Hierdie Forumbydrae is geskryf en regstreeks deur 'n Kerkbode-blogger opgelaai.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Nielbert Mostert is met 40% sig gebore. Hy het onlangs sy BTh Honneurs-skripsie oor die Godsbeeld van die Gestremde voltooi by Universiteit Vrystaat en is tans besig met sy MTh-graad. “Omdat ek as kind daarmee gebore is, het ek nie regtig besef dat ek dinge op ’n ander manier raaksien nie,” vertel hy vir Mariëtte Odendaal van Getuienisaksie.
Hier volg ’n uittreksel uit hulle gesprek:
“Omdat ek as kind daarmee gebore is, het ek nie regtig besef dat ek dinge op ’n ander manier raaksien nie. Dit was nie asof ek iets verloor het nie,” vertel Nielbert wat gebore is as een van ’n drieling. Toe hy en sy broer en suster vyf jaar oud was, het die gesin vanaf Johannesburg na Bloemfontein verhuis waar hy skoolgegaan en aan die Hoërskool Sentraal gematrikuleer het.
Hy vertel verder: “Die feit dat ons drie kinders was en my ouers en familie my nie anders as die ander twee behandel het nie, het my baie gehelp om myself as normaal te beskou. Dit het my geleer om nooit my gestremdheid as ’n verskoning te gebruik nie, maar om my beste te lewer in alles wat ek doen. My broer en suster het my ook baie gehelp deur my aan te moedig en te druk om elke dag by te bly.
“Omdat dit my gewoonlik langer geneem het om sekere take te doen en te voltooi, het dit my vasberadenheid en deursettingsvermoë geleer. Ek dink dit is as gevolg hiervan dat ek ook geleer het om baie geduldig te wees.
“Elke uitdaging het ’n nuwe en unieke oplossing nodig gehad. Dit het my geleer om aanpasbaar te wees, asook om elke uitdaging gefokus aan te pak en opnuut kreatief na oplossings te soek.”
- Die volledige artikel het op 30 Januarie 2025 in Vrypos verskyn. Klik op die webskakel om meer te lees oor Nielbert se belewenis van die kampuslewe.
