ELKE BABA SE STORIE IS ’N WONDERWERK, MAAR SOMMIGES SE STORIE EINDIG BYNA NOG VOOR DIT BEGIN HET. DIE HERE VOORSIEN GENADIGLIK MENSE WAT GENOEG OMGEE OM HIERDIE ‘VONDELINGBABAS’ SE TOEKOMSRIGTING TE VERANDER. DIT IS SKUILKRANS NG GEMEENTE SE VOORREG OM MET PRECIOUS BLESSINGS, EEN VAN DIÉ VERSORGERS, HANDE TE KAN VAT.
Die storie van Baba Lily
Dit was sekerlik engele wat Baba Lily se stemmetjie hoorbaar en haar bewegings sigbaar gemaak het op presies die oomblik toe van ons lidmate, Nelia en Isak Lombard, naby haar verbygeloop het. Hulle was aan die stap naby hulle huis in Pretoria toe hulle haar in ’n rugsak onder ’n brug gekry het. Isak vertel: “Ek en my vrou het einde laasjaar langs die Moreletaspruit gestap toe ons ’n geluid hoor soos dié van ’n duif. Toe sien ons ’n rugsak. Iets binne-in die sak het geroer en geluide gemaak. Ons maak die ritssluiter van die sak oop en sien toe dis ’n babatjie – te mooi”.
Sy was een dag oud, met net ’n t-hemp aan en in ’n kombersie toegedraai. Geen kontakbesonderhede nie. Hulle het haar huis toe gevat en net daarna bars ’n donderstorm los.
Ons gemeente is al vir vier jaar betrokke by Precious Blessings, ’n huis van veiligheid vir vondelingbaba’s waarvan Heidi Versfeld die huisma is. Toe Heidi van die baba hoor, het sy – soos dikwels vantevore – alles gelos en haar saam met die nooddienste na die hospitaal gehaas waar sy die nag met die pasgebore dogtertjie in haar arms deurgebring het. Die baba is daarna by ’n plek van veiligheid geplaas, waar die huismamma mediese agtergrond het omdat haar longe nog gemonitor moes word. In Maart is Lily, haar naam nou, by haar aanneemma plaas. Lily se nuwe mamma skryf: “As much as I am a blessing to her, she is also a blessing to me. God has given me a second chance to have a baby girl that I have been longing for since 2012. God is good!”
Lees ook: Skuilkrans NG Gemeente vertel van ‘sendingveld op ons sypaadjie’
Lily is vandag ’n baie gelukkige, gesonde babatjie met ’n ooglopende lewenslus en borrelende geaardheid. Hierdie gemeentevondeling is steeds op ons gemeente se gebedslys en sy maak ons opnuut bewus van die reusekrisis in Suid-Afrika van babas wat versaak word.

Meer oor die pandemie van weggooibabas in Suid-Afrika
Kindermishandeling en -versaking word toenemend erger. ’n Organisasie soos Baby Savers SA beraam daar word jaarliks meer as 10 000 babas alleen agtergelaat in Suid-Afrika. Slegs ’n derde van hierdie babas oorleef. Die meeste word aan ernstige emosionele en fisiese mishandeling blootgestel.
Die kritiese paar maande tussen die tyd van geboorte en hulle uiteindelike plasing kan ses tot nege maande of langer duur. ’n Plek van veiligheid is ’n geregistreerde skuiling en plek van versorging vir vondelingbabas en -kinders totdat hulle deur ’n maatskaplike werker geplaas word. Die babas het soms groot mediese uitdagings om te oorkom.
Sonder die hulp van skuilings en geloofsgemeenskappe het hierdie kinders ’n baie klein kans op oorlewing en goeie fisiese en emosionele ontwikkeling.

Meer oor Precious Blessings – ’n plek van veiligheid
Die naam Precious Blessings verwys enersyds na Heidi en haar man, George, se infertiliteitsreis asook die feit dat die Here hulle met drie biologiese dogters en vyf aangenome kinders geseën het.
Die huis is amptelik geopen in 2012 na hulle gesin uit Ghana na Suid-Afrika teruggekeer het. Hulle drie volwasse dogters is nog by hulle in die huis en is hulle grootste ondersteuning gedurende naweke en nagskof.
Hulle het op die oomblik ses babas en peuters wat vondelingbabas was. Al die babas slaap in die hoofslaapkamer sodat hulle nie weer alleen hoef te wees nie, maar veilig en geborge kan voel.
Heidi verduidelik dat elke baba met sy eie bagasie kom: “Sommige babas daag op in ’n kartondoos saam met ’n kombersie, of in ’n swartsak met niks, terwyl sommige net so op ’n ashoop gevind is, waar rotte al begin vreet het aan die gesiggie. Almal kom egter ook met ’n onsigbare babasak – daardie woorde wat dalk onwetend of in haat oor hulle uitgespreek is, woorde wat leuens bevat en diep letsels laat. Elke mens wat ons babas vashou en vir hulle bid, wat hulle daaraan herinner dat hulle geliefd is en spesiaal gevorm is deur die Vader se hand, is deel van daardie lyfie se genesingsproses.”
Sy vertel hulle is baie afhanklik van vrywilligers om bedags die babas te help versorg terwyl die personeel dagtake verrig. Daar is maklik 8-10 bondels wasgoed per dag. Elke baba benodig gemiddeld agt bottels en ses doeke daagliks. Enigeen van hoërskoolleerders en ma’s tot afgetredenes uit enige professie is welkom om ’n uur of meer elke week te kom help op ’n tyd wat hulle pas. Oupas en oumas wat nuttig wil voel of verlang na hulle kleinkinders is veral welkom!
- Luister gerus HIER na ’n podsending met Heidi.
Deel van ’n netwerk
Precious Blessings is een van verskeie huise van veiligheid wat deel vorm van die His Children Foundation South Africa. Dié groep het in 2019 ontstaan toe ’n paar bestaande huise van veiligheid die behoefte gesien het om ’n netwerk te vorm wat mekaar kan ondersteun om ’n groter impak te maak. Hulle werk ook baie nou saam met verskeie hulporganisasies soos Departement Maatskaplike Dienste, die CMR, Child Welfare Tshwane en ander.
Só kan jy betrokke raak
Menslike aanraking en hartklop is baie nodig vir babas se fisiese en emosionele ontwikkeling. Koestering help ook met die aanpassing later by pleeg- of aanneemouers.
- Vind uit waar daar ’n plek van veiligheid vir babas in jou omgewing is en meld aan as ondersteuner.
- Skenk gebruikte en nuwe bababenodigdhede.
- Help om donasies te sorteer. Volwasse klere en huisraad word weer geskenk aan gesinne in nood.
- Die grootste nood is aan liefdevolle hande wat bedags kan help vashou, bottel gee en aan die slaap sus. Geen ondervinding is nodig nie.
- Daar is selfs die geleentheid om tuis vir die babas te kook, vries en af te laai vir die babas wat begin eet. Dit is baie lekkerder en gesonder as gekoopte babakos.
- Ouer kinders het iemand nodig om met hulle te speel en stories te lees.
- Bid vir elke kind en versorger.
Annabelle Lombard is die onderlingesorgbestuurder by die NG Gemeente Skuilkrans