Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Jaco Strydom gesels met Lerisa Meyer oor die see, die kerk en die dieper dors


“Ek kan eintlik nie alles vertel van hoe lekker dit hier is nie, want dan sal ’n klomp mense ook hier wil kom bly! Maar kan jy jou iets beter voorstel as om vroeg op ’n Maandagoggend jou hondjies, koffie, Bybel en boekie te vat en dan te gaan preek skryf op die strand? Dit is hemels.”

Lerisa Meyer is die dominee op Margate, dien as assessor op die KZN-sinode en is pas afgevaardig as Suid-Afrika se jeugverteenwoordiger na die Wêreldraad van Kerke se byeenkoms in Thailand. Sy is ook deel van die sinodale taakspan wat kategesemateriaal ontwikkel en skryf onder andere vir Woord en Fees. ’n Besige dominee! En erg opgewonde oor die kerk.

Lees ook: Brief: ‘Ek wil deel wees van ’n identiteitskeppende NG kerk in ’n komplekse, veranderende wêreld’

“Ek en Handré bly in Uvongo met ons twee hondekinders, Leo en Teddie,” sê sy en vertel hoe hulle in 2020 van Pretoria af see toe getrek het. Dit was wonderlik en rof. Sy en Handré was pas getroud en hy het kort daarna Covid gekry. Handré het ook teologie geswot. Hy is vandag ’n onderwyser en help dikwels met preekbeurte in die gemeente.

Ek vra haar uit oor die gemeente.

“NG Margate het 1 058 lidmate. Die gemeente het baie jare terug besluit om ’n kerkraadgedrewe gemeente te wees. Dit beteken dat ek vryheid het om ’n geestelike begeleier te wees, eerder as om oorlaai te word met nitty-gritty sake. Ek hou daarvan om binne my geloofsfamilie te preek, huisbesoek te doen, sterwensbegeleiding te doen en te werk met die jeug. En ek hou daarvan om kategese aan te bied of sommer net ’n swempartytjie of fliekaand saam met die kinders en tieners te geniet,” sê sy.

Vakansietye gaan dit rof. Die afgelope Kersdag het hulle ses eredienste gehou by twee bedieningspunte. Dis die wonderlikste voorreg, sê sy.

Lees ook: Le Roux Schoeman | Hoe hou ’n mens die pole vas in ’n land van baie en min?

Vir ontspanning lees sy fantasieboeke, luister musiek en stap graag saam met haar man en hulle honde op die strand.

Ek het lanklaas met iemand gesels wat so opgewonde is oor die kerk en dominee-wees.

Hoe lyk jou tipiese dag? vra ek.

“Dit is die vraag wat almal vra! Die eerlike antwoord is: Ek het nie ’n tipiese dag nie. Dit is soms selfs vir my moeilik om my gedagtes rondom hierdie waarheid te kry. Maar my bediening is van so ’n aard dat ek baie aanpasbaar moet wees. Wanneer iemand nood het, moet ek gaan. Wanneer iemand oor iets wil gesels, moet ek beskikbaar wees. Die mees ‘tipiese’ elemente in my week is dat ek ten minste teen Dinsdag weet waaroor ek wil preek en teen Donderdag stuur ek my liedere in. Die proses van preekskryf en navorsing doen, lyk elke week anders. Maar dit is wat dit interessant en lekker maak.”

Sy sê die enigste vaste tyd van haar dag is haar slaaptyd. “Ek gaan al agtuur bed toe. Ek sal dan nog ’n bietjie lees, maar my slaaptyd is nooit later as negeuur nie. Ek het baie gelag oor my vriende wat gesê het dat ek beslis nie op die moderatuur sal kan dien as ek so vroeg gaan slaap en nie saam wyn drink nie – maar nou ja … die vroeë gaanslaper vang die wurm!”

Sy het grootgeword in Pretoria, was in Laerskool Wonderboom en het gematrikuleer aan Hoërskool Overkruin. Na skool het sy teologie studeer op Tuks.

“Die beste deel van universiteit was natuurlik dat ek in 2014 my trouman ontmoet het! Handré vertel die storie baie anders as ek, maar ons het mekaar in die klas ontmoet. Ek het met die eerste oogopslag – nog voordat ek geweet het wat sy naam is – geweet hy is die man met wie ek gaan trou.”

Almal het ’n openbare lewe en ’n meer privaat verhoudingslewe, maar dan is daar ook ons amper onsigbare “geheime lewe” waarvan min mense weet. Ons gesels oor die uitdagings van hierdie dieper worsteling en sy vertel van ’n paar groot lesse wat sy geleer het.

“In my eie hart het ek uitdagings. Ek sukkel met depressie en angstigheid. Alhoewel dit nie vir ander van buite na ’n draaipunt sou lyk nie, vier ek die kere wat daar wel ’n ommekeer plaasvind in my hart. Ek vier die tye waar ek kan opstaan uit die bed en kan aangaan selfs op ’n slegte dag. Ek vier die kere waar ek besef dat ek my wasgoed in die aand kan was, eerder as om te voel dat dit in die oggend gedoen móét word. Ek vier die draaipunt wanneer ek, nadat ek my dood gestres het oor die stir fry groente wat gaan afgaan voor Donderdag wanneer ek gesê het dat ek dit dan eers gaan maak, besluit om die ‘program’ in my kop te skuif en dit vanaand te maak.”

Stilte help ook, sê sy en haal Psalm 62:6 aan: “Ek het vir myself gesê: Word stil en rustig by die Here. Om by Hom te wees gee vir my hoop. Ek vertrou Hom. Hy beskerm en red my.”

Vir ontspanning lees sy fantasieboeke, luister musiek en stap graag saam met haar man en hulle honde op die strand. Sy is baie lief vir die see en dis ’n groot voorreg om dit elke dag te kan beleef.

Wat is daar wat min mense van haar weet? vra ek.

“Ek hou nie van roomys of van geitjies nie,” lag sy.

Lerisa het groot drome vir die toekoms. “Persoonlike groei is ’n prioriteit en ’n sterk fokuspunt vir my,” sê sy. “Ek hoop dat ek in die toekoms my eie gemaksones meer en meer sal kan uitdaag. En ek sal graag in die toekoms wil fokus op skryfvaardighede en dalk selfs ’n boek publiseer. Op hierdie stadium sien ek myself steeds in die bediening as predikant. Alhoewel ek dink dat daar baie veranderinge wag vir die kerk, is ek baie opgewonde daaroor om daaraan deel te neem.”

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.