Onlangs op ’n Saterdagmiddag bevind ek my onverwags in die gang van Checkers wat skoolskryfbenodigdhede verkoop. Daar is nie plek vir ’n winkeltrollie nie. Die gang is vol angstige ouers en tieners met almal net een doel voor oë – kry die goed op die lang lys wat die skool aangestuur het.
Penne met blou ink (Bic): 12. Tien HB-potlode. Vier gomstiffies Pritt of Bostic. Soveel hardeband A4-boeke en soveel sagteband bruin notaboeke. 12 inkleurpotlode, ’n uitveer, skerpmaker en ’n wiskundige stelletjie asook sakrekenaar. Plastiekleêrs, sommige met name wat ons almal in die gang vir mekaar laat vra wat dit is …
Lees ook: Publieke getuienis: Wat sê die kerk oor …?
Die lys is presies. Dit is lank. Dit kos ’n aardige bedraggie geld.
Die graad 7-leerder vir wie ek daar staan se ouers kry swaar. Die pa se inkomste as sekuriteitswag dek skaars die gesin van vyf se huurgeld vir die kamer waarin hulle bly. Wanneer sy dalk ’n bietjie geld kry, koop die ma vis of goedkoop klere om weer te verkoop. Daarmee kan sy soms ’n bietjie mieliepap of kool koop.
Die gesin se hartseer krisis het ’n lang storie wat al drie jaar aankom en nie lyk of dit gou opgelos gaan word nie. Wat die ma wel weet is dat die skool blykbaar laat weet het Maandag moet die goed op die lys gekoop wees. Sy vertel dit vir my die Saterdagoggend na sy hulle laaste bietjie pap glo Vrydagaand gaar gemaak het. Wat doen ’n mens? As jy meer ervare is, dan vra jy seker eers watter van die goed op die lys hulle al het en dan weet jy alles op die lys hoef nie nou al gekoop te word nie … of jy beland soos ek op ’n Saterdagmiddag in ’n winkelgang en wonder wat vir ’n ding is ’n ‘Folder PVC Carry A5 + A4’?
Dit is so anders as toe ek soveel dekades terug op skool was. Toe het ons al ons handboeke, skryf- en notaboeke gekry by die skool. Al wat ons moes koop was skryfbehoeftes, daai selfde wiskundige stelletjie, ’n sakrekenaar en rolle plastiek en kleeflint om die boeke mee oor te trek.
Lank nie meer nie! So verseker al die ouers my vir wie ek van die lange lys vertel. Dit voel onregverdig. Die kanse van dié wat het is alweer net soveel beter! Omgekrap trek ek later die nuutste uitgawe nader van die laaste Afrikaanse dagblad wat nog gedruk uitkom. Tussen al die ‘slegte nuus’ kry ek ’n storie wat net weer vir my die krag bevestig wat in stories lê. Dit is die inspirerende verhaal van ’n afgetrede skoolhoof wat gevra is om te gaan uithelp by ’n skool op die Kaapse Vlakte. Dié skool het die swakste matriekuitslae in 2023 behaal. Net 32% van hulle matriekklas het geslaag. Toe draai hierdie man, die matrieks se klashoof en sy personeel saam, met harde werk, die storie om. Hulle kry die oënskynlik onmoontlike reg. Die skool se 30 matriekleerders behaal in 2024 ’n 83,3% slaagsyfer.
Die joernalis Willemien Brümmer wat die storie geskryf het, stel dit so mooi. Sy skryf hierdie hoof het besluit om “weer die vierletterwoordjie ‘hoop’ aan leerders én personeel te smous”.
Lees ook: Jammer vir die pyn van Apartheid, sê dominee aan weduwee
Deel van die suksesresep was dat die skoolhoof, toe hy besef die skool het nie fondse nie, hulle storie gedeel het op sosiale groepe waar mense was wat twee goed het, oop harte én dik beursies. Die skool kry alles van handboeke, skryfbehoeftes, skoolskoene, kantoor- en sporttoerusting … noem maar op. Die leerders kry nuwe moed met die sien van hierdie tasbare tekens van ander se omgee. Die skoolhoof vertel die kinders het gevoel hulle het waarde. Die resultate spreek vir hulleself …
Suid-Afrika hét een van die mees ongelyke samelewings in die wêreld, dis waar, maar dit is ook waar dat hier ’n klomp mense is wat mekaar gun wat elkeen wil hê: ’n beter lewe vir ons kinders. Stories wat sulke verhale vertel gee ’n mens hoop. Dit is my nuwejaarsgebed dat Kerkbode in 2025 ook vol sal wees van stories wat ‘smous’ met hoop vir die kerk vanuit die kerk. Stuur gerus jou of jou gemeente se storie van hoop na kerkbode@tydskrifte.co.za .