Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ruhan Fourie is ’n historikus, verbonde aan die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Foto: Verskaf

Profiele van pryswenners 2025: Ruhan Fourie | Navorser maak erns met NG Kerk as beide produk en agent van geskiedenis

Rethie van Niekerk gesels met Ruhan Fourie, vanjaar se wenner van die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir debuutwerk, vir sy boek Christian nationalism and anticommunism in twentieth century South Africa Uitgewer: CLF (Oorspronklik uitgegee deur Routledge), 2024

 

Ek ken vir Ruhan Fourie al van sy studentedae, toe hy as studentebedieningsleier gereeld met ’n vraag, teorie, storie of plan by my kantoor ingeval het. Ons het gesels nadat hy as vanjaar se wenner van die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir debuutwerk aangekondig is.

LEES OOK: ‘Kerk en politiek se saamwees was destyds meer institusioneel, vandag is dit meer opportunisties’

Fourie is ’n historikus, verbonde aan die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Ek wonder hoe hierdie geskiedkundige se belangstelling by die NG Kerk geëindig het en Fourie vertel van sy grootwordjare in die NG Kerk. As nagraadse student het die cliché van die NG Kerk “as Nasionale Party in gebed” hom begin pla. Hy wou die NG Kerk ernstig opneem as beide produk en agent van die geskiedenis.

Deurlopend tel ’n mens by Fourie ’n frustrasie op met ’n eenvoudige, binêre lens op die geskiedenis – asof realiteit gemaklik in twee kampe geplaas kan word, sonder om kompleksiteite van mense se ervaring en posisionering te erken. Hy weier hardkoppig om lui cliche’s te aanvaar of te gebruik.

LEES OOK: Resensie | Rooi gevaar, wit vrees: Die rol van godsdiens in apartheid-era politiek

Christian nationalism help die leser verstaan dat anti-kommunisme as paradigma nie so baie te doen het met die stryd teen kommunisme nie, maar eerder met die behoud van die status quo. Weer is dit die binêre wat Fourie frustreer. Vandag, sê hy, het ons “anti-woke, anti-liberaal”. Die paradigma is dus steeds sigbaar.

Hierdie binêre paradigma laat ons gesels oor die ontvangs van sy boek, wat nie uit alle NG geledere ewe positief was nie. “Die taal wat gebruik word vir die kritiek van my boek …” sê Fourie nadat hy ’n rukkie gedink het, “is presies bevestigend van wat die boek op die tafel sit. Ek praat beskrywend van verregses of behoudendes en dan is die teenreaksie – omdat ek daardie beskrywende taal gebruik – dat ek progressief is.” Dit is opvallend hoe Fourie, ook wanneer hy praat van sy kritici, nie ’n binêre “ons en hulle” houding inneem nie.

LEES OOK: Gasrubriek | ’n Historiese blik: Die NG Kerk en die Rooi gevaar

Hy het glad nie sy boek geskryf met die idee daar daar ’n les vir die NG Kerk moet wees nie. Op my aandrang sê Fourie dat hy dink (hoewel dit nie ’n les is nie) dat dit mense kan help verstaan hoe maklik die NG Kerk homself in ’n afgesonderde omgewing kan laat verval in ’n binêre wêreldbeeld. Dit sien hy met al die NG Kerk se debatte, “want elke ding raak ’n debat, dit raak nie ’n gesprek of iets profeties of poëties nie. Dit raak net polemies.”

Vir die toekoms kan ons uitsien na ’n biografie oor Beyers Naudé, waaraan Fourie tans werk. Ons kan reeds seker wees dat ook Naudé se verhaal nie die cliche’s gaan bevestig nie, maar ons gaan uitdaag om buite ons swart en wit verstaan van die geskiedenis te dink.

Beskikbaar by CLF.

Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top