Nicolaas Christoffel van Wyk (BA, BD) (15 November 1956 – 26 April 2025)
Nicolaas Christoffel van Wyk is op 15 November 1956 in Brits gebore, waar sy ouers, Fred en Issie van Wyk, op Kareepoort in die Sonop-omgewing geboer het. Nico sal onthou word as uitmuntende prediker, skerp teoloog, rugbyspeler, reisiger, gesinsman en gebedsmens, maar boweal sal hy onthou word as evangelis.
Reeds op ses-jarige ouderdom het Nico die roeping van die Here ontvang om eendag ’n predikant te word. In graad 8 besluit hy om Latyn as skoolvak te neem. Toe die onderwyser by hom wou weet waarom hy Latyn neem, was sy antwoord dat hy dit nodig sal hê as hy later wil gaan studeer om ’n predikant te word. Gedurende sy hoërskooljare het hy elke Donderdagaand sy pa se bakkie geleen en op ’n rotasiebasis die buurplase besoek waar hy vir die plaaswerkers ’n diens gehou het.
Nadat hy aan die Hoërskool Brits gematrikuleer het, begin hy in 1975 met sy teologiese studies aan die Universiteit van Pretoria en voltooi sy BA met Grieks, Hebreeus en Filosofie as hoofvakke. Daarna sit hy sy studies voort aan Tukkies se Fakulteit Teologie (Afd B) waar hy sy BD-graad met lof verwerf. Gedurende sy studentejare is hy lid en later voorsitter van UKJA se Sendingaksie. Behalwe vir elke Sondag, waar hy sendingwerk in Mamelodi en Mooiplaas gedoen het, lei hy ook gereeld gedurende die universiteitsvakansies uitreike na Tshilidzini en ander sendinggemeentes. Hierdie hart vir sending en evangelisasie sou later Nico se lewe definieer.
In 1980 tree hy en Linda Vorster in die huwelik waaruit drie kinders, Ismalandi, Nico en Marisel gebore word.
Nico word in 1983 in die gemeente Dutoitspan in Kimberley met handoplegging georden. In 1987 aanvaar hy ’n beroep na Port Elizabeth-Hoogland. Dit is tydens sy bediening in hierdie gemeente waar hy kennismaak met die EE-bediening (Evangelism Explosion). Hy begin om gemeentelede op te lei om hulle geloof op ’n nie-konfronterende manier met ander te deel. Hierdie bediening het uitgekring na ander gemeentes en denominasies in Gqeberha, en só het duisende mense in hierdie stad die goeie nuus oor Jesus Christus gehoor. Sy gemeente het selfs na Eswatini gereis om die EE-bediening daar te vestig.
In 1996 ontvang Nico die uitnodiging om vir Evangelism Explosion SA (EE SA) te werk as direkteur van opleiding. Aangesien daar geen salaris aan hierdie pos gekoppel sou wees nie, was dit ’n geloofstap wat hy moes neem wat met baie gebed gepaardgegaan het. Die Here het hom egter oortuig dat dit die regte plek vir hom was. Hy is deur die gemeente Monumentpark beroep as tentmaker, terwyl hy voltyds by EE werksaam was. In hierdie tyd lei hy duisende kerkleiers oor alle kerkgrense heen op om ’n EE-bediening in hulle eie gemeentes te vestig. Van oral word daar getuienisse gedeel van mense wat, soms vir die eerste maal en soms by hernuwing, hulle lewe aan die Here toegewy het. Later word Nico direkteur van opleiding in Afrika en help hy om die bediening in verskeie lande dwarsoor die kontinent te vestig. In die ses-en-twintig jaar wat Nico by EE Suid-Afrika betrokke was, was hy direk of indirek betrokke by die opleiding van byna 800 000 kerklidmate in evangelisasie.
In 2014 het Nico amptelik geëmeriteer, maar steeds deeltyds voortgegaan met sy werk by EE SA. Intussen het hy ook meer as 80 oorsese toere gelei, waar hy veral die doelwit gehad het om gelowiges te help om die Bybel beter te verstaan deur die Bybelverhale te koppel aan groter geskiedkundige en geografiese kennis van Israel en Egipte.
Nico was deeglik bewus daarvan dat hy nie onbepaald by EE SA betrokke sou kon bly nie, en hy het hard gewerk om mense in plek te kry om die werk mettertyd by hom oor te neem. Op Vrydag, 25 April 2025, het hy by die EE kantoor opgedaag en vir Sophy Masilo ingelig dat sy gereed is om die werk volkome by hom oor te neem. Hy het onder andere op daardie dag al die wagwoorde aan haar oorhandig sodat sy volledig in beheer van al die werk kon wees.
Die volgende oggend, 26 April, het Nico en Linda gaan stap soos dit hulle gewoonte was. Toe hulle terugkeer by die kompleks in Moreletapark waar hulle gewoon het, het hy gesê dat hy moeilik gestap het en dat hy moeg is. Kort daarna het hy neergesak en ten spyte van die vinnige en bekwame optrede van paramedici, het hy daar gesterf.
Nico het in sy lewe honderde kere vir mense gevra: “Is jy seker, as jy vandag te sterwe kom, dat jy hemel toe sal gaan?” As iemand daardie Saterdagoggend vir Nico die vraag sou gevra het, sou sy antwoord wees: “Ja, ek glo dit met my hele hart.” Niemand was egter daarop voorbereid dat sy lewenslint daardie oggend geknip sou word nie.
Nico was bekend vir sy nommer 13 skoene waarmee hy diep spore getrap het. Dwarsoor Suid-Afrika en ook in baie ander lande in die wêreld lê Nico se spore. Vanweë sy gehoorsaamheid aan die Here se roeping is daar vandag derduisende mense wat kan getuig van hulle verhouding met die Lewende Here.
- Dr Arnau van Wyngaard het hierdie huldeblyk ingestuur.