Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Al gaan hulle tans deur diep waters, weet sy dat Hy alles vir hulle ten goede sal laat meewerk vertel die sendeling en skrywer, Michele Potgieter, hier saam met haar dogter Mari-Alena in die hospitaal waar sy chemoterapie ontvang. Foto's: Verskaf

Sendeling oor dogter se maagkanker: ‘God sal deur haar getuienis verheerlik word’


“Ek het net gehuil en gehuil,” vertel die sendeling en skrywer Michele Potgieter oor die bitter nuus wat hulle in Desember 2024 gekry het: Haar pragtige 23-jarige dogter Mari-Alena se maagwand was so oortrek met kankerselle dat die dokters gesê het sy het nie meer lank om te leef nie.

Michele lei ’n gemeente in Reni, ’n hawestad in Oekraïne. Sy noem dié plek huis, sedert sy en haar man Ockert byna 30 jaar gelede as sendelinge daarheen gegaan het. Ockert is in 2021 aan komplikasies ná Covid-19 oorlede, terwyl hy en Michele in Suid-Afrika was. Destyds was daar reeds sprake van oorlog tussen Oekraïne en Rusland, maar Michele het teruggegaan. (Koop haar boek, Sonneblomme en sneeu in Oekraïne HIER.)

Sy glo vas dit is waar die Here haar wil hê (kyk gerus onder: sy het haar getuienis gedeel op LiG se video-reeks, God se krag in my krisis).

’n Seldsame maar aggressiewe soort kanker

Michele was in Suid-Afrika om haar visum te hernu toe Mari-Alena ernstig siek geword en hulle die nuus gekry het dat sy Burkitt se limfoon het. Dis ’n seldsame maar aggressiewe soort kanker, wat in haar maag begin het. Die dokter het hulle ingelig dat die kanker reeds so ver gevorder is (fase 4) dat daar slegs ’n vyf persent-kans is dat sy dit sal oorleef. 

Die CT-skandering het uitgewys dat haar hele maagwand met kankerselle oortrek was, en sy het geweldige pyn verduur. Michele sê dit was vir haar báie erg om haar dogter so te sien ly. “Ek het regtig gedink ek gaan haar verloor, en ek kon nie verstaan hoe dit kon gebeur nie.”

Mari-Alena ontvang chemoterapie by ’n staatshospitaal.

Die aand ná die diagnose het sy niks geslaap nie; sy het die hele nag omgehuil. Michele vertel sy kon nie verstaan hoekom haar dogter dit alles moes deurmaak nie. Maar die volgende oggend kom dié woorde na haar toe aan: “If not for my glory.”

Sy hou vas aan die Here

Michele sê van daardie oomblik af het sy geweet die Here sal Mari-Alena genees. Trouens, sy glo haar dogter is reeds genees. “Ek glo dat Jesus reeds vir al die lyding en siekte aan die kruis gesterf het, dat dit volbring is.” 

Sy hou vas aan die Here se belofte, en vertel: “Die Here het net vir my gesê sy sal nie hierdeur gaan as Hy nie deur haar genesing verheerlik word nie. Deur haar getuienis.”

Hulle kan reeds sien dat die gewas om haar maag begin krimp, dermate dat sy kon huis toe gaan en kos inneem.

Tydens hierdie moeilike tyd was haar dogter se geloof vir Michele wonderlik. Sy vertel hoe Mari-Alena, ’n kleuterskoolonderwyseres op Stellenbosch, voor sy siek geword het met ’n waterverfskildery begin het. Dis van ’n vrou wat haar haar hande na die soom van Jesus se kleed uitsteek. 

En terwyl Mari-Alena in die hospitaal was, het sy verder daaraan gewerk. Sy het vir haar ma gesê: “Mamma, ek hou net aan Jesus vas. Ek is nie bang nie, ek weet dat Hy dokters gebruik, maar dit is Hy wat al daai kankerselle laat doodgaan.” 

Michele en Mari-Alena in Oekraïne waar die gesin al vir meer as 20 jaar woon. Mari-Alena woon deesdae op Stellenbosch waar sy werk as kleuterskoolonderwyser.

Soos die stukkies in ’n legkaart

Dit is vir Michele asof God vooraf reeds alles in hul plek geplaas het, soos die stukkies in ’n legkaart. Die regte mense was op die regte plek, nog voordat hulle daarvoor gevra het. 

So was sy betyds terug uit Oekraïne om haar dogter te kon ondersteun. Hulle het nie ’n mediese fonds óf die geld vir ’n private hospitaal nie, maar God het só voorsien dat Mari-Alena na een kon gaan toe sy so siek geword het. 

Tans ontvang Mari-Alena ’n tweede ronde chemoterapie by ’n staatshospitaal. Hieroor ervaar Michele slegs vrede. “Ek kan maar net sê die Here is getrou. Hy is altyd goed, ongeag wat ons deurmaak. Al gaan ons deur diep waters, weet ek dat Hy alles vir ons ten goede sal laat meewerk. Dat Hy daardeur verheerlik sal word. 

“En dit is al wat ek vra: dat Hy in alles en deur alles verheerlik word.”

  • Die storie verskyn ook op Kerkbode se susterpublikasie, LiG, se webblad.
No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.