Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Eleos se sistemiese benadering spreek gesinsprobleme op verskillende vlakke aan. Hulle werk holisties met fisiese, emosionele en geestelike nood.

Eleos – genade in aksie onder kwesbare mense in Pretoria-Wes


“Eleos is nie ’n ‘handouts’-organisasie nie.” Dit is die eerste ding wat Annabelle Lombard besef wanneer sy ’n span mense ontmoet wat belê in die lewe van kwesbare mense in Pretoria-Wes.

 

Ina van Leeuwen, maatskaplike werker en projekkoördineerder by die organisasie praat passievol oor wat dié organisasie anders maak: Eleos is ’n gemeenskapsentrum wat al vir 28 jaar voorkomend werk en opheffingsdienste deur middel van groepwerk aanbied. Hulle help ’n gemeenskap om hulleself te help en in die proses menswaardigheid terug te kry. Mense in nood verloor dikwels die kognitiewe vaardigheid van probleemoplossing en selfstandige optrede. Moontlik kom hulle uit ’n plek waar die vaardighede nooit oorgedra is nie.

Eleos se sistemiese benadering spreek gesinsprobleme op verskillende vlakke aan. Hulle werk holisties met fisiese, emosionele en geestelike nood. Ina verduidelik Eleos se leuse, naamlik Genade in Aksie. “Genade is ’n vloeibare geskenk en as ek genade uitdeel maak ek iemand se tenkie vol en dan kan hy weer aan iemand anders genade betoon.” Genade is onverdiend, maar dit is nie goedkoop nie en daarom moet dit vloeibaar bly en aangegee word.

Die bestuur van Eleos se sterkste punt is eintlik die bemarking, met die fokus op twee groot geleenthede per jaar, ’n gholfdag en ’n glansdinee, wat ’n groot deel van die begroting inbring.

Alle groepe kos R30 om by te woon en dit is om verantwoordbaarheid en toewyding te kweek. Die geld gaan net weer so terug in die kleinkas vir vervoer, doeke, melk, kos en ander hulp. Jy kan slegs kwalifiseer vir hulp as jy die groepe bywoon. Kos, klere, linne en ander hulp word gegee vir mense wat minstens vir ’n maand reeds inskakel by die programme waar hulle verhoudings kan bou en volhoubare verandering kan plaasvind. Eleos het ’n stoorkamer waar alle donasies uitgesorteer en uitgestal word. Groeplede kan hier een keer per maand vir hulle gesinne noodsaaklike klere gaan uitsoek. Oortollige klere en nienoodsaaklike items word ook teen goedkoop pryse beskikbaar gestel waar gesinne na hartelus inkopies kan doen binne hulle begroting. Dit gee soveel selfwaarde en -verantwoordelikheid terug as mense eie keuses kan uitoefen en iets kan koop. Die vroue verwys gereeld daarna as “Eleos Boutique”.

Eleos se sewe pilare (aparte blokkie)

  1. Voedingskema – by al die groepe word ’n ete uitgedeel. Dit is een van die groot dinge by Eleos – hulle eet saam. Die kospakkies vir gesinne is beperk en word mooi bestuur.
  2. Bemagtiging – maatskaplike werkers en terapeute spreek interpersoonlike en sosio-emosionele behoeftes aan.
  3. Gesinsbehoud – ouerleiding- en lewensvaardigheidsprogramme.
  4. Kinderontwikkeling – naskoolsentrums, kampe en samewerking met skole, asook arbeidsterapeute wat kinders help om ontwikkelingsagterstande in te haal.
  5. Geestelike ontwikkeling – Bybelstudie en gebed is die kern van ons projekte en uitreike, waar God se genade en hoop gedeel word.
  6. Werkskepping – Eleos help mense met ID’s, CV’s, vaardighede en gesinsbegrotings. Dit is vir hulle belangrik om mense te help om werk te kry en te behou en vir dié wie se paadjie ’n bietjie anders loop is daar werkskeppingsprojekte.
  7. Studiehulp – studiehulp, beurse en beroepsvoorligting.

Hoe funksioneer Eleos?

