Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Le Roux Schoeman | Hoe hou ’n mens die pole vas in ’n land van baie en min?


Die vreeslike ryk-geit van ryk en die vreeslike arm-geit van arm skeur ’n mens soms uitmekaar in dié land, skryf Le Roux Schoeman. Maar twee boeke deur sakejoernaliste verlig die spanning tussen daardie twee pole ietwat deur die Heilige Graal van kapitalisme (naamlik die oorspronklike sakegeleentheid) netjies te omraam en te praat met mense wat dit kan raaksien.

 

Dis weeluise. Sommer baie en min of meer oral.

G wys my foto’s op sy foon, selfs ’n kort videogreep. Ek Google. Rentokil se blog verskaf twee datapunte wat die erns van die saak tot my laat deurdring soos ’n miet in ’n ou matras:

Punt 1. “Bed bugs prefer human hosts, but they don’t only live in beds – bed bugs hide in gaps, voids, cracks, and crevices. If a credit card can fit in the gap, so can a bed bug. Punt 2. “Bed bugs survive by feeding on human blood. There haven’t been many documented diseases caused by bedbug bites but it’s still not pleasant.”

G lyk tegelyk moedig en moedeloos, verleë en heldhaftig. Hulle sukkel al ’n jaar lank tot wisselende mate met hierdie pes by dié skuiling wat nagenoeg 40 weerlose mense huisves. Maar rondom Kersfees het die probleem ratte verwissel, vertel hy. En nou is dit tyd vir drastiese ingryping.

My betrokkenheid by die skuiling is minimaal. Ek het, soos in ’n sprokie, jare gelede enkele broodkrummels deur die woud van onskuldige belangstelling gevolg en gewoon betrokke gebly ná ek ’n berig kom skryf het oor die werk wat hierdie nieregeringsorganisasie (NRO) onder haweloses doen. Die gebou is stokoud en wys elk van sy jare. Die span is moeg. Die weeluise wen. Nou vir die slegte nuus … Die organisasie hét nie geld vir oplossings nie. Die rieme is te dun gesny. Ek moet help met fondsinsameling, maar sukkel. Sukkel om vars geleenthede te identifiseer en energiek aan te gryp, weet nie hoe om ’n webtuiste te bou nie, kan nie die middelklas mobiliseer en goodwill loswikkel nie. Dra ek net nog tamheid deur die vuil kosyne? Steenkool na Newcastle?

Die NRO-nagmerrie: Goeie bedoelings, geen geld?

Die weeluis-situasie hierbo is gelukkig baie spesifiek, maar die dinamika van klein donasie- en subsidie-afhanklike NRO’s soos dié, wat sonder genoegsame fondse skielik onverwagse uitgawes die hoof moet bied, is ongelukkig meer algemeen. Twee faktore looi hierdie soort NRO’s behoorlik: Verouderende donateursbevolkings (ekstern) en digitale traagheid (intern). So, jou donateurs sterf en jou handelsmerk “verdwyn” in die digisfeer waar ander ondersteuningsoekers sterker meeding om dieselfde geld. “This isn’t life in the fast lane, it’s life in the oncoming traffic,” hoor ’n mens Terry Pratchett se stem.

Leesstof om geleenthede te verstaan

Soms is ’n goeie teengif vir langdurige blootstelling aan die bankstate van edele maar sukkelende instansies ’n stewige dubbel-dop kapitalisme … in die vorm van twee boeke. Bruce Whitfield se The upside of down (Pan Macmillan, 2020) het die subtitel How chaos and uncertainty breed opportunity in South Africa en bevat onder meer ’n hoofstuk getiteld “Learning from billionaires” waar dié bekende radiojoernalis sakelui soos Christo Wiese, Raymond Ackerman, Laurie Dippenaar, Brian Joffe en ander oor hulle sukses uitvra. Navorsing wys miljardêrs neig om drie primêre karaktereienskappe te toon (neem van verstandige waagkanse, fokus en langtermyn-denke), verduidelik Whitfield. Maar daar is meer aan die storie. “The truth is that business is all about opportunistic moves,” vertel Christo Wiese aan die skrywer. “It’s all opportunistically driven, not blueprint-driven … If someone tells you they knew 50 years ago that one day they would be a group with more than 20 000 shops spread all over the world, in 30-plus countries employing 300 000 people, with different languages, different cultures, who could foresee this?” wil Wiese weet. Wat Whitfield ten slotte uit sy gesprekke met sowat ’n dosyn van Suid-Afrika se rykste stigters van groot maatskappye leer, lees ons op bl 112: “They had several things in common. They were by nature optimists. They were incredibly smart. They were well versed in the art of decision-making. They were able to park emotion when it came to making big calls. They had a growth mindset, and possessed an uncanny ability to look through political and social noise and focus on the task at hand.” Wat die leser self moet snap, is natuurlik dat dit wat Wiese Wiese maak, is dat hy presies geweet het wat “the task at hand” is.

