Terwyl die wêreld met belangstelling gebeure in Rome volg rondom die verkiesing van ’n nuwe pous, het die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) sy stem gevoeg by die wat vanuit Suid-Afrika medelye betuig met die afsterwe van pous Franciskus op 21 April 2025.
Gebore as Jorge Mario Bergoglio het hy 12 jaar terug die eerste pous geword om vanuit die suidelike halfrond verkies te word. Hy is vroeër vanjaar in die hospitaal opgeneem is ná komplikasies weens dubbele longontsteking. Sy laaste openbare verskyning was op Paassondag waar hy vanaf die bekende balkon by die St. Petrusplein in die Vatikaan in ’n seëngroet aan die stad en die wêreld gevra het vir ‘vryheid van denke en verdraagsaamheid’.
Die 88-jarige pous is vroeg die volgende oggend oorlede. Die Vatikaan het intussen bevestig dat sy begrafnis Saterdag om 10:00 in die St. Petruskerk sal plaasvind. Luister ook na die onderhoud met kerksakejoernalis en voormalige Kerkbode-redakteur Neels Jackson op RSG onder:
In ’n amptelike verklaring (volledige verklaring onderaan) het die NG Kerk vandeesweek hul simpatie oorgedra aan die Rooms-Katolieke Kerk, sowel as aan die Katolieke gemeenskap in Suid-Afrika en wêreldwyd.
In hulle huldeblyk spreek NG Kerk spesifieke waardering uit vir sy toewyding en bewusmaking van “diens aan die armes, die gemarginaliseerdes en die skepping self”. Hulle noem dat hy “nie geskroom het om wêreldleiers en magsentrums aan te spreek nie – dikwels teen die stroom in.
“Sy stem was hoorbaar by die Verenigde Nasies, die COP-klimaatberade, en in geskrifte soos Laudate Deum, waar hy politieke onverskilligheid onomwonde aanspreek. Sy optrede herinner aan die profete van die Ou Testament – Elia, Amos en Jesaja – wat met die gesag van God se Woord teen strukturele onreg getuig het,” lui die verklaring.
Al bestaan daar verskille tussen gereformeerde gelowiges en die Katolieke Kerk “in terme van kerkstruktuur, sakramentele leer en sekere dogmatiese kwessies”, wil die kerk sy “profetiese stem” erken “wat diep weerklank gevind het – selfs buite die grense van die Rooms-Katolieke Kerk”.
Die NG Kerk het spesifiek verwys na Franciskus se ensikliek Laudato Si’ (hierdie boek het in 2015 verskyn), waarin hy die wêreld opnuut herinner het aan die belang van verantwoordelike rentmeesterskap van die aarde. Die kerk lig uit dat hierdie perspektief sterk ooreenstem met een van die gereformeerde tradisie se kernbeginsels naamlik dat die skepping ’n gawe van God is wat met “respek, verantwoordelikheid en liefde ontvang moet word”.
Die verklaring sluit af dat die kerk vir Franciskus eer vir sy morele integriteit en sy strewe om die stem van Christus in ’n verdeelde wêreld te laat weerklink. Volgens die NG Kerk het hy “stemloses ’n stem” probeer gee en gelowiges daaraan herinner dat die evangelie nie net persoonlike redding behels nie, maar ook die herstel van God se hele skepping.
Die NG Kerk is een van verskeie kerke en geloofsgemeenskappe in Suid-Afrika wat hulde gebring het aan Pous Franciskus ná sy dood.
Hier volg ’n paar aanhalings vanuit nog verklarings:
Anglikaanse aartsbiskop Thabo Makgoba: “For many around the world, including people of all faiths and of none, the distinguishing characteristic of his papacy was how close they felt to him. The last globally-recognised moral voice in our confused times, he gave us clear guidance in a complex and polarised political world.”
President Cyril Ramaphosa: “As the leader of the Church and a global figurehead, Pope Francis advanced a world view of inclusion, equality and care for marginalised individuals and groups, as well as responsible and sustainable custody of the natural environment. His extraordinary life story and ascendancy to the Holy See unfolded with humility and a profound commitment to making the Church and the world a better place for all of humanity.”
Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK): “We remember Pope Francis’ commitment to interfaith dialogue and his open- minded approach to fostering unity among diverse religious communities, where in 2019, the Holy Father and the Grand Imam of Al-Azhar, Ahmed el-Tayeb, signed the Document on Human Fraternity for World Peace and Living Together in Abu Dhabi. This declaration condemned violence and extremism, affirmed the sanctity of life, and called for the protection of religious freedom and human dignity. This document dissolved the belief that God’s name and teachings should be interpreted in acts of war and oppression.”
- Die berig is aangepas na publikasie.
Volledige verklaring vanaf die NG Kerk:
PousFrancis_LaasteEerbetoon_Afrikaans