‘Ons is net ’n kanaal wat lidmate die kans gee om ’n verskil te maak’, hoor Heléne Meissenheimer tydens ’n besoek aan dié gemeente in Pretoria.
Elke Maandag vat Thabo Radzuma ’n taxi van Mamelodi na een van die groter NG gemeentes in die ooste van Pretoria. Dit is die dag waarop hy goed soos glasbottels, papiere, koerante en plastiekhouers oplaai by hulle herwinningsdepot in Stellastraat om by drie afsetpunte in die stad vir kontant in te ruil. In ’n goeie maand bring dié taak vir hierdie pa van twee tussen R1 000 – R2 500* in die sak – geld wat hom help om, tesame met die salaris wat die gemeente hom vir ander kerkwerk betaal, vir sy gesin te kan sorg.

Thabo is ’n oud-werknemer van PEN, ’n nie-regeringsorganisasie wat een van 20 vennote is met wie die NG Gemeente Stellastraat hande vat wat volgens die gemeente se webblad “in navolging van Jesus probeer help waar daar nood is”.
Dié makrogemeente met sy sowat 3 000 lidmate het vier predikante wat deel vorm van ’n groter bestuurspan. Fay van Eeden, ’n “eco warrior”-dominee wat ook blog, het sewe jaar gelede by die gemeente aangesluit. Sy is ook betrokke by die Diensgroep Uitreik en die herwinningsdepot is een van hulle projekte.
Fay het Thabo genooi om sy storie te vertel toe dr Nioma Venter, algemene sekretaris van die NG Kerk, onlangs saam met Kerkbode asook besoekers van ’n internasionale kerkhulporganisasie, Kerk in Actie, by haar meer wou hoor oor die maniere waarop hierdie gemeente in hulle groter gemeenskap ’n verskil probeer maak.

Vir sowat ’n uur, oor melktert en koeksisters, het Fay die een storie na die ander vertel. Suiwer inspirasie. Of dit gaan oor gratis chirurgie vir arm dogtertjies met bakore, speelgoed vir crèches met niks, intergenerasionele silo’s afbreek en borrels van bevoorregte isolasie prik … elkeen het iets van hierdie gemeente se verbintenis geïllustreer om buite hulle eie gemeentegrense die drie woorde van hulle motto te leef: ‘vry, lig en dien’.
Bevoorreg ja, maar bereid om te help
Fay het vertel sy het sewe jaar terug by die gemeente aangesluit. Hulle moderne kerkgeboukompleks is in ’n rustige boomryke woonbuurt geleë wat lê tussen Waterkloof en Brooklyn. Hier is nie sigbare armoede nie. “Ons is bevoorreg en ons bly in ’n bevoorregte woonbuurt,” sê sy. Die groter nood lê egter net 5 km weg in die middestad.
Sy vertel die meeste van hulle lidmate het nagraadse kwalifikasies en wil graag hulle vaardighede gebruik om ’n verskil in die groter gemeenskap te maak. Dit is vir haar spesiaal.

Klein treetjies wat mense verander
Dit is ook vir hulle gemeente belangrik dat lidmate uit verskillende generasies saam betrokke is. Sy sê op dié manier breek hulle bietjie vir bietjie vroeër jare se “silo-benadering” van aparte jeug- en seniorbedienings af en prik terselfdertyd ook ’n paar gate in die bevoorregte borrel waarin van hulle jonger lidmate leef.
“Dit is hoekom ons vir ons mense sê, kom saam. Jy gaan nie verander as jy nie in ’n verhouding is nie”, vertel sy.
Fay vertel dit bly ’n uitdaging om mense persoonlik betrokke te kry. Veral in ’n gemeenskap soos hulle s’n waar mense ’n besige lewe lei. Mense voel ook maklik oorweldig deur die omvang van ander se nood of die klimaatskrisis. Dan is die makliker roete om net geld te gee.
Lees ook: Is NG Kerk ondanks die insigte van missionale teologie steeds besig om wit belange te beskerm?
Haar benadering is klein treetjies.
So is dit daarom vir hulle as gemeente belangrik om geleenthede te skep waar hulle lidmate hulle gemeente se uitreikvennote asook die mense wat deur hulle gehelp word as mense kan leer ken. Hetsy Uitreiksondae met stalletjies deur hulle vennote, kuiers by ouetehuise of kinderhuise of saamsit vir etes in Danville, ’n armer woonbuurt so ’n halfuur se ry weg.
Vroeër vanjaar het sy haar vyfjarige dogtertjie saamgeneem na net so ’n ete. Soos hulle instap klink dié se stemmetjie toe helder op met “is dit nou die arm mense?”. Sy vertel sy was as ma so skaam, maar sê hulle twee het ’n “most incredible” gesprek gehad met die terugry. Deesdae klink haar dogtertjie se gebedjies anders …
Fay voeg by dat hierdie mense wat hulle help, “laat ons besef van God se genade, hoe bevoorreg ons is en van die uitnodiging om ’n verskil te kan maak.”

