Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Voorbereiding is soos ’n lugkussing in ’n motor, jy gebruik dit slegs een keer maar as jy dit dán nie het nie, betaal jy ’n baie duur prys, verduidelik Coenie de Villiers oor die kuns van onderhoudvoering. Foto: Robert Cable

Coenie se moets en moenies: Hoe om ’n onderhoudende onderhoud te voer


Coenie de Villiers staan onlangs en deel op uitnodiging enkele wenke aan ’n groep joernaliste wat meer wil leer oor die kuns van gemaklik dog insiggewende onderhoudvoering. Coenie se kos. Sy verstekposisie, spot hy self, is “neutral nice”. Nie so aanvallend soos ’n Stephen Sackur van HARDtalk-faam of so bloot ’n telegeniese aanbieder wat vrae aflees en knik vir antwoorde nie.

As veelsydige kunstenaar, wat bykans 20 jaar lank aanbieder van die joernaalprogram Kwêla was, is De Villiers steeds beskeie oor sy talent as onderhoudvoerder maar sy joernalistieke ervaring is onmiskenbaar en hy was ruimgeestig genoeg om dit ’n dag of wat nadat Mediavryheidsdag in Suid-Afrika gevier is, by Bybel-Media se kantoor op Wellington te kom deel.

Ná onderhoude met ’n duiselingwekkende verskeidenheid van mense (van Mimi Coertse en PG du Plessis tot Daniel Day-Lewis en Marike de Klerk), is die uitdaging natuurlik om vir die leerling enkele konkrete wenke te probeer oordra:

  • Moenie aan jou gesig vat terwyl jy praat nie (moeiliker as wat ’n mens besef)
  • Behou oogkontak selfs al voel dit “weird” (nog moeiliker!)
  • Vermy bont klere (blou, in TV-taal, is “geloofwaardig”)

Dit is als op De Villiers se lysie. Maar een van die groot Coenie-gebooie is iets wat hy dan, verrassend, ietwat versluier tydens die onderhoud, voorbereiding. “(Voorbereiding) is soos ’n lugkussing in ’n motor, jy gebruik dit slegs een keer maar as jy dit dán nie het nie, betaal jy ’n baie duur prys,” verduidelik hy. Sy voorbereiding is omvattend, maar word gebalanseer met ’n stip teenwoordigheid wanneer die kameras begin rol.

Coenie de Villiers deel insigte oor die kuns van die onderhoud met Bybel-Media-werknemers by Boekhuis op Wellington. Foto: Heléne Meissenheimer

Voor De Villiers in die Bybel-Mediakantoor, sit daar ’n klein inhoudspan verbonde aan publikasies soos LiG en Kerkbode en die Wes-Kaapse Sinode se kommunikasiespan. En daar staan ’n opwip-ateljeetjie waarop hulle later proeflopies onder De Villiers se leiding sal doen. In die gehoor is, breedweg, middelloopbaan-mediamense. ’n Joernalis wat toenemend podsendings moet behartig, ’n aanlyn redakteur wat sukses as ’n televisie-aanbieder geproe het en daarop wil voortbou, asook enkele projekbestuurders wat hulle eie kreatiwiteit as inhoudskeppers op YouTube laat geld. Mense wat elk op hulle eie manier deur die ewig-wisselende media-winde tot in ’n aanbiederstoel van een of ander aard gewaai is en hoop om iets ryker te word deur te luister na meneer Neutral Nice, met sy aandrang op deeglike agtergrondkennis, oopheid vir die oomblik van gesprek en die noodsaak van intense nuuskierigheid.

Wanneer De Villiers verwys na “warm en eg” as ’n nastreefbare doelwit vir enige goeie onderhoud, resoneer dit by die groepie luisteraars wat oënskynlik dieselfde basiese ding op hulle platforms wil bereik.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top