderbediening. Sy skripsie, “Nuwe lewe in Christus” het gehandel oor Romeine 6:1-11.
Kontakbesonderhede: 071 196 8277 of 011 814 4971 (k) / christobrits@britsaccountants.co.za
Joléne de Kock is op 13 Augustus 1980 gebore en het in Bloemfontein grootgeword. Tydens haar skooljare was sy as leier aktief betrokke by die CSV. Sy matrikuleer in 1998 aan die Hoërskool Jim Fouché en begin in 1999 met haar taalkundediploma aan die Vrystaat Technikon. In haar matriekjaar het sy ook kategeseklas aangebied vir die graad 1 katkisante. Tydens haar studies het sy as verslaggewer gewerk en in die laaste jaar as redaktrise by die Technikon se koerant, Speculum. In 2002 behaal sy haar diploma en verhuis na Kaapstad waar sy in die filmbedryf werk tot en met 2004. In 2005 verhuis sy na Johannesburg en sluit aan by die NG Kerk Randburg waar sy as vrywilliger by die kleuterkerk werk en in 2015 as amptelike kleuterkerkaanbieder aangestel is. In 2020 kry sy ’n aanstelling as jeugwerker van NG Kerk Randburg. Tussen 2008 en 2015 het sy by verskeie tydskrifpublikasies gewerk as verkoopsagent tot en met haar aanstelling by die kerk. Joléne is ’n besige stadsmamma en het ’n spesiale deernis vir die moderne gesin en veral hoe om geloof uit te leef met die vol programme wat elke gesinslid het. Die groeiende sekularisasie van ons kultuur het by haar genoeg bekommernis gewek dat sy geroepe gevoel het tot die bediening. Tydens die Covid-19-grendeltyd het Joléne ingeskryf by Hugenote Kollege vir die BTh Teologie-graad. Tydens haar studies het sy groter kerklike verantwoordelikhede ontvang soos die behartiging van die belydenisklas asook die bejaardesorg in die Randburgvoedingsarea. Sy werk tans as die jeug- en kategese-fasiliteerder en preek as aflos vir die hoofleraar van NG Kerk Randburg. Joléne doen ook weeklikse Bybelstudie, biduur en huisbesoek by die bejaardes van verskeie aftree-oorde en bou verhoudinge met die jeug van die gemeente deur middel van maandelikse jeugbyeenkomste en kampe. Sy is getroud met Hein. Hulle het saam vier kinders tussen die ouderdomme van 6 en 17. Joléne doen ook tuisonderrig met haar twee middelste kinders terwyl die oudste en die jongste skoolgaan. Sy voel geroep tot voltydse bediening as diensleraar vir jeug en gesinne waar sy glo sy ’n verskil kan maak met die lering en saamgroei van geloof en die praktiese uitlewing daarvan. Joléne is beroepbaar.
Kontakbesonderhede: 083 379 7709 / jolenedekockmail@gmail.com
Pieter Jacobus de Wet is gebore op 24 Junie 1991 en getroud met Surita. Hy slaag matriek aan die Hoërskool President Steyn in 2009. Pieter was ’n paneelklopper van 2010-2013 en is tans ’n motor- en nie-motorassessor. Gedurende hierdie tyd studeer hy BDiv aan die Universiteit Vrystaat van 2018-2021. Pieter begin met sy MTh aan die Universiteit van Pretoria (UP) in 2023. Sy ervaring tydens sy MTh studies was dat al die persone met wie hy in kontak gekom het goed opgelei was in wat hulle doen – dit sê baie vir hom oor die karakter by die Universiteit van Pretoria wat gehandhaaf word. Tans doen hy Woordbediening en gereelde huisbesoeke om die gemeente te leer ken. Pieter stel veral belang in Woordbediening, sakramentbediening en pastorale bediening binne die gemeente. Hy is oortuig dat die kerk nie net inwaarts moet fokus nie, maar ook uitwaarts. Hy is tans besig met sy MTh aan UP, waar sy skripsietema “Teologiese trauma in die boek Habakuk: ’n Strydgesprek tussen die skrywer en God” is. Die tema handel oor die identifisering van teologiese trauma in die Bybelboek Habakuk.
Kontakbesonderhede: 081 779 5709 / p.dewet@yahoo.com
Juan Armand Ferreira is gebore op 14 Februarie 1992. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Koster in 2010, verwerf ’n BA in Teologie en ook ’n BA Honneurs in Teologie aan die Universiteit van Pretoria (UP) in 2017 en 2018 onderskeidelik. Tydens sy studies aan UP het hy in die universiteitskoor, Camerata, gesing. Hy is die afgelope sewe jaar werksaam as steundiensbeampte by NG Gemeente Lynnwood in Pretoria.
Kontakbesonderhede: 084 588 4948 / ferreiraja92@gmail.com
Heinrich Prinsloo is getroud met Jani en hulle het drie kinders – Isabella, Henro en Lienke. Hy is gebore op 30 Desember 1983 en het gematrikuleer aan die Hoërskool Outeniqua op George in 2001. Hy het sy diploma in Intermediêre Onderwys, Foundation of Cross-Cultural Eduation (FCE) in 2005 voltooi, BTh by Hebron Teologiese Kollege (HTS) in 2009, BA in Teologie (kerklike vakke) aan die Universiteit Vrystaat (UV) in 2010, Honneurs in Teologie, Dogmatiek, (UV) in 2014 en ’n Meestersgraad in Opvoedkunde (MEd) aan die Universiteit Kaapstad in 2019. Heinrich is die afgelope jare by verskeie gemeentes betrokke: NG Vyfhoek, Potchefstroom, diensleraarjaar 2024; NG Langenhovenpark, Bloemfontein, preekbeurte by aanddienste 2015-2019; NG Bergsig, George. 18-30 selgroepleier, uitreikaksies en musiek 2006-2008; FCE, Zambië, sendingonderwyser 2003-2005; Straatwerk, Kaapstad, Diensjaar 2002. Hy stel baie belang in onderwys, sending en gemeente-aksies omdat hy glo dit speel ’n kritiese rol in die uitbreiding van die kerk se invloed en die opbou van gemeenskappe. Vir hom is dit belangrik om mense te bemagtig deur onderwys in God se Woord, geletterdheid en vaardigheidsontwikkeling in dissipelskap.
