Tussen die vyfde en agtste eeu was die wyse waarop die Nagmaal in Rome gevier is die Fermentum genoem. Die naam Fermentum verwys waarskynlik na suurdeeg en fermentasie; dat die Nagmaal suurdeeg is vir gelowiges wat die hele Christelike lewe deurtrek. Die koppeling tussen Nagmaal en navolging wat ingebed sit in hierdie term, naamlik dat die liturgie van Sondag oorspoel na Maandag en so die liturgie van die lewe deursuur, is mooi. Die veronderstelling is – soos ons aanbid, só leef ons.
Behalwe vir hierdie noue verband tussen liturgie en lewe, is daar ’n verdere onlosmaaklike verband wat in die vorm van die viering van die Fermentum opgesluit is. Die Fermentum het so rofweg behels dat, nadat die biskop van Rome (pous) die hostie (brood) in die Sint Petruskerk ingeseën het, akoliete (altaarknape) met stukke van die brood na die ander gemeentes in die stad gehardloop het. Daar was ongeveer vyf-en-twintig gemeentes. Aangekom by die ander gemeente het die plaaslike priester die stuk brood geneem en dit gemeng in die wyn in die Nagmaalsbeker van die betrokke gemeente. Daardie beker met brood in die wyn is dan in die gemeente se Nagmaalviering gebruik.
LEES OOK: Waarom weerspieël eredienste steeds nie Suid-Afrika se groot diversiteit nie?
Hoekom is dit gedoen? Want die veronderstelling is – soos ons glo, so aanbid ons. Dit gaan hier oor die hegte verband tussen dit wat ons glo en bely oor die kerk en kerkeenheid en hoe ons aansit by die tafel van die Here as één kerk. Die een moet die ander een weerspieël. Die eenheid van die kerk is gesien as ’n ononderhandelbare belydenis en die tafel van die Here moes dít duidelik wys.
Die Nagmaal is deel van die suurdeeg van die liturgie wat deur ons lewe trek sodat ons self ook Nagmaalsbrood vir die wêreld word. Daar is egter meer. Ons sien dit in hóé die Fermentum gevier is. Die Fermentum wou ook die onlosmaaklike eenheid tussen die vyf-en-twintig gemeentes uitdruk. Ja, daar is wel vyf-en-twintig gemeentes, maar hulle is deel van één kerk.
LEES OOK: Die ABC van Diakonaat: Gelowiges dink nuut oor kerk se werk
Een van die kerninhoude van ons geloof het te make met die kerk. Ons bely “’n heilige algemene kerk” (12 Artikels); ons bely “een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels” (Nicéa); en Gereformeerdes wêreldwyd bely ook “dat die eenheid van die kerk van Jesus Christus daarom gawe én opdrag is; dat dit ’n samebindende krag is deur die werking van Gods Gees, maar terselfdertyd ’n werklikheid is wat nagejaag en gesoek moet word en waartoe die volk van God voortdurend opgebou moet word; dat hierdie eenheid sigbaar moet word sodat die wêreld kan glo; dat geskeidenheid, vyandskap en haat tussen mense en mensegroepe sonde is wat reeds deur Christus oorwin is en dat alles wat die eenheid mag bedreig, gevolglik geen plek in die kerk van Christus mag hê nie, maar bestry moet word” (Belydenis van Belhar).
LEES OOK: ‘Goedkoop versoening rem eenheidsgesprek tussen VGK en NGK’
Soms sit gelowiges wat dieselfde geloofsinhoude bely, en daarom een kerk behoort te wees, nie om dieselfde tafel nie. Redes wat aangevoer word vir aparte vieringe is dan dikwels nie teologies van aard nie. En is soms dit die einste redes wat kerkhereniging rem. Daar word bewustelik weggeskram van geloof, teologie en ekklesiologie (die leer oor die kerk) en praktiese reëlings word aangevoer – soos taal (ons wil net en uitsluitlik in Afrikaans aanbid); of kultuur (voorkeure gegewe musiek en dies meer) of die afstand (om oor die treinspoor te ry is lewensgevaarlik).
Wanneer ek as NG lidmaat nie saam met VG lidmate as één kerk by die tafel van die lewende Here sit nie, maar my broodjie net saam met ander wit Afrikaanse NG mense kou, is dit inderdaad makliker gegewe taal en kultuur. Toegegee. Ek is egter ook in daardie oomblik telkens besig om ’n oordeel oor myself te kou solank as wat ’n onbybelse sondige geskeidenheid gegrond op ras eerder as belydenis voortduur en ek dus nie die liturgie vier soos wat ek glo en bely nie (dit kom al van 1857 af aan!). Wat inhoud betref, glo en bely ek eenheid, maar wat vorm betref vier ek geskeidenheid. Die tegniese teologiese term hiervoor is kettery. Natuurlik was en is daar soveel pogings om kerkhereniging te bewerk. Daar is helde in ons kerk in hierdie verband. En dit bly ’n ingewikkelde saak.
LEES OOK: Is unity possible between Uniting Reformed Church in SA and Dutch Reformed Church
Hoe dit ook al sy, wanneer ons na die viering van die Fermentum kyk en dat wát ons glo ’n impak het op hóé ons vier en hóé ons vier ’n impak het op hoe ons leef, dan bly die skrif in vetdruk aan die muur vir my as belydende NG lidmaat. My Nagmaalviering kan kreatief en mooi wees met vioolmusiek en kerse en pragtige simboliek, maar wanneer liturgie en ekklesiologie saam gedink word, dan berus my viering op dwaalleer en wonder ek of die liturgiese suurdeeg van Sondag eintlik al voor Maandagoggend verslaan.
Hoe die praktyk op die oomblik daar uitsien, is nie hoe dit hoef te wees nie. In Matteus 13 sê Jesus: “Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat ’n vrou geneem en in drie saton (ongeveer 40 liter) koringmeel ingewerk het, totdat dit heeltemal deursuur is.” Tafels wat op só ʼn wyse gedek word dat dit wat oor die eenheid van die kerk bely in hóé daar geëet beliggaam word, maak van die eters suurdeeg. Die praktiese mense wat respek het vir taal en kultuur sal weerstand hierteen bied. Daardie soort teenstand is nie nuut nie. Die Nuwe-Testamentikus Richard Karris skryf met rede: “Jesus was killed for the way he ate.”
Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.