Vennootskappe skep kanale
Die gemeente het ’n lang geskiedenis van vennootskappe bou. Fay verduidelik hulle uitgangspunt is dat hulle in plaas van alles self doen, eerder wil hande vat met ’n NRO wat spesialiseer en sê “hoe kan ons jou hande sterker maak?”. Dit kan wees met “finansies, goed verpak of wat ookal nodig is,” verduidelik Fay verder.
Sy noem vroeër jare was daar selfs meer vennote maar die uitreikdiensgroep het onder leiding van twee lidmate, Neels en Louise Jackson, hulle fokus intussen verfyn. Hulle hooffokus is nou ouer mense en vroeëkinderontwikkeling (VKO of ECD in Engels). Laasgenoemde is natuurlik in lyn met die breër NG Kerk se 2015-besluit om op VKO-projekte te fokus as strategie om die land se armoede, ongelykheid en werkloosheid te help regstel.
Lees meer hieroor: Kerke in stukkende gemeenskappe: ‘Ons kan regtig nie meer net praat nie’ – Nioma Venter
Stellastraatgemeente se huidige vennote sluit vandag steeds klein en groot organisasies in vanaf Christelike NRO’s soos die Bybelgenootskap en die Gideons, kerklik maatskaplike hulporganisasies soos PEN en die Christelike Maatskaplike Raad (CMR).
Ook donateurs wie se bydraes nie deel vorm van die gemeente se begroting nie. Die Amerikaanse hulporganisasie Adopt a South African Preschool (ASAP) is een van hulle. Fay vertel dit was tydens die Covid-pandemie wat hierdie vennootskap gebore is. PEN het kleuterskoolforums begin wat vroue met crèches help met opleiding in VKO. Dikwels het sulke skooltjies niks speelgoed nie. Marlèse Nel, ook ’n lidmaat by Stellastraat, het met ASAP kontak gemaak en op hierdie manier is miljoene rande se opvoedkundige speelgoed reeds vir gebruik van PEN se kleuterskoolforums aangekoop. Sy gee ook vir die vroue opleiding hoe om lesse met die speelgoed aan te bied.

Fay sê nog ’n VKO-projek wat haar na aan die hart lê is hulle jaarlikse Tassieprojek vir graad R-kinders. Verlede jaar het hulle gemeente sowat 125 skooltassies vol skryfbehoeftes aan vennote met crèches kon uitdeel – dit danksy lidmate wat R600 per tassie kon borg.
Ander gemeentes in Noordelike Sinode tel ook onder hulle vennote sowel as kleiner organisasies, kinderhuise en talle kleuterskole. Sommige verbintenisse kom al baie jare aan soos met Jakaranda-kinderhuis by wie die gemeente al vir 43 jaar betrokke is.
Selfs Spar is aan boord. Die winkelgroep skenk elke maand twee ton mieliemeel (160 sakke van 12,5 kg elke twee weke)* wat lidmate van die gemeente dan verdeel onder vennote wat ouetehuise en crèches het.

Een so ’n ouetehuis is Harmonie-oord, ’n aftreeplek vir staatspensionarisse waar Stellastraat een van verskeie gemeentes is wat help met kos voorsien, besoeke bring en dienste hou, selfs help met meubels trek.
Die gemeente het ook ’n paar projekte van hulle eie soos ’n weeklikse ete wat tussen 60-70 mense kom bywoon wat op straat woon of op ander maniere swaarkry. Daar is ook planne om ’n gemeenskapsgroentetuin weer aan die gang te kry.
Soos Fay verduidelik, “ons is net ’n bietjie van ’n kanaal … ons gee vir lidmate die kans om ’n verskil te kan maak”.

Ekologie is deel van omgee
Thabo se herwinningsdepot val onder die beskerming van die uitreikdiensgroep. Dit word heelweek deur die hele gemeenskap gebruik wat sakke vol herwinbare materiaal kom aflaai wat hy dan later sorteer. Hy vertel met passie watter soort herwinmateriaal (wit papier en aluminium) die meeste geld inbring.
Hierdie pos was ’n uitkoms vir hom sowel as die gemeente. Hy was vyf jaar terug werkloos toe hy hoor hierdie gemeente soek iemand om hulle herwinningsdepot te bestuur. “That’s why recycling to me is more than boxes … it is a blessing,” sê hy.
Vir Fay pas omgee vir die omgewing heel natuurlik in by uitreik. Soos sy verduidelik, “om lief te wees vir jou naaste sluit in om te sorg vir die omgewing waarin hulle woon”.
Elke September doen sy ’n preekreeks wat hierop uitbrei. Daar is ook selfdoenprojekte met herwinningsmateriaal waaraan lidmate kan deelneem. Siende die klimaatskrisis ook iets is wat mense oorweldig kan laat voel, is haar fokus ook hier op klein treetjies wat mense kan neem. Soos om ’n reisbeker saam te neem op vakansie.

Uitreiksondae
Elke Meimaand op Uitreiksondag pak die gemeente se vennote stalletjies uit om te wys wat hulle doen. Dit is by net so ’n Sondag dat Nioma vertel sy ’n afgetrede dataspesialis ontmoet het wat haar nou help met die ontwikkeling van ’n databasis vir die NG Kerk se 12 kerklik maatskaplike organisasies.
“Dit is sulke netwerkstories wat ek wil hê julle moet hoor,” noem sy vir haar gaste.
Hierop vertel Fay ook ’n netwerkstorie. By ’n vorige uitreiksondag het twee vennote, Healing Hands en CMR langs mekaar uitgestal. ’n Paar maande later vra ’n CMR-maatskaplike werker vir Fay of sy vir haar hulle kontakdetails kan gee. Sy wou hoor of hulle ’n arm meisie met bakoortjies kon help. Die kind wou glo al haar eie lewe neem omdat die kinders haar vreeslik spot. Healing Hands het in September ’n prosedure op haar ore uitgevoer. “Sulke netwerkstories is lieflik,” sug Fay tevrede. En voeg by, “as ons net dit kan fasiliteer doen ons al genoeg. Dan skep ons ’n spasie …”
- Berig is aangepas na publikasie.