Kontakbesonderhede: 060 993 3881 / heinrich.prinsloo@nwu.ac.za
Rosarie Saaiman is gebore op 23 Februarie 1955 en het in 1972 gematrikuleer aan die Hoërskool Langenhoven in Pretoria. Sy volg daarna ’n beroep in professionele verpleegkunde. Haar deurlopende studies besorg haar verskeie verpleegkundediplomas asook BCur. Sy het haar BTh aan Unisa voltooi en is tans besig met BTh honneursstudies. Deur haar verpleegkunde was haar belangstelling en ondervinding in psigiatriese en paliatiewe sorg met sterwensbegeleiding en sy sal graag met pastoraat wil voortgaan in die bediening.
Kontakbesonderhede: 082 802 9814 / rosariesaaijman@gmail.com
Leandra Seyfferdt is in 2020 getroud met Callie. Sy is gebore op 4 November 1997. Sy slaag matriek aan die Hoërskool Florida aan die Wes-Rand in 2015 en verwerf ’n diploma (2018) en praktiese sertifikaat (2021) in pastorale narratiewe berading aan Coram Deo Sentrum, Constantiakruin-kampus. Hierdie kwalifikasies is geakkrediteer deur die Universiteit van Pretoria en wys ook waar haar bediening-inspirasie vandaan kom. Voor haar studies was sy ’n au pair en het jeugwerk gedoen. Leandra se vorming vind plaas aan Constantiakruin-gemeente, waar sy die afgelope ses jaar ’n voltydse jeugwerker is. Sy stel veral belang in jeug en gesinne, pastoraat en gemeenskapswerk.
Kontakbesonderhede: 079 244 1277 / leandra@constantiakruin.co.za
Na Colloquium Doctum
Daniël (Danie) Johannes Jacobs is getroud met Adrie en hulle het drie kinders – Jana, Altus en SD. Hy is gebore op 27 Desember 1969 en matrikuleer in 1987 aan die Hoërskool Wolmaransstad. Hy studeer BA Teologie aan UP in 1992 en voltooi sy BD in 1995. As student was hy ondervoorsitter van Huis Sonop se huiskomitee. Danie was sewe jaar voltyds in die kerklike struktuur betrokke. Hy werk tans as ’n lewensafrigter by ’n laerskool en spesialiseer ook in die “Clifton Strengthsfinder” profiel. Sewe jaar gelede was hy die stigter van ’n jeugsentrum in die middedorp van Rustenburg. Hy dien op die kerkraad van NG Proteapark, Rustenburg met die portefeulje Kleingroepe. Sy ervaring buite die kerkstruktuur het hom voorberei vir die nuwe seisoen van sy lewe. Hy kyk met vars oë en nuwe geesdrif na wat die kernbesigheid van ’n gemeente behoort te wees. Dit is belangrik dat kerk relevant en transformerend moet wees in ’n postmoderne konteks sonder om Bybelse waarhede oorboord te gooi.
Kontakbesonderhede: 082 499 2751 / daniejacobs72@gmail.com
Ignatius Thomas Rademeyer is op 23 Augustus 1980 gebore en matrikuleer aan die Hoërskool Piet Potgieter in Mokopane in 1998. Na ’n paar suksesvolle studiejare in stads- en streeksbeplanning, ’n jaar se werk in Londen en ’n jaar op Potchefstroom, waar hy BCom Korporatiewe Kommunikasie en Toerismebestuur studeer, word hy finaal bewus van sy roeping en begin sy teologiese studies aan UP. In 2009 en 2010 behaal hy sy BTh- en MDiv-grade. Sy skripsie handel oor “Water as toenemende skaars hulpbron en die Christenhuishouding as rolspeler in die respons daarop”. Ignatius se eerste gemeente was op Steynsrus waarna hy en sy gesin na Pretoria verhuis het. Hier bedien hy as gesinspredikant in die NG Gemeente Meyerspark. In 2015 bedank hy uit die bediening. In hierdie tyd ontstaan daar by hom ’n diep bewustheid van die kosbaarheid van goeie en gesonde huwelike en gesinsverhoudings. Hy begin daarom as ’n kliniese Imago-verhoudingsterapeut werk in Rustenburg. Hier was hy ook vir ses jaar deel van die bedieningspan van Rustenburg Gemeenskapskerk, ’n onafhanklike gemeente, waar hy weer sy passie vir die bediening herontdek het. Hy is getroud met Janeske en hulle het drie kinders. Terwyl hy sy colloquium doctum afgehandel het, het hy ook vir ses maande uitgehelp by NG Hulp en Hoop Gemeenskapskerk in Mokopane. Hy is lief vir alle aspekte van die bediening. Goeie en mooi verhoudings lê hom na aan die hart. Hy woon in Rustenburg en is beroepbaar.
Kontakbesonderhede: 071 675 5564 of igrademeyer@hotmail.com