Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Brief | ’n Skrywe uit die hart van ’n predikant: Oor die humanitêre krisis in Gasa

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Jannie Pelser, Krugersdorp skryf: As ’n afgetrede predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk kan ek nie langer stilbly oor die verskriklike menslike lyding wat tans in Gasa afspeel nie.

 

Laat ek van meet af aan duidelik wees: Die gruweldade en sinlose aanvalle op onskuldige Israeliese burgers in Oktober 2023 moet onomwonde veroordeel word. Die verlies van onskuldige lewens – hetsy Israelies of Palestyns – raak die diepste kern van menswaardigheid.

LEES OOK: ’n Hedendaagse klaaglied: ‘Jesus en die kinders van Gasa’

Maar sedert die begin van Israel se militêre offensief het die situasie in Gasa ontaard in ’n volskaalse humanitêre ramp – ’n onverskillige oorlog wat baie reeds as volksmoord beskou. Die verwoesting is omvattend, die lyding onmenslik. Duisende onskuldige burgers, veral vroue en kinders, is reeds dood. Ander is vermink, getraumatiseer, en bly vir die res van hulle lewe geestelik en liggaamlik geskend. (Enkele dae gelede is berig hoedat ’n Palestynse dokter, self ’n pediater, nege kinders in ’n aanval verloor het. Hoe in die wêreld kan Christene daarvan wegstap, selfs in sommige gevalle met vergeldingsuitsprake op sosiale media?)

Daar word berig dat duisende kinders onder die puin begrawe is.

LEES OOK: ‘Dis nou méér as oorlog’ – SA kerkleiers luister na noodkreet van Christene in Midde-Ooste namate dodetal klim in Gasa

Die daaglikse lewe in Gasa is feitlik onmoontlik. Hospitale, skole en skuilplekke is vernietig. En sedert meer as twee maande kan bykans geen betekenisvolle humanitêre hulp meer in die gebied inkom nie – miljoene staar nou hongersnood in die gesig.

Die onlangse besprekings oor die moontlikheid om Gasa se 2,4 miljoen inwoners van hulle woongebied te verskuif, bring pynlike herinneringe aan ons eie apartheidverlede in Suid-Afrika. Só iets is onmenslik en sal die lyding net verdiep.

As Christen en predikant moet ek ook die poging om hierdie geweld met die Bybel te regverdig aanspreek. Só ’n aanwending van die Skrif is nie net verkeerd nie – dit is aanstootlik. Die God van die Bybel is nie ’n God van wraak nie, maar ’n God van liefde, geregtigheid en genade vir alle mense. Die Bybel roep ons op om die lydendes te versorg, teen onreg op te staan, en die menswaardigheid van elke lewe te beskerm.

LEES OOK: Brief: Waarom swyg oor ander gewelddade?

Ek kan nie stilbly as soveel van God se kinders gelyktydig verdrink in pyn, hongersnood en wanhoop nie. Ek moet praat. En ek roep ander gelowiges en mense van gewete op om saam met my hulle stem te laat hoor.

Ons as leraars het die verantwoordelikheid om die heersende narratief dat Israel God se uitverkore volk is (en dat die vergelding dus regverdig is) ernstig vanaf die kansel aan te spreek.

Die Kairos-dokument kan ons daarmee help. Een sinsnede uit die hart van Palestynse Christene heet: “Die ‘goeie nuus’ van die evangelie word vir ons ’n ‘voorbode van dood’.” https://www.kairospalestine.ps/sites/default/files/Afrikaans_0.pdf (2.2.3 bladsy 6)

My opregte en dringende gebed is dit: dat die moord, hongersnood en ontmensliking van onskuldige mense onmiddellik sal ophou. Ons móét praat. Ons móét optree. En mag God ons genadig wees as ons stilbly.

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

8 thoughts on “Brief | ’n Skrywe uit die hart van ’n predikant: Oor die humanitêre krisis in Gasa”

  1. Sleutelbordkryger

    Dit is verskriklik. Wat Israel besig is om te doen in terme van voedselvoorsiening en hongersnood is onvergeeflik.
    Ongelukkig is baie ander dinge ook verskriklik. Die oorlog in Sudan. Die Siriese burgeroorlog, waar daar al meer as 600,000 mense dood is. Op eie bodem, die mishandeling van kinders, die wreedaardige moorde (ja, insluitend op boere in plaasaanvalle). Hoekom fokus mens dan juis op Gaza om ‘n brief te skryf vir die Kerkbode? Daar is geen ander briewe van jou aan Kerkbode waar leraars vermaan word om van die kansel hulself uit te spreek teenoor Rusland se inval van Ukraine, of die aanhouding van gyselaars, of die doelbewuste gebruik van kinders as menslike skilde, of enige narratiewe daaraan verbonde nie. As dit gaan oor die “heersende narratief” dat dit Bybels geregverdig is – wie op dees aarde in die NG Kerk voer so ‘n narratief?
    Laat ek noem wat ek dink die rede is, en jy kan my vermoede weerlê: dit is op die oomblik mode om te kla oor Israel, nes dit 100 jaar terug mode was. Ons word gebombardeer met berigte uit Gaza (en dit is reg so, dit wat daar gebeur is afgryslik), en jy voeg nou jou stem by dit wat die hoofstoom in elk geval sê oor die kwessie. Laat ons egter in gedagte hou dat twee dinge gelyk kan korrek wees: Dit wat Israel nou doen is verkeerd, EN dit wat Hamas doen is verkeerd. Die regte woord is “en”. Nie “maar” nie. As leraars hulself dan gaan uitspreek, laat hulle meer as een kant van die verhaal oordra.

