Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Die meeste mense met wie ek te doen kry, verwag veral van die kerk om sy stem oor versoening en enige vorm van onreg in die samelewing te laat hoor. En dan is daar die kritiese mense wat voel dat die kerk irrelevant geraak het en dat sy stem nie noodwendig ’n verskil (gaan) maak nie, sê die teoloog dr Chris Jones oor publieke getuienis. Foto: Le Roux Schoeman / Kerkbode

Publieke getuienis: Wat sê die kerk oor …?


Van Stilfontein tot Gasa. Van politieke praal in Washington DC tot wrywing in plaaslike koalisiepolitiek. In dié eerste maand van 2025 wonder ’n mens dalk meer as gewoonlik hoe kerkleiers dink oor publieke getuienis, publieke teologie en veral die idee wat by sommige leef van ’n kerk wat enersyds “standpunt inneem en getuig” of andersyds “swyg” oor sake van die dag. Le Roux Schoeman het meer hieroor by ’n aantal kerkleiers en teoloë gaan uitvind.

 

Kerkbode: Hoe verstaan jy die kerk se rol ten opsigte van kommentaar lewer op aktuele sake van die dag. In plein taal: Waar vat ’n mens en waar los ’n mens – en het jou siening daaroor verander oor die jare van jou eie bediening?

 

Dr Chris Jones (CJ), teoloog tot onlangs verbonde aan die Eenheid vir Morele Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch se Teologiese Fakulteit: My oortuiging is: Korrupsie het ’n naam; armoede het ’n gesig; en ons het ’n stem. Die bekende Metodiste teoloog John Wesley het gesê: “There can be no personal holiness without social holiness”.

 

Ds Jan Lubbe (JL), moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode: Ons word in ons dag en wêreld oorspoel deur nuus en inligting, vinnig en dikwels ook “rou”, kru, onverwerk, ongetoets. Ons eerste roeping is waarskynlik om hier waar jy jou bevind, in die eie, kleiner plaaslike konteks “wakker” te wees, bedag, bewus. En dít het byna drie dekades in die bediening my geleer; ja, ek reageer anders as vroeër, minder “kortasem en haastig en vurig”, meer met ’n sagtheid, geduld en vertroue in die goedheid van God. Die tyd sal ons leer, het die wyse Gamaliël gesê (Hand 5:38-39).

Dr Nioma Venter

Dr Nioma Venter (NV), algemene sekretaris van die NG Kerk: Ek dink die kerk het ’n baie spesifieke bydrae om te maak tov aktuele sake en kan nie ons verantwoordelikheid rondom dit versaak nie. Openbare gesprek word dan so verryk deur teologiese perspektief. Die kerk se bydrae moet dus nooit net wees om politieke standpunte te herhaal of politieke doelwitte te versterk nie. Die leidrade vir die kerk se unieke bydrae word gevind in die waardes en beginsels wat God se koninkryk dien, oftewel kenmerkend is van God se koninkryk. Daarom ‘vat’ ’n mens daar waar jou unieke bydrae as kerk lê en ‘los’ jy waar dit nie jou gebied is nie. Ek verstaan egter in jou vraag dat jy ook verwys na die oormag van aktuele temas en hoe ’n mens byhou met kommentaar. Praat jy met ander woorde nét oor wat op jou kerk en lidmate se agenda is, of behoort ons wyer aktief te wees? In dié opsig is daar institusionele beperkings. Die Algemene Sinode kan nie namens die kerkverband praat oor kwessies waaroor daar nie eers intern gekonsulteer is en ’n bepaalde standpunt bestaan nie. Dit het tot gevolg dat die trein dikwels lankal verby is voordat die kerk gereed is met ’n opinie.

Een manier om die institusionele tipe dilemma se ontduik, is om baie meer op gesprek oor aktuele sake in die plaaslike gemeente en ringe te fokus en uit hierdie ruimte lidmate en leraars aan te moedig om deel te neem aan publieke getuienis of kommentaar.

Die dae is verby dat as die NG Kerk gepraat het, het ‘die kerk’ gepraat. Verhoudings met ander kerke (die ekumene) help ons om oor die grense van ons eie belange te tree. Dit is belangrik om in eenheid met ander kerke oor aktuele kwessies in ons land op te tree. Dit is hier waar lidmate/die publiek soms vra ‘Waar is die NG Kerk se stem’ en dan nie heeltemal tevrede is as die antwoord is dat ons deel van ’n ekumeniese liggaam is wat sekere kwessies aanpak nie.

Dr Chris Jones

Kerkbode: Beleef jy ooit dat die mense met wie jy te doen kry, verwag dat jy hetsy meer of minder oor ’n bepaalde aktuele onderwerp te sê het vanuit ’n teologiese hoek?

 

Dr Braam Hanekom (BH), direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis: My eerlike ervaring is dat wanneer mense voel dat jy nie sê wat hulle wil hoor nie, hulle maklik vir jou sê dat jy te veel sê. Indien daar egter ’n bepaalde verwagting is, goed geformuleer in hulle eie denke, maar waaroor die kerk niks sê nie, word daar maklik gesê dat ons te min sê.

Ds Jan Lubbe (links).

JL: Ja, in ’n hoofsaaklik “kerklike kring” leef daar dié verwagting dat die dominee of ’n “kerkleier” teologies ’n antwoord of perspektief moet gee; daarom die geweldige uitdaging om ingelig én verantwoord te wees – in Barth se woorde, die koerant én die Bybel te lees en te vertolk. Aan die rand van die kerk of daarbuite egter, wag mense nie noodwendig op ’n kerk om ’n uitspraak oor gebeure of ’n aktuele vraag te maak nie, trouens, dit is dalk juis waarom hulle by die deur of alreeds buite die kerk staan – al daardie groot verklarings van die verlede, met soveel sekerheid en wat toe blyk te gewees het, gevestigde belange maar verdedig het, selfs onreg goedgepraat het. Jesus se stilte, veral voor Pilatus, het boekdele gespreek!

