Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

OPINIE: Waarom weerspieël eredienste steeds nie Suid-Afrika se groot diversiteit nie?


In ’n land vol rassediversiteit, staan die NG Kerk uit, skryf Cas Wepener.

 

a-na-chro-nis-me s.nw. 1. gebeurtenis geplaas in ’n tyd toe dit onmoontlik was: As ’n Voortrekker van 1838 ’n polshorlosie dra of na die radio sit en luister in ’n toneelstuk, sou die stuk twee anachronismes bevat 2. iemand/iets wat chronologies uit sy/haar plek is. Ou oom Gert is vandag werklik ’n anachronisme (HAT 6de uitgawe).

LEES OOK | Cas Wepener: Die gif in vergifnis en wrede vrede

Ek kan my goed verbeel hoe die erediens moes gelyk het toe ek in die 70’s gedoop is – ’n Moederkerk, ’n orrel, ’n preek, ’n formulier, ’n lang dooprok. En natuurlik ’n skare witmense. Op daardie betrokke Sondagoggend sou die vierings van die Presbiteriane, Lutherane en Anglikane en almal wat iewers in ons kleinburgerlike voorstedelike bestaan hulle geloof gevier het, rofweg soos ons viering gelyk het. Witter as sneeu. Dit was 1972. Dis hoe dit was. Dit was ook in pas met die wet.

Die Groepsgebiedewet het in 1991 reeds gegaan. Demokrasie het knap daarna gekom. En meer as ’n halfeeu na my doop is ek steeds NG. Ek beleef baie NG vierings. Soms lei ek die diens en preek ek. Ek gee selfs vir studente klas oor eredienste en prediking. En omdat hulle uit verskillende kerke kom, probeer ek om gereeld in hulle gemeentes ’n draai te maak.

LEES OOK: Nadia Marais | ’n Bonhoeffer-oomblik?

Wie is die studente en hoe lyk die eredienste waar hulle aanbid? Stel dit so, in die departement by ons universiteit waarvan ek ’n lid is, is ons tien kollegas. Ek is een van twee witmense in die departement. Die diversiteit van ons studente is vergelykbaar met dié van ons departement. En ons departement en lesinglokale se samestelling is so rofweg in pas met die demografie van ons land, oftewel ten minste met die demografie van die Wes-Kaap. En sodoende is dit ook in pas met die daaglikse realiteit van nogal baie Suid-Afrikaners.

Die afgelope Paastyd het ek verskeie eredienste bywoon, NG dienste en ander. Die samestelling van ’n Paaswaakdiens in ’n voorstedelike Katolieke kerk wat ek bygewoon het, was vergelykbaar met ons departement se diversiteit, behalwe dat die ouderdomme letterlik gewissel het van een tot een honderd. Ek het ’n program in ’n Metodiste kerk in ’n buurdorp aangebied … ditto. Die Charismatiese kerke waar ek soms inloer, het nie altyd die diversiteit gegewe generasies nie, maar wat rassediversiteit aanbetref doen hulle nie sleg nie. Die teologiese inhoud van die NG dienste wat ek beleef, is puik. Die samestelling van wie daar was, is minder divers as by my doopdiens in die 70’s, want in daardie diens was daar ook kinders en tieners.

LEES OOK | Christo van der Merwe: Die groot insig wat klein woordjies vir sleutelfiguur in Afrikaanse Bybelvertaling gebring het

Die drie swaeltjies van die Katolieke, Metodiste en Charismatiese gemeentes wat ek hier noem, maak beslis nie ’n somer nie en die denkfout van veralgemening lê om die hoek en loer vir my. Hoe dit ook al sy, ek besef al hoe meer dat ek en my geliefde NG Kerk anachronismes in Suid-Afrika is. Die hele land leef rassediversiteit. Van Maandag tot Sondag is groot dele van ons land se bevolking saam – in werksituasies, in skole, by universiteite, in winkels. Die nalatenskap van die Groepsgebiedewet moet ’n mens toegee maak dit moeilik vir mense om oor naweke mekaar te ontmoet. Nietemin, toe ons in Pretoria gewoon het, het ons jongste wat toe seker ses jaar oud was een Sondag homself opgelig in die kerkbank en met sy mond teen my oor saggies gevra: “Hoekom is daar net witmense hierso?” Ek kon in sy stemtoon hoor … “Wat gaan hier aan? Ek vertrou nie heeltemal dié storie nie?” Soms sien ’n kind namens my wat raakgesien móét word en wat ek nie kan of wil sien nie.

Sommige NG lidmate is reeds oortuig daarvan dat rassediversiteit binne ons denominasie broodnodig is. En daarom het hulle al lankal skouer aan die wiel gesit. So word ontmoetings gereël sodat wit NG lidmate mense wat minder bleek as ek is, kan ontmoet. 1995 is drie dekades gelede. Ons kerk is struktureel ’n kerk wat behels dat jy, indien jy iemand binne ’n kerklike konteks wil ontmoet wat nie wit is nie, ’n komitee moet stig, met ’n voorsitter wat ’n roeping vir versoening het, sodat op ’n Woensdagaand die NG lidmate wat reeds hierdie bekering ondergaan het, swartmense kan ontmoet. ’n Ander ontmoetingsruimte is uitreike, maar dit is ’n situasie waar ek gewoonlik die weldoener is. Beide hierdie praktyke is belangrik en betekenisvol, maar ons leef nie in die ’70’s nie.

Dit is 2025. Kinders wat in hulle NG ouers se oor fluister: “Wat gaan hiér aan?” gaan nie minder word nie.

Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

4 thoughts on “OPINIE: Waarom weerspieël eredienste steeds nie Suid-Afrika se groot diversiteit nie?”

  1. Die saak is veelkantig en ek verskil op n paar bewerings wat gemaak word. Ek stel hier enkele ander kante aan die orde. Die laaste punt eerste: Kinders in die NG Kerk word al minder. Jongmense stel nie meer belang in kerk nie, ongeag hoe die kerk se samestelling lyk. Jonk en oud wil in hul eie taal Afrikaans aanbid, sing en luister na die Woord. Die kerk lyk en funksioneer anders as die werksplek en die sosiale omgewing in die strate en ander kuierplekke. Aspekte soos aanbidding saam met my eie mense in terme van die familie metavoor en gesinsverband is belangrik vir vele mense. In kort “charity begins at home”, al sou dit vir sommige mense n anachronisme wees.

  2. Wanneer ons buite wereldse structure funsioneer binned ons kuktuurgemeenskappe dan bly ons en handhaaf ons ons kultuur. Dit between nie ons aanvaar nie die ander diversiteite nie…dit is net waar elke kultuurgroepering gemaklik is. Klink of the skrywer glo alles moet nou noodgewonge gemeng word. Kerk en wereld is verskillende belewinge en moet so hanteer word. Stop die beheptheid met gedwonge integrasie / ruim huis nonsense..sal net eenvoudig nie werk nie, netsoos ‘n palenstyne start nie kan werk nie

  3. Jaun de Vries

    Prof., anders as die genoemde Katolieke en Metodiste gaan NG-ouers se kinders in Afrikaans kerk. U sal dieselfde vind in Gereformeerde, Hervormde, Evangelies-Gereformeerde gemeentes. Almal Afrikaans. Almal by verre wit lidmate. Rassedemografie is tog nie gelyk aan taaldemografie nie. ‘n Mens moet daarteen waak om alles in die lewe deur ‘n rasse-lens te wil beoordeel/veroordeel.

  4. Ek dink baie mense is tevrede om in hulle eie taal en uit hulle eie kultiur te aanbid.

Comments are closed.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top