Op die vraag wie die programme en hulp befonds, antwoord sy laggend: “Ek dink die Here self! Ons kry geen staatshulp nie, maar nog nooit het ons te min gehad om vir mense te gee en te help nie.”

Die bestuur van Eleos se sterkste punt is eintlik die bemarking, met die fokus op twee groot geleenthede per jaar, ’n gholfdag en ’n glansdinee, wat ’n groot deel van die begroting inbring.

Oor die werkskeppingsprojekte gesels sy baie trots en passievol. “Soap opera” maak kwaliteit kerse, bad- en lyfprodukte. “Hope comforts” maak speelkomberse vir babas, piekniekkomberse vir die hele gesin, hondebedjies vir die gesin se beste vriend en pawiljoenkomberse vir sportondersteuners. Die grootste verkoper is Eleos se koekies. Die items word by markte en uitstallings verkoop, asook herverkopers soos ’n winkeltjie in Kaapse Hoop.

By Eleos leer hulle mense dat jy nie net alles vir jouself hoef te hou nie, maar dat jy kan deel en dan raak dit eintlik meer. Hulle het daarom ’n verstandhouding dat jy net kospakkies vat as jy dit regtig nodig het en as jy kan regkom sonder dit, word dit eerder vir ’n gesin gegee wat dit meer nodig het. So het die vroue van die babahuis begin om resepte te deel wat lekker goedkoop is sodat hulle begrotings met slimmer keuses kan klop. Dit is ’n proses van vertroue wen, bewustheid kweek en verantwoordelikheid neem. Die dames het ook ’n maandelikse kompetisie met ’n lekker bederfprysie vir wie se begrotingsboekie en kwitansies die netjiesste is.

Die essensie van Eleos is gemeenskap. Baie van die groeplede het geen steunstelsels nie en beperkte sosiale vaardighede. Mense leer maklik om afhanklike slagoffers te wees, maar by Eleos besef mense dat hulle ook iets het om terug te gee.

Om groei te kan sien

“En dit is die heel lekkerste deel van my werk,” vertel Ina. Dit is die grootste voorreg om te mag sien hoe mense ontwikkel. Hulle beweeg weg van die eie ek na waar hulle deel is van ’n groter geheel waar hulle kan omgee vir mekaar en deel wat hulle het. So is daar byvoorbeeld van die mense wat self in die program ingekom het wat nou verantwoordelikheid neem vir ander. Hier is iemand wat kon leer hoe om selfstandig te kan funksioneer en selfs ook positief bydra tot die gemeenskap. Dit is groei en verandering wat volhoubaar is – vrugte wat blywend is.

Hoe kan mense betrokke raak by Eleos?

Bid vir Eleos en sy werksaamhede
Finansiële betrokkenheid
Ondersteun die werkskeppingsprojekte
Skenkings van enige gebruikte huisware, klere en linne
Mense in die omgewing kan kom help by die babaprogram, voorlees vir die kinders by die naskool, of kom help met huiswerk.
Stel jou vaardighede beskikbaar bv arbeidsterapeute, elektrisiëns, loodgieters ens.

Luister gerus hier na die podsending – ’n onderhoud met Ina van Leeuwen.

Eleos is een van die uitreikaksies wat Skuilkrans NG Gemeente ondersteun. Tydens ons getuienismaand in Mei/Junie stel ons al die gemeente se uitreikaksies voor aan die gemeente. Die tema vanjaar is blywende vrugte. “Jesus sê: Julle is my vriende as julle mekaar liefhet. Ek het julle uitgekies en aangestel om uit te gaan en vrug te dra, vrug wat blywend is” (Johannes 15:14-16 – verkort).

Annabelle Lombard sê. “Ek leer by Eleos dat jammerkry en kitsoplossings niemand regtig help nie. Transformasie vind plaas vanuit ’n vertrouensverhouding. Blywende vrugte is die gevolg van ’n langtermyn verhouding en programme waar dissipline, eienaarskap en menswaardigheid belangrik is. Dít is wanneer genade omskakel tot aksie.”

  • Lombard is verbonde aan Skuilkrans NG Gemeente in Pretoria en vryskutmedewerker vir Kerkbode

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top