Rina Gous se liefde vir mooi hekelwerk het gelei tot ’n hele omgeerewolusie. Deur die Atah Shawl of Hope-projek het sy en haar vrywilligers reeds meer as 2 000 omgee-tjalies en -serpe binne Pretoria – en ook ver buite die stad se grense – versprei.

Die eerste tjalie
Haar storie begin die dag voor die eerste grendeltyd tydens die Covid-pandemie aanbreek. ’n Vriendin het haar geleer om te hekel. Sy kon nog net blokkies hekel, maar sy kon met behulp van YouTube-video’s later ook komberse, en natuurlik tjalies hekel.
So kom sy op ’n patroon af vir ’n virus shawl. Dalk was dit die tydsgees en obskure naam, maar dit het haar dadelik uitgedaag. Die patroon begin met een halfmaantjie en groei dan al hoe wyer – net soos die Corona-virus besig was om te versprei.
Sy het skaars begin hekel, toe kom die boodskap dat ’n vriendin van haar se dogter haar twee ongebore babaseuntjies verloor het en self baie ernstig siek is in die hospitaal. Rina besluit toe om dié tjalie vir haar te skenk.
PODSENDING: Luister gerus ook na hierdie gesprek met Rina
Die naam Atah-shawl
In hierdie tyd ontmoet sy en ’n paar vriendinne mekaar vir koffie. Hulle vra uit oor wat sy hekel. Toe-val-lig het een vriendin juis daardie oggend ’n stukkie gelees oor die Hebreeuse woord Atah wat beteken om jouself te omvou. Die Jode het ook ’n tradisie waar jy ’n gebedstjalie oor jou skouers gooi wanneer jy bid of hartseer is, of iets met smeking aan die Here se voete wil lê. Dit is beide ’n teken van verootmoediging en stilword in die Here se teenwoordigheid.
Rina het die betekenis sommer met die hand op ’n kaartjie geskryf.
’n Tweede persoon steek aan
Op daardie tydstip is geen besoekers buiten die eggenoot van haar vriendin se dogter toegelaat in die hospitaal nie, maar Rina se woldrukkie is afgelewer. Toe haar vriendin die kosbare geskenk sien, het sy dadelik geweet dit is iets wat sy ook wil doen.
Intussen het Rina ook ’n tweede tjalie voltooi, dit op Facebook geplaas en gevra of daar iemand is wat deur ’n moeilike tyd gaan en so ’n tjalie sal waardeer. Sy het 16 versoeke gekry en gee haar tweede tjalie aan die eerste een, ’n ma wat ’n tienerseun aan die dood afgestaan het.
Rina het besef sy kan nie alleen in die behoefte voorsien nie. Onderaan haar plasing bied nog ’n vriendin en haar ma gelukkig ook aan om te hekel. Net daar word die Atah shawl-projek gebore.

Haar gemeente begin saambrei en hekel
Die idee van ’n warm vertroostende tjalie het tydens die pandemie vinnig aftrek gekry. In die konteks van ’n tyd van isolasie waar aanraking as verbode en selfs gevaarlik beskou is, het hierdie tjalies ’n maklike manier gebied om na iemand uit te reik en liefde op ’n tasbare manier te wys.
Dit het een van die Skuilkrans NG Gemeente, waar Rina lidmaat is, se grootste omgeeprojekte geword. Die gemeente se vroue het gehekel en gebrei dat die biesies bewe en dié wat nie kon nie, is geleer. Oor elke stekie is daar gebid vir die ontvanger. Telkemale is gehoor hoe die regte kleur by die regte persoon uitgekom het sonder dat hulle mekaar geken het. Algaande is die projek ook uitgebrei om serpe vir mans en breiwerk vir kinders in te sluit.
Tjalies kry vlerke buite SA
Baie gou het die Atah shawl-projek selfs internasionale grense oorgesteek! Daar is nou al Atah shawl-tjalies in Ierland, Skotland, Duitsland, Australië en Kanada – en dit is net waarvan ons weet! ’n Groot verspreider is ’n ma wat baie betrokke is in die netwerk van kinders wat gebore is met Spina Bofide. Sy versprei dit veral in Amerika.
Daar is ook ’n pastoor wat in Eersterust help uitdeel, asook persone in George en Port Elizabeth. In Kaapstad is daar ’n ondersteuningsgroep vir mense wat kinders verloor het wat gereeld pakkies kry. Drie hospitale in Pretoria se kankerpasiënte tel onder die ontvangers van Atah shawls. Vir Moedersdag kon hulle 30 serpe stuur vir ma’s wat by hulle kinders bly in die onkologie-afdeling van ’n provinsiale hospitaal in die Oos-Kaap – mooi betyds vir die winter.
‘Hierdie is my roeping’
Rina het nooit in haar wildste drome gedink die projek sou uitkring en soveel mense se hart aangryp nie. Sy sê altyd haar man en kinders is haar lewe, argitektuur is haar beroep, maar Atah shawl is haar roeping in die lewe. Sy weet God se stem het daardie dag met haar gepraat toe sy die eerste tjalie weggee. Die Here se hand is oor die projek en dit is asof Hy self die balans tussen aanbod en aanvraag bestuur.
Haar netwerk van vlytige hande, wat nou al veel meer as haar gemeente se vroue insluit, noem sy haar ”shawl warriors”. Haar eie gesin help om alles mooi te verpak in ’n produksielyn van sakkies, lint en ’n bemoedigende kaartjie, “want dit moet mooi lyk”. Een dame het ook uit haar eie aangebied om gratis kraletjie-engele (“Angels of hope”) te maak wat aan elke pakkie vasgemaak word. Dan het sy ook ’n span sogenaamde “distribution warriors” wat fluks met aflewerings help. Rina se eie man, Hein, is een van die getrouste pakdonkies wat help om wol, tjalies en pakkies heen en weer te karwei.
Die terugvoer van mense dwing haar om die projek met steeds groter geesdrif te dryf. Sy hoor daagliks hoe die geskenk mense vertroetel en watter selfwaarde dit vir mense gee wat hekel. Veral ouer mense voel dat hulle deur hierdie handwerk kan help om lig en liefde te versprei. Vir Rina self werk dit angstigheid teë en help haar om kalm en rustig te word.
Hoe kan ander gemeentes en individue betrokke raak?
- Volg die Atah shawl Facebook blad
- Vra ’n tjalie aan of nomineer iemand om een te ontvang. Dit is heeltemal gratis. Rina vra nie eens ’n naam nie, sy wil net weet wat die omstandighede is, sodat sy en haar groepie ook kan saambid vir die ontvanger van die tjalie.
- Mense wat kan brei en hekel – selfs weef is welkom. Die projek ontvang enige tjalie of serp wat met die hand gemaak is. By die gemeente is mense wat jou kan leer, of Rina kan video’s, patrone of diagramme aanstuur om jou te help.
- Skenk geld vir koerierkostes en/of wol. Dit kos ongeveer R100 om ’n tjalie te maak. Die 300 gram bolle van Charity, 67 Blankets-reeks is baie ekonomies, maar enige double knit wol is welkom. Betaal in by Charming Wool* en stuur die bewys van betaling vir Rina.
*Charming Wool, Nedbank Menlyn tak, Tjekrekening: 1092 391 991, verwysing: Atah Shawl of Hope. Stuur asb die bewys na rina@ibsm.co.za en charmaine80@gmail.com sodat die donasie geëis kan word.
Annabelle Lombard is op die bedieningspan van Skuilkrans NG Gemeente.
