Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Met die draai van die millennium is daar baie gedink en gepraat oor vergifnis en versoening. Die gesprek het ook oor die laaste twee dekades verdiep en deesdae word versoening en vergifnis selde los gedink van geregtigheid.

Cas Wepener: Die gif in vergifnis en wrede vrede


Vrede en vergifnis. Twee mooi woorde. Maar wanneer is daar gif in vergifnis en is die vrede wat ons soek eintlik ’n wrede soort vrede?

 

Vrede. Baie mense smag na vrede. Vrede in die Midde-Ooste. Vrede in ons land. Vrede by die huis. Vrede by die werk. Vrede in die kerk. Maar waaraan dink ek wanneer ek dink aan vrede? Wat sien ek in my verbeelding wanneer ek oor hierdie vrede droom? Wat behels hierdie vrede waarna baie mense smag?

LEES OOK: Kerk wat werk-artikelreeks: Die ‘klein maar aktiewe’ Blinkp(l)an-gemeente van Mpumalanga se steenkoolvelde

Die reggaesanger Peter Tosh, minder bekende lid van The Wailers as die bekende Bob Marley, kan met sy lirieke my siening van wat vrede behels uitdaag. Peter Tosh se eie liedere het dikwels ’n sterk profetiese klank. Hy sing soos volg oor my versugting na vrede: “Everybody is crying out for peace, yeah/ none is crying out for justice”. En hy gaan verder: “I don’t want no peace/ I want equal rights and justice”. Tosh was, soos Bob Marley, ’n Rastafariër en beide is in die Etiopies-Ortodokse Kerk gedoop. ’n Teologiese vergelyking vir hoe hy die vrede sien waarna ons behoort te smag is daarom seker te verwagte, naamlik: “Everybody want to go to heaven/ nobody want to die”.

LEES OOK: Publieke getuienis: Wat sê die kerk oor …?

Ja, almal smag na vrede. Maar wanneer is daardie mooi ideaal, daardie droom van vrede van my, eintlik ’n wrede vrede? Vrede sonder gepaardgaande geregtigheid, met ander woorde, ’n kostelose vrede sonder implikasies vir optrede en insig dat die onvrede soms juis ’n versugting na geregtigheid behels wat nie geïgnoreer mag word nie. Die Ou Testament se shalom beteken veel meer as bloot net die afwesigheid van konflik, dus ’n soort skietstilstand, ongeag die feit of daardie sogenaamde vrede lepellê met geregtigheid. Wêreldvrede klink wonderlik. Maar ten koste van wie en wat? Kan hoe ek smag na vrede heimlik wees dat die afwesigheid van vrede eintlik net lastig is vir my eie gerief?

LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Lerisa Meyer oor die see, die kerk en die dieper dors

Vrede is ongetwyfeld dikwels die moeilikste pad van almal. Maar kan sekere soorte vrede ook ’n kortpad wees? Soms is ’n kompromis inderdaad nodig om vorentoe te kan beweeg. Maar is die kernmotivering waarvolgens besluite soms geneem word, naamlik “ter wille van vrede”, nie dalk ’n ongevoelige maklike en eintlike wrede opsie nie? Hoe dikwels neig die kriteria vir besluitneming by ’n (kerk)vergadering meer in die rigting van “ter wille van rus en vrede” en hoe dikwels in die rigting van “ter wille van geregtigheid”? Wanneer is vrede dus eintlik wrede vrede? Die heelheid en florering waarna die Bybelse shalom verwys behels veel veel meer sodat ek nie na vrede kan smag terwyl ek sien hoe iemand anders dan steeds nie geregtigheid beleef nie.

Vergifnis. Met die draai van die millennium is daar baie gedink en gepraat oor vergifnis en versoening. Die gesprek het ook oor die laaste twee dekades verdiep en deesdae word versoening en vergifnis selde los gedink van geregtigheid. Dit het Biskop Tutu destyds al ingesien toe hy onvermoeid as voorbeeld die een seun wat die ander seun se fiets gesteel het, gebruik het van wat vergifnis behels. Dan vra die dief vergifnis by sy vriend omdat hy die fiets gesteel het, maar is nie van plan is om die fiets ook terug te gee nie. Wanneer dít gebeur, wanneer vergifnis gesien word as ’n iets sonder ’n fiets, is daar gif in vergifnis, soos die digter Nathan Trantraal tereg dig in “Fiction en estrangement”.

LEES OOK | Kunsmatige Intelligensie: Word ons bemagtig én van ons sinne beroof?

