Twaalf ton piesangs en meer as 2 miljoen watersakkies voer hulle glo vir die sowat 20 974 deelnemers. “Hardlopers” sou ’n oordrywing wees oor die meeste van ons ook ruim stap wanneer naambordjies soos Cowies Hill, Fields Hill, Botha’s Hill, Inchanga, en Polly Shortts langs die roete opdoem.
Daar is wel dié onder ons wie se tempo bykans nooit verlangsaam nie – wie se wedloop nie vandag van sonop voor die stadsaal in Pietermaritzburg tot sterk skemer twaalf ure later by People’s Park in Durban sal duur nie. Dit is trouens nog helderdag wanneer Tete Dijana die wenstreep bereik met ’n tyd van 5:25:28. En dit is sekondes – nie ure nie – wat tel wanneer die Nederlandse atleet Piet Wiersma op Dijane se hakke is.
Die gemene deler – of jy nou net-net tweede kom en of jy soos Johannes Maros Mosehla in jou 83ste jaar die wedloop in 11:47:27 klaarmaak … Of jy as beginner met die “0 medaljes” teken op jou hardloopnommer deelneem en of jy Louis Massyn is wat vir die 50ste keer die wedloop voltooi. Of jy nou uitblink op die podium of in die stilligheid by Cato Ridge ’n kat skiet en nie weet of jy die laaste van 47 waterpunte lewend sal haal nie – die Comrades ultramaraton het ’n manier om die wildes onder ons mak te maak en die makkes onder ons wild te maak. Wild vir wat die liggaam als kan vermag. En mak vir wat die liggaam als kan oorkom.
’n Vriendin met Comrades-ervaring het jare gelede die dik leerplan van Comrades se voorbereidingswerk en wysheid vir my soos volg opgesom: Jy moet kan begin (nie siek of beseer wees nie), kan klaarmaak (fiks genoeg wees) en jy moet weet hoekom jy dit doen (die gevierde Why?). Soos Shosholoza opdreun in Pietermaritzburg se donker strate en die singende falanks fikses see toe mik – rigting Durban – evalueer ek vir die soveelste keer dié drietal. Ek is nie siek nie. Die intense maagkiem van 14 dae gelede het my eintlik half gereinig, soos ’n inisiaat by ’n Ayahuasca-retraite in die privaatheid van my eie dupleks-badkamer. En hoewel ek wel die laaste paar oefensessies op die amptelike Comrades-oefenprogram moes misloop, voel ek dalk so goed soos ’n mens kan verdien om te voel voor jy 89 km diep in jou 40s’ hardloop.
Ek hardloop met ’n Casio horlosie wat kom uit die dae toe sy werk was om die tyd te gee. Min wetend dat tye verander het, kan hy dus nie vir my afstande en al die data rondom die oppe en affe van die laaste paar maande gee nie. Maar ek voel fiks en onthou oggende se hardloop, middae se hardloop, naweke se hardloop, hardloop op vakansiedae, hardloop tussen werk-goed, hardloop ná hospitaalbesoeke en hardloop ná ’n begrafnisdiens, hardloop voor ’n besoek aan begrafnisondernemers (“Sal dit ’n verassinkie wees, meneer?” wou die Avbob-dame weet) en hardloop met dieselfde hol kol van twyfel op my maag wat nou weer aanmeld. Maar ek kan klaarmaak, glo ek.
“Remember your why, kraai die omroeper vir oulaas soos die laaste van twee wegspringblokke om die draai verdwyn. Julle lyk goed, soos “racing snakes”, voeg hy by. Elke racing snake se why lyk seker maar anders. Ek vermoed daar is basiese kategorieë, waaronder een wat sterk teenwoordig is, die viering is van iemand wat nie meer met ons is nie. Soms pryk ’n foto op ’n drawwer se hemp, of ’n naam figureer iewers … Opgedra aan X. Hierdie een is vir jou, Y. Dit is ’n soort simbiotiese oefening waar die opdra-party ’n ekstra oemf vra by die ontvang-party. Die ruilhandel van rou het sy eie logika (Ek gee my alles en hoop op iets). My pa was my eerste Durban. Dit was sy Umgeni-rivier. Sy piesangbome, sy Virginia-lugskou, sy mango-pitte op die sypaadjie, sy roes op alles, sy kakkerlakke, sy Maharani-hotel, sy rooi boeie met haainette agter die deinings. Nie oor dit syne was nie, maar oor dit nie myne was nie. Dit het behoort tot die domein van die Grootmens en ek het soos ’n kind geglo hy sal my oral saamvat. Die laaste Sondag wat ek en my pa saam gebraai het, was hy in die bed. Rook het oor hom gewaai. Ons het boerewors geëet en na Tom Jones geluister op my foon. Hy kon nie lekker praat nie en Durban was 1 600 km weg. Ons was in die Kaap waar hy al jare gelede kom woon het en aftrede tot diep in sy sewentigs uitgestel het. Ek was nie daar vir sy laaste woorde die Maandag nie. Hy is dood drie maande voor die Comrades.
