Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die NG Gemeente Blinkpan is self in ’n oorlewingstryd, maar Meisie van den Berg (voor) en Rene Taljaard, saam met nog ’n paar vroue, kook weekliks etes vir gesinne wat swaarkry in hulle gemeenskap op die steenkoolvelde in Mpumalanga. Foto’s: Verskaf

Kerk wat werk-artikelreeks: Die ‘klein maar aktiewe’ Blinkp(l)an-gemeente van Mpumalanga se steenkoolvelde

Elke Woensdagoggend kry 12 behoeftige gesinne van ’n verarmde myngemeenskap in Mpumalanga ’n gekookte ete. Vir baie van hulle is dit die enigste groente en vleis wat hulle kry. Die vier vroue wat hierdie projek aan die gang hou is van die NG Gemeente Blinkpan – ’n gemeente van net 88 lidmate wat sedert 2021 sonder ’n vaste leraar is, so het Rene Taljaard, hulle saakgelastigde (“kantoortannie” sê sy) in ’n onlangse nuusbrief kortliks vertel. By navraag hoor Heléne Meissenheimer meer van hierdie gemeente in Oostelike sinode se storie.

Die krisis: Ekonomiese agteruitgang, demografiese skuiwe

Rene (uitgespreek Rienie) vertel hulle gesin is al sedert 1992 lidmate van die NG Gemeente Blinkpan. Die gemeente het ontstaan om die Afrikaanse gemeenskap te bedien bestaande uit ondermeer boere, werknemers en kontrakteurs op die omliggende steenkoolmyne en die Komati-steenkoolkragstasie.

Sy beskryf waar hulle woon as die middelpunt van ’n driehoek tussen die dorpe Middelburg, Witbank en Bethal.

Sy beskryf waar hulle woon as die middelpunt van ’n driehoek tussen die dorpe Middelburg, Witbank en Bethal.

Rene onthou in daardie jare was die gemeente groot met ’n voltydse gemeenteleraar. Dit het goed gegaan met hulle gemeente en die gemeenskap wat beide vernoem is na een van die myne in hierdie deel van die Hoëveld.

Toe sy in 2004 die pos opneem om die gemeente se administratiewe sy aan die loop te hou, het hulle nog ’n eie gemeentepredikant gehad, maar die gemeente het al begin sukkel om kop bo water te hou.

Al hoe meer van hulle lidmate het uit die gebied weggetrek. Die Eskomwerknemers het gegaan toe die kragstasie sluit (* daar is sprake dat Eskom die kragstasie wil heropen om hernubare energie te verskaf) en die boere het hulle plase aan myne verkoop.

Die NG Gemeente Blinkpan het in 1963 tot stand gekom om die Afrikaanse gemeenskap te bedien bestaande uit ondermeer boere, werknemers en kontrakteurs op die omliggende steenkoolmyne en die Komati-steenkoolkragstasie.

Teen 2019 het hulle nog net so 115 lidmate gehad, die meeste van hulle middeljariges en pensioenarisse. Hulle woon in ’n gemeenskap van ’n paar duisend inwoners, oorwegend swart en laer inkomste. Daar is ’n kafee, ’n OK-kruidenierswinkel en ’n laerskool.

Sy vertel na die afsterf van ds Pierre Venter, so 12 jaar terug, kon hulle nie bekostig om weer iemand voltyds te onderhou nie. Nogtans het hulle kerkraad van agt (wat intussen gekrimp het na vyf) gedoen wat hulle kon om die gemeente aan die gang te hou.

Vir eredienste en die bediening van sakramente is gebruik gemaak van aflospredikante en emeritusleraars. Hulle het ook ’n paar proponente as tentmakers en ’n studenteleraar gehad, maar hulle is elkeen telkens gou na groter gemeentes beroep.

Lees ook: Publieke getuienis: Wat sê die kerk oor …?

Vanaf sommige in kerklike leierskap het hulle gehoor om hulle pastorie en kerkgebou te verkoop en by gemeentes op buurdorpe in te skakel. Sy sê met die naastes almal ’n 100 km se heen-en-weer-rit weg is dié opsie vir die meeste van hulle lidmate te duur en te ver.

Sy noem hulle is ook te lief vir hulle gemeente met sy geskiedenis wat terugstrek tot 1963 om alles net te los. 

Toe kom die Gupta-steenkoolmyndebakel van 2019. Twee van die staatkaperbroers se myne is in sakeredding geplaas. Duisende mynwerkers en kontrakteurs was skielik sonder inkomste.

Aksie: Van oorleef na etes kook vir ander

’n Paar plaaslike vroue het ’n gemeenskapsinisiatief begin om etes te kook vir gesinne wat swaarkry as gevolg van die myne se krisis. Ten spyte van hulle eie oorlewingskrisis, het Blinkplan se klein NG gemeente ook hand opgesteek. Rene vertel hulle lidmate het gehelp waar hulle kon met groente sodat sy en nog ’n paar vroue elke Vrydag etes kon kook. Op ’n stadium het hulle vir tot 180 mense gekook.

Later het die gemeente besluit om hulle eie ‘Maak ’n magie vol’-voedingsprojek te begin.