Trantraal begin so: “Na apartheid was daa/ gesê, as ôs wil bewys/ dat ôs rêrag Christene is/ moet ôs vegiewe/ En ôs, omdat ôs rêrag/ Christene wil gewieset/ het ôs vegiewe …” En hy sluit af: “En ôs, omdat ôs lief vi Jesus/ was, het ôs ôs klippe neegesit/ Ammel het hystoe gegan/ Hulle na hulle hyse langsie sea/ ôs na ôs shacks/ langs poeletjies stagnant wate/ waa die gif in vegifnis/ ôs ammel/ sick gemaak het”.

Vergifnis en vrede sit diep ingebed in die Christelike geloof. Mag ons vergifnis daarom sonder gif en ons vrede nie ’n wrede soort vrede in 2025 wees nie. Mag ons gee van vergifnis en smagting na vrede eerder behels dat geregtigheid voortrol soos ’n standhoudende stroom.

Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “Cas Wepener: Die gif in vergifnis en wrede vrede”

  1. Net ‘n vraag: hoe lank gaan die NG Kerk nog moet jammer wees oor apartheid en aanhou om vergifnis vra? Moet ons kinders en kleinkinders ook jammer wees?

  2. Cas Wepener se artikel daag ‘n gemaklike verstaan van vrede en vergifnis uit en plaas die vraagstuk in ‘n sosiaal-politieke konteks. Toe begin ek wonder – Maar hoe sou ‘n Christus-gesentreerde benadering hierdie argument verdiep, verhelder of moontlik verskuif?
    Wepener se klem op shalom is ‘n goeie beginpunt vir ‘n Christus-gesentreerde benadering. Jesus se lewe, dood en opstanding beliggaam hierdie Bybelse shalom, nie net die afwesigheid van konflik nie, maar die heelheid, geregtigheid en herstel van alle dinge (Johannes 14:27, Efesiërs 2:14-16). Christus bring vrede deur versoening wat beide vergifnis en geregtigheid insluit. Wanneer ons na vrede smag, is dit net vir uiterlike harmonie, of vir die diepgaande transformasie wat Christus bring? Is ons vrede ‘n kruisdraende vrede, of net ‘n geriefsgerigte vrede?
    Wepener waarsku teen vergifnis sonder regstelling. Dit is ‘n geldige punt, maar Christus se benadering tot vergifnis verander harte en bring ‘n nuwe lewenswyse. Lukas 23:34 – Jesus se vergifnis aan die kruis was radikaal en voorafgegaan deur lyding, maar dit was nie ‘n blote woorde-vergifnis nie. Dit het ‘n pad na versoening en vernuwing oopgemaak. Lukas 19:8-9 – Ware vergifnis in Christus bring herstel en geregtigheid, dit is nie net ‘n vryspraak sonder transformasie nie. Wanneer ons vergifnis verkondig, is dit ‘n blote sentiment, of lei dit tot ware herstel en transformasie?
    Wepener se klem op geregtigheid is belangrik, maar vir ‘n Christus-gesentreerde benadering moet ons vra: Wat is die bron van geregtigheid? Miga 6:8 – Geregtigheid is nie net ‘n sosiale eis nie, maar vloei uit ‘n nederige wandel met God. Jesaja 53:5 – Christus se dood is die diepste vorm van geregtigheid, nie net ‘n herstel van aardse verhoudings nie, maar ‘n herstel van die verhouding tussen mens en God.
    Die vraag moet wees: Soek ons geregtigheid as ‘n menslike ideaal, of as iets wat in Christus se kruis geanker is?
    Ons moet ‘n vrede soek wat kruis-draend is, nie net wat konflik-vry is nie. Dit beteken dat ons bereid moet wees om ongemaklike waarhede aan te spreek, net soos Jesus geregtigheid verkondig het, selfs al het dit Hom ‘n kruis gekos. Verder moet ons moet vergifnis leef soos Christus dit gedoen het—nie as ‘n manier om ongemak te vermy nie, maar as ‘n manier om mense na ‘n nuwe lewe te lei. Dit sluit herstel en regstelling in. Ons geregtigheid moet evangelies-gegrond wees. Ons moet nie net ‘n sosiale revolusie soek nie, maar ‘n hartsverandering wat deur Christus self gewerk word.
    Cas Wepener se skrywe is ‘n belangrike oproep om vrede en vergifnis nie oppervlakkig te verstaan nie. Christus bring egter ‘n dieper dimensie by: Ware vrede en ware vergifnis begin by Christus en Sy Kruis. Dit is hier waar geregtigheid en barmhartigheid mekaar ontmoet (Psalm 85:10). Die vraag is nie net hoe vermy ons ‘n wrede vrede of vergifnis vol gif nie—maar eerder: Hoe leef ons die vrede en vergifnis wat Jesus self beliggaam het? Dankie Prof Wepener dat jy my diep laat dink het.

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.