‘Die natuur is ons moeder’ | Jaco Strydom gesels met Fay van Eeden

“Toe blaas ek die oom se kar se bande af,” sê Fay. “Ek het gevoel ek kan nie net níks doen nie.”

“Hoe oud was jy?” vra ek.

“Twaalf,” sê sy en vertel hoe sy van kleins af ’n passie het om te bewaar en versorg, veral wanneer dit oor die natuur gaan. “Dis nog altyd in my grein,” sê sy.

Die oom was ’n stroper wat op die Suidkus sonder ’n permit streepsakke vol mossels geoes het.

Fay van Eeden is vandag ’n dominee by NG Stellastraat waar sy, behalwe vir al die normale predikantsverpligtinge, verantwoordelik is vir die gemeente se uitreikbediening en hulle fokus op die ekologie.

“Ek is ’n Britse boertjie,” lag sy en vertel van haar Engelse ma en Afrikaanse pa: “Gesinne in die ooste van Pretoria was in die 1980’s en ’90s redelik homogeen, maar nie myne nie!”

As kind het hulle nooit kerk toe gegaan nie. Een van die mense wat die grootste indruk op haar lewe gemaak het was ’n onderwyseres in graad drie: “Juffrou Theunissen het my vertel van Jesus, dat God vir my lief is en ’n verhouding met my wil hê.”

Lees ook: Afhanklikheid, herstel en gidshonde … Jaco Strydom gesels met Michiel van der Merwe

Na sy haar “hart vir Jesus gegee het in Standerd een”, het sy vir haar pa gesê: “Pappa ek wil ook kerk toe gaan!”. Haar pa het ingestem en van die volgende Sondag af het hulle gesin ingeskakel by ’n gemeente. “My ouers het my nog altyd baie ondersteun,” sê Fay.

“Twee van my lewensmottos is ‘Alle mense is mooi’ en ‘Ek kan by almal iets leer’. Daar is só baie mense wat ’n invloed op my geloofspad gehad het. En steeds het. Ek leer by almal iets. Al is dit dan oor wat om nie te doen nie!” sê sy.

Na skool het Fay ’n diensjaar gedoen wat aangebied is deur Oosterlig- en Elarduspark-gemeentes. Daarna het sy ingeskryf vir teologie by die Universiteit van Pretoria.

Behalwe vir haar passie vir die ekologie het Fay ook ’n besondere passie vir die Antieke Kultuurgeskiedenis en veral Ikonologie, die studie van ikone. Sy het onlangs ’n MTh in Praktiese Teologie voltooi waarin sy onder andere gekyk het na die potensiaal vir die gebruik van ikone in gereformeerde liturgieë en persoonlike aanbidding.

Lees ook: Jaco Strydom gesels met Erick du Toit oor dominee-wees in Skotland

Wat doen sy vir ontspanning?

Sy vertel dat haar gesin haar passie vir die natuur deel: “Ek en my gesin reis graag. Ek is mal daaroor om nuwe plekke te ontdek, mense te ontmoet en nuwe disse te probeer. Ons geniet dit om tyd in die natuur te spandeer. Ek en Peet is kranige voëlkykers en gaan graag Krugerwildtuin toe.”

Ons gesels oor die groeiende druk op die ekologie en die rol wat die kerk veronderstel is om te speel.

Dit is ’n komplekse saak. ’n Mens kan maklik verlam voel, voel dat slegs die groter magstrukture en entiteite soos regerings en internasionale maatskappye iets daadwerkliks kan doen aan die groeiende globale ekologiese krisis. Fay is egter van die oortuiging dat gemeentes lidmate kan help om ’n dieper liefde vir die skepping te kweek en te begin deur persoonlik verantwoordelikheid te neem. “’n Mens pas mos iets beter op as jy lief is daarvoor,” sê sy. In die proses word ’n nuwe groep jongmense groot wat hopelik meer sensitief as ooit te vore is vir die natuur, en hopelik is daar uiteindelik groter druk op regerings en maatskappye om nuut te dink.

Maar die tyd is min.

Daar is heelwat ekologies vriendelike gewoontes wat individue en gesinne daagliks kan doen. Fay vertel van Béa Johnson se vyf R’re: Refuse, Reduce, Re-use, Recycle en Rot. In kort: Ons moet Refuse, nee sê vir sekere produkte wat nie ekologies vriendelik is nie; Reduce, minder onnodige goed gebruik; Re-use, produkte kies wat ons oor en oor kan gebruik, Recycle, herwin; Rot, die waarde van organiese prosesse in byvoorbeeld die maak van kompos ontdek.

Lees ook: Plastiekvrye Julie #1: Toe ek die groen kloutjie by die oor gebring het …

As gesin probeer hulle iets hiervan uitleef. Hulle probeer byvoorbeeld om so min moontlik produkte te koop wat van plastiek gemaak is, eet sekere dae van die week glad nie vleis nie en koop deesdae sjampoe-stafies in plaas van sjampoe in plastiekbottels. Sy sal ook ’n glas-watterbottel saamdra, eerder as om gebottelde water te koop. “Ons sukkel ook maar dikwels hiermee,” erken Fay.

Die groot waarde van hierdie gewoontes is dat dit ’n mens sensitief maak vir ons verbruikersmentaliteit se destruktiewe effek op die ekologie. Dit maak ’n mens se oë oop en help jou om anders te dink.

“‘It’s just 1 plastic toothbrush,’ said 8 billion people,” herinner sy my aan die bekende aanhaling.

Ons het meer stemme wat opstaan vir die natuur in die kerk nodig. Dinge kan nie so aangaan nie.

“My liefde en besorgdheid vir die skepping kom van kleins af. Ek praat oor ’n meer volhoubare lewenstyl met enige iemand wat wil luister! Ek het tydens die pandemie my eie blog begin skryf waarin ek my drie groot passies deel: ’n eko-vriendeliker lewenstyl, kos en reis (en hoe ’n mens dit meer volhoubaar kan doen).” Fay van Eeden het ook tydens die pandemie die geleentheid gehad om artikels oor die ekologie te skryf vir Rapport en Lig. ’n Dominee met die regte passie én die regte van om hierdie dinge te praat en te skryf, dink ek terwyl ons gesels.

“Ons moet onthou: die natuur is ons moeder,” sê Fay aan die einde van ons gesprek, en ek onthou Meister Eckhart se observasie dat ons, wanneer ons gebore word, nie ná die aarde toe kom nie, maar uit haar uit kom, soos branders uit die see.

  • Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG Gemeente Villieria en die Echo-Jeugbediening.
Word 'n vriend van Kerkbode