 

Die tweede boek onder in my glas is Capitec – Stryd met die grotes (Tafelberg, 2024), waarin die sakejoernalis TJ Strydom die storie vertel van ’n klein groep érnstig entrepreneuriese mense wat binne sowat twee dekades ’n netwerk van mikrolenerye tot ’n bank met meer as 20 miljoen kliënte omskep het. Capitec het in sy bestaan van 23 jaar sowat R300 miljard se welvaart vir aandeelhouers geskep, verduidelik Strydom in dié puik boek. Die kicker met dié soort verhale van welvaartskeppers is in hierdie geval die onverbeterlike sin op bl 192 wat iets binne selfs die mins materialisties ingesteldes onder ons sal laat kriewel: “’n Belegging van R1 000 in Capitec toe hy in 2002 noteer het, is teen Julie 2024 ’n mooi R2 miljoen werd.”

Maar die Capitec-verhaal is uiteraard nie net een van enkeles wat ryk geword het nie. Daar was inderdaad ’n regstellende geleentheid, of vet kans op disruption, nes jy verkies om dit te beskou. “Banke het mense op grond van hulle inkomste behandel, word Michiel le Roux (een van die bank se stigters) op bl 62 aangehaal. “Mense met lae inkomste het swak behandeling gekry.” Strydom brei hierop uit: “In Suid-Afrika, met sy ongelyke verdeling van inkomste tussen wit en swart, het dit beteken dat bankdienste – al was dit teen die negentigerjare dalk nie meer doelbewus nie – ook ’n rassedimensie gehad.” Strydom vertel in detail oor die bestek van altesaam 239 bladsye en met behulp van 469 bronverwysings by 17 hoofstukke presies hóé Capitec daarin kon slaag om dikwels soveel beter as die groot, gevestigde banke waarna die subtitel van die boek verwys aan die verbruiker – “ongebank” of reeds by ’n bank – se sug na eenvoud, digitale diens en laer bankkoste kon voldoen.

By Strydom, nes by Whitfield, let ’n mens ook die behoefte op om iets van die stoffasie van dié soort entrepreneurs te verstaan en weer te gee aan die leser. Vir dekades kry die Capitec-base dit reg om grootliks uit die kollig te bly, vertel Strydom. In die 2020’s is dit steeds hoe hulle dit verkies. “Oor die besigheid wat hulle tot stand gebring het sal hulle praat maar op die rekord oor niks persoonliks nie,” skryf Strydom op bl 34. Blaai na bl 213 waar die skrywer in ’n nawoord besin oor die karakters in die boek en hy tel weer die tema op wanneer hy die stigters beskryf behorende tot ’n generasie ouer as hy. “Afrikaanse ouens wat dinge doen soos braai en kakpraat en wyn drink en kerk toe gaan en F1 kyk – en wanneer hulle iets bou moet dit kan werk as ’n klein ding of as ’n moerse ding. En daar staan Capitec vandag.”

Als in stereo

Daar is armoede en rykdom – altwee lyk meestal eindeloos in ons land. En daar is weeluise hier by die skuiling wat slapendes verpes en uithou in skrefies so dun soos ’n kredietkaart. G vat my na die buitetrap. Van die matrasse lê op die afdak in die son en bak omdat die hitte glo die bed bugs laat vrek. G lyk weer tegelyk trots en benoud en gekrenk en Stoïsyns. “Nou is die probleem net, die mense uit die omgewing het die matrasse van die dak af begin steel.”

Snags speel elke storie in stereo. Iewers klim rente, iewers is weeluise op maneuvers, iewers lê ’n amateur-fondswerwer en besef hy het die vlerkspan van ’n visarend nodig om die koue pole van Als en Niks vas te hou.


  • Die skrywer is die redakteur van Kerkbode en mede-vervaardiger van die dokumentêr Elke tree ’n storie

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.