Op Donderdagaand, 19 Junie 2025, het ’n groep mense vanuit verskillende sektore en dele van Kaapstad by ds Riaan de Villiers se huis bymekaargekom om ’n gesprek te voer oor trauma, bendegeweld en die spesifieke behoeftes van kinders op die Kaapse Vlakte. Mareli Fischer vertel meer.
Die fokus was eerstens om ’n netwerk van omgee en hulpbronne te skep, om individue en organisasies wat verskillende rolle in ons samelewing en gemeenskap vertolk, met mekaar te verbind en om saam te dink aan wyses waarop uitdagings aangespreek kan word.
Onder andere was daar verteenwoordigers van Ou Mutual, Valkenberg-hospitaal se Departement Kliniese en Forensiese Sielkunde, Groote Schuur-hospitaal se verpleegspan, onderwysers van Manenberg, kerkleiers en leraars, terapeute vanuit die privaat sektor, asook gemeenskapslede van die Kaapse Vlakte.
Hartseer en kommer oor kinders van Manenberg
Die Societas Trust fokus op vroeë kinderontwikkeling en die befondsing van projekte wat poog om traumasiklusse aan te spreek. Hierdie NWO is verbonde aan die Groote Kerk Kaapstad, en hulle is onder andere besig met opbouende en ondersteuningswerk by Sonderend Primêre Skool in Manenberg.

Die aand het begin met heerlike kos wat voorberei is deur ’n ma en dogter wat uit die puin en oorlog van Gasa ontsnap het, en nou in Woodstock woon. Almal teenwoordig het hulle voorgestel aan die groep, en ’n bietjie uitgebrei oor hulle werk, passies en affiliasies. Daarna het Sophia Benting, ’n bekende figuur in Manenberg, die groep toegespreek en vertel oor haar geskiedenis en verbintenis met die Kaapse Vlakte. Sophia het ’n liefde en passie vir Manenberg, waar sy al vir meer as 50 jaar woon. Sy word gerespekteer deur bendelede, kinders, onderwysers en gemeenskapsleiers. Sophia werk tans by Sonderend Primêre Skool, waar sy haar liefde en passie vir die kinders elke dag uitoefen. Haar hart is seer en bekommerd oor die uitlopende geweld en trauma wat elke dag waargeneem word in haar woonbuurt.
Voormalige bendelid deel sy verhaal
Onderwysers en bestuurders van Sonderend Primêr het aan die groep vertel hoe hulle sukkel met befondsing, groot getalle leerders in klaskamers en ’n algehele gebrek aan hulpbronne. Die skool het nie ’n saal, sportgronde of ’n grasperk nie. Die getraumatiseerde onderwysers hou elke dag klas vir kinders wat ook getraumatiseerd is deur geweld en groot verliese. Hierdie trauma word uitgedruk as kwaad, hartseer, stilswye, sukkel met konsentrasie, opstandige gedrag en aggressie.
’n Voorbeeld van hoe jong mense se lewe omvergewerp en hulle gesonde ontwikkeling onderbreek word in gemeenskappe soos Manenberg, is verder geïllustreer deur ’n jong man wat ook sy storie met die groep gedeel het. Solin Roman is ’n jong man van Manenberg wat betrokke geraak het by bendes en dwelmmisbruik op ’n jong ouderdom. Hy het vroeër in die tronk beland, gesukkel met verslawing, en sy broer én pa het hulle lewe verloor in bendegeweld. Solan se storie is wel een van hoop, ingryping en verandering. Sy verhaal het prominensie verkry deur twee episodes van die Wide Awake-podsending deur die plaaslike podcaster Joshua Rubin.
Solin het deelgeneem aan ’n 12-maande rehabilitasieprogram, en is vandag skoon van verslawing en nie meer betrokke by bendes nie. Hy het homself bekeer en gee alle lof aan ons Skepper, vir hierdie groot verlossing.
Hoewel die aand hoofsaaklik die formaat van luister aangeneem het, het van dié wat die geleentheid bygewoon het, aangebied om betrokke te raak en op te volg oor waar hulle bydraes kan lewer vanuit hulle kundigheid.
Dr Mareli Fischer, kliniese sielkundige, direksielid van Societas for ECD NPC en lidmaat van Groote Kerk Kaapstad.