My hardloopmaat se intellek maskeer die feit dat hy ’n gevoelsmens is. ’n Feitegebaseerde hervormer. Passie en rasionele ontleding meng dus in hom soos vars en soutwater by die mond van die Tugelarivier. Dit als net om te sê: As jy ooit ver wil hardloop saam met iemand wat ’n 1 op die Enneagram is, moet jy weet daar gaan haarfyn planne én grit wees. ’n Doel tussen doele. Alles gaan die tekstuur van ’n sending aanneem. So was dit. En wanneer jou bene lam raak, jou why vervaag en jou twyfel uit die holte in jou maag ontsnap na jou kop, is dit die beste soort mens om langs jou te hê.
By Camperdown kyk ek rondom my. Die ander hardlopers se stryd en krag is nie afgesluit van my eie nie. Dié een het dalk las van ’n knie of depressie. Daai een is hier al die pad uit Rusland! Die ander se lewe is dalk – buiten vir hierdie dag se roete – buite beheer. Ook onder die kilometers van toeskouers is daar dié wat die pyn dra van besering en FOMO, terwyl ander die dag se verveling met alkohol of Facebook verdoof. Ek dink aan die boek The things they carried. Troepe in Viëtnam en dit wat hulle beleef, maar in die liriese taal van die skrywer Tim O’Brien. “They carried all the emotional baggage of men who might die. Grief, terror, love, longing – these were intangibles, but the intangibles had their own mass and specific gravity, they had tangible weight. They carried shameful memories. They carried the common secret of cowardice barely restrained, the instinct to run or freeze or hide, and in many respects this was the heaviest burden of all, for it could never be put down, it required perfect balance and perfect posture. They carried their reputations. They carried the soldier’s greatest fear, which was the fear of blushing. Men killed, and died, because they were embarrassed not to.”
Pinetown is nie Viëtnam nie. En padwedlope is nie oorlog nie. Maar daai ding van vrees en bloos steek by my vas. Ek doen dié, want ek’s te bleddie skaam om dit nie te doen nie. Ek gaan soek my pa te voet in die Durban waar hy nie meer is nie, want dit is die maklikste ding om te doen. Dit is nie juis dapper nie en dis nie presies edel nie. My pa het teruggetrek soos ’n sterk gety. Die psigiater het so ’n ding gehad tydens sessies elke ses maande om die alzheimersiekte se gang te peil. “Onthou die woorde: berg, klip, tafel”. Dan praat hy weer so ’n bietjie met my pa en dan, skielik, vra hy: Sê weer daai drie woorde. Mettertyd was die agteruitgang dus konkreet. Berg, klip, tafel word berg … klip. Soms berg, tafel. Later net berg. Later nie eens klip nie. Hy het graag na vliegtuie sit en kyk. Die plane lane of ’n dramatiese sonsondergang. En hy het enduit Sondae, dominees en hulle preke liefgehad. Hy het tot laat in die digitale era gevra dat die gemeente vir hom CD’s van die preke brand. Hy was nooit een vir draf nie. Hy was een vir werk. Kantore en kantoorwoorde. Hy het ’n gesin begin in die stad waar hy self grootgeword het. Hy het ons manies ontwortel en hervestig, ontwortel en hervestig in die voorstede van Durban en sy oudste broer se as iewers vanaf ’n ski-boot gaan strooi naby die Oysterbox toe dié in ’n motorongeluk oorlede is, as ek reg onthou. Sy ouers lê begrawe in Redhill-begraafplaas. Maar sy eie storie-storie, rondom homself en ander, was dun. Dalk ’n generasie-ding. Hulle wat ontmoedig is om te reflekteer. “People who are wrapped up in themselves make small parcels,” was sy bolwerk teen introspeksie. Selfs voor sy geheue begin glip het.
Die Comrades se pylvak is lank en – in ons geval – donker. Die son is reeds onder. Die skoot van die afsnypuntgeweer is nog so 40 minute weg. My hardloopmaat eindig fier en swaai sy medalje om sy nek. Ek kry ook myne, en ’n bottel water en, vir die eerste keer in my hardloopervaring, bedien die organiseerders ’n koppie warm sop aan deelnemers. Dit voel soos nagmaal. Neem, drink. Iets het gebeur. Iets kan gebeur.