    1. Louis Blignaut

      stem 100% saam. So baie onreg in die wereld. Al die ander kry geen aandag. Israel sal altyd aandag trek omdat daar ‘n haat vir hulle is.

    1. Beste Sleutelbordkryger,

      Eerstens, kom ons wees eerlik – almal op hierdie platform, en in ons afrikaanse kerke, stem sekerlik saam dat “Hamas verkeerd is”. Ek dink regtig nie jy hoef jou te bekommer oor Hamas simpatie in ons midde nie.

      Ek is werklik stomverbaas oor jou vraag “wie op dees aarde in die NG Kerkas voer die narratief dat wat gebeur Bybels geregverdig is”

      Regtig? Ek moet aanneem dat jy vir jouself praat en (nog) nie met mense uit ons kerk hierdie gesprek gevoer het nie. Veral ook omdat jy meen mense praat hieroor want dit is “mode” of “hoofstroom”…

      Ek kan helaas uit my eie ondersoek bevestig dat skokkend veel mede NG lidmate dink of vermoed dat om Israel te veroordeel is om teen ons Bybel en God in te gaan. Om die waarheid te se, meeste lidmate in my kerk wat ek al gevra het hieroor, “staan agter Israel” – bloot omdat hulle dink dis wat ons Bybel van ons vra. Hierdie gees van Christen Sionisme is baie dieper in ons kerkbanke as wat ons besef. 



      Ek het al op twee geleenthede NG lerare gevra of hulle ’n inligtingsessie oor die situasie in Israel en ons Bybel deur ’n kenner (uit die NGK) met ’n PHD in teologie wil fasiliteer. Hulle weier – omdat dit “verdeeldheid in die kerk sal veroorsaak”. 
Hierdie predikante ken hulle gemeente. As dit waar was dat, soos jy impliseer, niemand in ons kerke hierdie valse narratief voer nie, sou daar mos geen “gevaar” van bostende opinies wees nie?

      Ek was verlede week gevra deur ’n NG lidmaat om asb nie by ’n sosiale byeenkoms te noem dat ek pro-vryheid vir Palestina is nie, want dit sou al “haar vriende wat Israel ondersteun” (ook mede NG lidmate) ontstel.

      Ek weet van ’n hele paar mense wat in bitter moeilike posisies is, en vriende verloor het, omdat hulle hulself uitspreek teen wat Israel doen. Ek het Joodse vriende wat hulle familie teleurstel, basies nie meer welkom in hulle kringe is nie, en baie alleen voel. Hulle doen dit omdat hulle gewetes hulle nie kan laat stilbly nie – glo my, nie omdat dit “populer” is soos jy se nie.

      Ek het self vir lank in Israel gewerk en was weer net voor die oorlog daar. Dit is is ten koste van my Israeli vriende en diepe liefde vir die gebied dat ek myself uitspreek hieroor. Nie omdat ek populer wil wees nie, inteendeel.

      Laastens, die verskil tussen Israel se optrede en die oorlog in Ukraine / Sudan / Sirie / ons plaasmoorde(!)?
      
Israel het steeds duisende ondersteuners in ons kerke en in die wereld onder oningeligte/ misleide Christene. En ek kan ongelukkig nie geestelike broederskap geniet met mense wat dink ons God en Bybel regverdig wat Israel aan duisende onskuldige vroue en kinders doen nie. Dit stry vir my in teen alles waarvoor Jesus gekom en gesterf het, en net soos ek nie kan stilbly oor Jesus se liefde nie, kan ek nie stilbly oor hoe verkeerd dit is dat Israel hiermee wegkom nie.

  2. Jannie, jou skrywe is kortsigtig en uiters eensyding. Behalwe dat jy nie voorheen die terroriste aanvalle op burgerlikes in Israel veroodeel het in die terme nie, en ook nie die wreedaardige vermoor van kinders en babas deur terroriste nie spreek jy ook nie moordadige godsdiens aan wat sonder Christus mense oproep om as martelare te sterf om daarmee saligheid te verwerf nie. Dít is wat ‘n Christen predikant eerstens moet doen, die ongelowiges op te roep to bekering na Christus.
    Jannie, keer terug na God en lees meer.

  3. Ek is n boerejood en u kommentaar gelees oor die toestand in gaza miskien is dit beter as n luier van n kerk om u uit internasionale politiek te hou en te fokus op die ellende en hongersnood in ons eie land en die plaasmoorde ek wonder hoe jou geloof sou gevoel het is daar 1200 mense vermoor is eendag groete larry

    1. Dankie Ds Jannie dat jy uit naasteliefde en met integriteit opstaan vir die wat nie kan nie. Dit is, ek dink, wat Jesus ook sou gedoen het. Indien ons ons naaste soos onsself moet liefhê, is dit tyd vir ernstige selfondersoek en daadwerklike optrede.

Comments are closed.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top