Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Brief: ‘Alle kritiek teen Israel is nie anti-Semities nie’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Danie de Lange van Kaapstad skryf: Ek verbly my oor die feit dat Kerkbode die rubriek van prof Stephan de Beer geplaas het. Dit stem ooreen met die pyn wat derduisende Christene ervaar oor die voortdurende “stilte” oor die aangeleentheid wat in die NG Kerk openbaar word. Dr Marthie Momberg se artikel van ’n paar maande gelede het gepoog om meer fokus op hierdie blatante volksmoord te plaas, maar met min of geen reaksie vanaf kerkleiers of NG gemeentelede nie.

LEES OOK: Pryswenner se dubbele oproep: NG Kerk moet sê daar is geen volksmoord … en niemand moet ooit weer ‘Kill the Boer’ sing

Dit het my genoop om haar boek 21 Voices: Why the Palestinian struggle is a global matter te lees. Die boek verklaar op ’n hoofsaaklik sekulêre wyse waarom weerstandsbewegings ontstaan uit indiwidue wat self ook die pyn en meegevoel ervaar. Maar dit gee nie regtig antwoorde op die soeke na ons kerk se standpunt vanuit ’n Skriftuurlike en Christenkerk se siening nie. Trouens, Momberg erken in haar boek dat sy dit ook vanuit ’n menslikheids- of sekulêre oogpunt benader wat ek nie mee fout vind nie. Die vraag bly staan, waar staan ons kerk ten opsigte daarvan?

LEES OOK: ’n Hedendaagse klaaglied: ‘Jesus en die kinders van Gasa’

Ek het nou kort in ’n gesprek met ’n NG predikant die aangeleentheid aangeroer, en die respons was presies wat ’n mens uit die “stilte” kan aflei. Dat dit vir die NG Kerk ’n sensitiewe saak is. My vraag is waarom? Is dit omdat daar steeds soveel lidmate is wat die Christen-Sionistiese siening voorstaan van die terugkeer van alle Jode na Israel? Word die nuwe verbond met opset geïgnoreer om sodoende nie mense te “ontstel” nie? Wat is die amptelike standpunt dus van die NG Kerk oor hierdie saak?

Dat elke weerstand teen die staat van Israel gesien word as anti-Semities, dat selfs kritiek teen hulle regering en die pleeg van oorlogsmisdade dadelik as anti-Semities afgemaak word, is skandalig en teen alles wat Jesus voor staan. En bots met waarvoor ons as Christene moet staan. Hoe sou ons ooit kon hoop om onder Moslems meer bekeerlinge vir Christus te wen as ons stilswyend die handewerk van die Netanyahu-regering goedkeur? Het ons dan die liefde openbaar wat ons moet? Maak dit ons weg na sending in daardie areas nog moontlik? Nêrens kon ek waarneem dat ons ons eie regering se heldhaftige aanklag teen Israel ondersteun het nie? Ons het die Christenkerk in Gasa klaarblyklik totaal in die steek gelaat. Die enigste openlike ondersteuning wat ek kon waarneem van die kerk en kritiek oor wat Israel in Gasa doen het tot dusver van die Katolieke kerk gekom.

LEES OOK: Wat sê die Bybel oor die duiwel en die Bose? 

Ek het as 17-jarige per ongeluk die film “The Holocaust” gesien. Ons was op vakansie en dit het my verpletter. Ek kon nie verstaan dat mense dit aan mense kon doen nie. My pa het beslis dat die film slegs “propaganda” was. Ek het daarna enige boek of feit ten opsigte van wat in Nazi-Duitsland gebeur het gelees, die trane het elke keer gevloei. Nou word die omgekeerde herhaal deur ’n nasie wat so daardeur geraak was. Die trane vloei weer en ek probeer verstaan, het ons dan niks geleer nie? Ek bid elke dag vir die leiding, maar ek bid ook dat my kerk, die NG Kerk, standpunt sal inneem en nie aandadig sal wees aan die lafhartige wêreld se siening wat “wag en sien” wat aanvaarbaar is om te sê nie. Dit is nie wat Jesus gedoen het en wat die Skrif leer van die eerste Christene nie. Ons het dieselfde gedoen met apartheid en onderdrukking. Die oorgrote meerderheid blanke Suid-Afrikaners het ons land se leiers stilswyend goedgekeur net soos die Duitsers en die huidige Christen-Sioniste. Selfs ek wat dit bevraagteken het was nooit braaf genoeg om te vra, wat sou Jesus gedoen het nie?

My brief is ’n pleidooi vir ons kerk om standpunt in te neem en ’n briefie van dankbaarheid teenoor prof De Beer.

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Brief: ‘Alle kritiek teen Israel is nie anti-Semities nie’”

  1. Dirk Du Preez

    Ek dink Danie De Lange se skrywe is geweldig belangrik in ‘n tyd soos hierdie waar die oorlog in die Midde Ooste sorg vir die meeste voorbladnuus. Ek het onlangs in ons gemeente erediens gehou oor die “een nuwe mensheid” wat die kruis tot gevolg gehad het soos Paulus dit in Ef 2 opgeteken het. Ek was verbaas dat so baie NG lidmate die mening huldig dat Israel steeds die uitverkore volk van God is. Gesprekke met hierdie gemeentelede het my oortuig dat baie met ‘n verwronge Eskatologie (wegrapingteorie ens.) sit wat tot hierdie mening lei. Miskien moet NG Predikante Openbaring afstof en oor die eindtyd vanuit ‘n Gereformeerde perspeftief begin preek.

  2. Daar is nie veel slim woorde wat ek kan gebruik nie: daar is egter niks van Jesus Christus in die voortgaande Netanyahu-regering se oorlog in Gasa nie.
    Ek weier om weg te kruip agter die verskillende verstaan en begrip van politieke woorde soos “genocide” en “hostages” en “apartheid-staat of kolonialisme” vir dekades.
    Daaroor kan en sal mense verskil – in die Koninkryk is dit vir my onbelangrik en ‘n vermorsing van tyd. Geskiedenis herhaal homself daarin.
    Die huidige inwoners van Israel het geen verband met die koninkryk van God nie – tensy van hulle, soos van ons, en van die Palestyne, en van die watter land, taal, ras, nationaliteit – deel geraak het van die koninkryk van Christus deur genade alleen vanuit geloof, wedergebore deur die Gees.
    Ek probeer in my “onkunde” koninkryks-taal soek en vind.
    Woorde soos – vredemakers, liefde vir die vyand, vergifnis, geen onderskeid, bevry die gevangenes, honger en dors na geregtigheid, gee kos en water aan die wat honger en dors is, ens. En dan om dit in lewenswandel om te sit.
    Wat daar gebeur is nie van God nie.
    Herman

Comments are closed.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top