 

CJ: Die meeste mense met wie ek te doen kry, verwag veral van die kerk om sy stem oor versoening en enige vorm van onreg in die samelewing te laat hoor. En dan is daar die kritiese mense wat voel dat die kerk irrelevant geraak het en dat sy stem nie noodwendig ’n verskil (gaan) maak nie.

 

NV: Waar ek beweeg en werk, beleef ek dat mense van die NG Kerk verwag om iets te sê te hê. Ek beleef ook groot waardering wanneer daar duidelik en met definitiewe rigting/leiding gekommunikeer word. Die toneel het egter verander. Mense het baie meer toegang tot inligting en is oor die algemeen baie meer ingestel op ’n individuele oortuiging en opinie (individuele bemagtiging). Daar word wêreldwyd ’n groeiende agterdog teen hiërargiese strukture en gesentraliseerde mag gesien. Dit is die werklikheid van sosiale en kulturele skuiwe en dit beïnvloed ook die kerk en die kerk se funksionering. Om dus namens die kerk oor moeilike en komplekse kwessies te praat, is nie so eenvoudig nie. Daar word baie krities geluister en geoordeel of die Algemene Sinode (AS) ’n mandaat het om so en so namens die kerk te praat. Dit inhibeer op ’n manier dan ook die proses – al het die AS byvoorbeeld in beginsel die mandaat om namens die kerkverband publieke getuienis op nasionale en internasionele gebied te lewer, moet daar ’n formele verklaring en standpuntbesluit wees van waaruit dit gedoen word – en daar gaan die trein alweer sonder die kerk. Die ratte van die kerk draai stadig.

 

Kerkbode: Is daar ’n skuif ten opsigte van hierdie onderwerp wat met generasielyne langs loop: Is dit ’n ouer geslag wat “wag” vir die NG Kerk om iets te sê … Of is dit ’n geloofstyl wat ’n mens ook by jongmense aantref?

Dr Braam Hanekom aan die woord. Foto: DJ Muller

BH: Ek dink ouer mense het dalk makliker die verwagting gehad dat sinodes en die regering namens hulle moet praat. Jonger mense verwag dit nie meer van sinodes nie. Inteendeel, ek dink jonger mense verwag baie min van sinodes. Hulle sê ek wil aktief, sinvol in dié konteks betrokke wees. So, daar is ’n groter bewussyn onder ’n nuwe geslag dat hulle self sal moet opstaan en ’n verskil maak.

 

CJ: Ek het verlede jaar vir die derdejaar teologiestudente aan die Universiteit Stellenbosch ’n module oor publieke teologie aangebied en vir hulle gaan dit oor ’n bepaalde geloofstyl of leefstyl. ’n Sekere identiteit. Dit gaan vir hulle as jongmense daaroor om ’n florerende en vol lewe vir so soveel as moontlik mense te help bewerkstellig, asook oor genesing, geregtigheid, vryheid en hoop. Daar is ’n passievolle verlange na ’n beter wêreld. Verhoudings is vir hulle uiters belangrik – hulle vra vir die insluiting van gemarginaliseerde stemme en die ontmaskering van dominante magte/kragte. Dit is wie hulle wil wees en hoe hulle wil leef.

 

JL: Ja, daar is waarskynlik ’n groter verwagting dat spesifiek die NG Kerk “iets moet sê” by ’n ouer generasie, as by ’n jonger generasie. Dit mag wees dat jongmense minder waarde heg aan “die sê van ’n kerk” en van die NG Kerk spesifiek en tóg beleef ek dat jongmense en katkisante juis aangenaam verras is wanneer ons in ’n kleingroepgesprek etiese sake en die nuus van die dag, in die lig van die Skrif bring, ons vrae en perspektiewe deel. Sommige van hulle is trouens selfs méér “wakker” oor kwessies soos sosiale geregtigheid as ’n ouer generasie!

 

NV: Ek dink dit is meer kompleks as net ’n eenvoudige saak van ouderdom. Daar is vir seker ’n groep ouer persone wat uit ’n plek van tradisionele oriëntering hunker na die “goeie ou dae” en wag dat die kerk ‘met gesag moet antwoord’ op aktuele kwessies – dalk sou ’n mens hierdie groep as ’n generasie kan eien.

Maar los van ouderdom, is daar diegene wat ter wille van hulle eie plek van behoort en identiteit in ’n baie verwarrende wêreld, ’n behoefte het om “hulle kerk” oor ’n saak te hoor praat.

Daar is egter ook dié, oud en jonk, wat vanweë ’n ooraanbod van inligting uit allerlei oorde, al lankal hulle eie opinie gevorm het en om die waarheid te sê nie ’n blou duit omgee wat die institusionele kerk se opinie is nie (maar wel baie krities sal luister en reageer as die kerk wel iets te sê het oor ’n bepaalde saak).

Ek dink ook, dat vanweë sekularisasie (eerder as generasielyne) daar diegene is, oud en jonk, wat eenvoudig net geen belang meer het by die kerk se opinie oor die lewe nie.

Wat ookal die realiteit, as kerk en as gelowiges kan ons nie anders as om tydig en ontydig te getuig nie. Ons werklike uitdaging is om vanuit ons eie strukture en werkswyse effektiewe maniere van kommunikasie te ontwikkel, en om op so ’n manier te kommunikeer dat koninkryksbeginsels suiwer gedien word.

 

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.