Sy vertel: “Ek is eerlik, dit vat baie van ons tyd … maar ai, as jy die kos afgee en die mense se gesigte sien. Die klein kiddies wat hardloop as hulle jou kar sien … dan verdwyn jou moegheid en sugte. Dit is lekker om te hoor ‘dankie, baie dankie’ … dan weet jy, jy het ’n verskil gemaak.”

Sedertdien is Rene en haar span vroue elke Woensdagoggend vanaf halfsewe besig om groente skoon te maak, te verwerk en later self af te lewer by behoeftige gesinne. Dit sluit in mense wat nie lidmate is nie, wit en bruin. In sommige gevalle woon ’n hele gesin in ’n kamer terwyl ander net op ’n maatskaplike toelaag oorleef.

Soos mense gehoor het van wat die gemeente doen, het die hulp en bystand meer geword. ’n Lidmaat van die NG Gemeente Ligkruis op die buurdorp Middelburg het eers self donasies gebring en toe raak sy gemeente ook betrokke. Dié gemeente is vandag die hoofborg wat Rene en haar span in staat stel om weekliks kosaankope te kan doen om tussen 45 en 50 etes te kan kook vir 12 gesinne.

Lees ook: Gesoek: die kerk se stories wat met hoop ‘smous’

Meer projekte, meer hulp én beter erediensbywoning

Rene vertel hulle gemeente help met meer as kos. Ook klere en skoolbenodigdhede, soos begin vanjaar vir ’n graad 1-leerdertjie wie se ouers swaarkry.

Al het hulle self min, het die gemeente vir die afgelope tien jaar toebroodjies geskenk aan die laerskool vir kinders wat nie ’n kospakkie het nie. Hierdie projek is nou klaar. Hulle help ook ’n aantal gesinne van die gemeenskap wat pleegkinders versorg.

Soos mense gehoor het van wat die gemeente doen, het die hulp en bystand meer geword. Hierdie bottels met bestanddele vir ’n eenpotgereg is verpak en geskenk deur die NG Gemeente Ligkruis.

En so tussendeur die koskook het brei- en hekelklasse vir vroue bygekom. 

Rene vertel ook hulle eredienste lyk deesdae anders. Daar was ’n keer wat hulle net 12 was en toe sit hulle almal om ’n tafel met koffie en koek. Dit was wonderlik, sê sy. Lidmate van ander kerkverbande het die NG gemeente se eredienste begin bywoon omdat hulle een van die min kerke is wat hulle deure oopgehou het. “Ons verwelkom mense uit ander denominasies,” sê Rene.

Die laaste drie jaar word hulle eredienste gelei en sakramente van doop en nagmaal bedien deur proponent Jossie van den Berg van Huis van Gebed-gemeente op Witbank. Hulle het nie meer ’n orrelis nie, maar sing saam met musiekklankbane. As iemand vra vir huisbesoek help die proponent daarmee ook asook met gemeenteprojekte soos nodig.

Die NG Blinkpan se eredienste lyk deesdae anders. Daar was ’n keer wat hulle net 12 was en toe sit hulle almal om ’n tafel met koffie en koek.

Finansies bly knap maar die fokus bly op diens na buite

Die tekort aan finansies bly ’n kommer. Rene vertel sy sorg dat daar altyd geld is om die prediker te betaal.

Blinkpan-gemeente huur ook hulle pastorie uit om hulle kerkgebou se kragrekening te betaal. Een van hulle eie lidmate se dogter, wat in Engeland woon, hou die kerkkombuis se gasbottel vol met geld wat sy inbetaal.

Rene en van die vroue bak ook beskuit en ander varsgebak om te verkoop. Dit help sodat sy en die koster, Magriet Oelofse, ook ’n inkomste kan ontvang. Rene vertel dat Ligkruis-gemeente hulle gemeente baie help. Hulle help met die verkoop van die gebak en het ook gehelp om die onkoste te dek sodat hierdie klein gemeente ’n afvaardiging kon stuur na die vorige Oostelike streeksinodesitting.

Rene vertel wat hulle as gemeente geleer het is dat hulle steeds met min mense en min geld hulle roeping kan vervul om, soos sy dit stel, die Here se hande en voete te wees in hulle gemeenskap. Op die gemeente se Facebook-blad staan hulle is “’n Klein, maar aktiewe gemeente op die steenkoolvelde van Mpumalanga”.

Daar is by haar geen twyfel dat hulle gemeente met die kosprojek en ander maniere van hulp gaan aanhou nie. Al weet sy party maande nie hoe hulle alles gaan betaal nie, is sy oortuig die Here, wat hulle die afgelope jare onderhou het, sal aanhou om te voorsien in wat nodig is.

Sy vertel: “Ek is eerlik, dit vat baie van ons tyd … maar ai, as jy die kos afgee en die mense se gesigte sien. Die klein kiddies wat hardloop as hulle jou kar sien … dan verdwyn jou moegheid en sugte. Dit is lekker om te hoor ‘dankie, baie dankie’ … dan weet jy, jy het ’n verskil gemaak.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top