Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Elders gesien | Spirituele begeleiding : Drie opleiers gesels

Wat is spirituele begeleiding en is dit van waarde vir predikante in hulle bediening?

Hierdie vrae is Dinsdag 22 Julie onder die loep geneem tydens ’n VBO-geleentheid aangebied deur Excelsus, die Sentrum vir Bedieningsontwikkeling van die NG Kuratorium, Universiteit van Pretoria, berig Magdaleen du Toit in Vrypos, 25 Julie 2025. 

Lees ook: Spiritualiteitsoefeninge: ‘Ek het alles wat ek reeds geleer het net vir die eerste keer beleef’

Die gesprek, gelei deur Excelsus-hoof dr Tom Smith, was met drie opleiers van die Sentrum vir Kontemplatiewe Spiritualiteit (SKS; ’n bedieningsfokus van die NG Ring van Suidoos-Pretoria) waar spirituele begeleiers opgelei word. 

Die opleiers is George Angus, hoof van opleiding by SKS, voormalige NG-predikant en retreatleier van Restory Retreatsentrum naby Wakkerstroom; dr Marina van der Linde, leraar van Ooskerk Pretoria en aanbieder van die Viam Dei-kursus in haar gemeente; en Nicolin Hoffmann, gesoute spirituele begeleier met ’n fokus op kreatiwiteit. 

Die afskopvraag was: Waar pas spirituele/geestelike begeleiding in die groter prent?

Calvyn het gesê: As ons God wil leer ken, moet ons onsself leer ken. Marina verduidelik: Die dieper, interne pad met God is ’n individuele pad, maar op hierdie pad het ’n mens steeds ’n metgesel, ’n gespreksgenoot nodig. Spirituele begeleiding is nie pastoraat nie: daar word nie raad of oplossings vir probleme gegee nie. Dis ook nie ’n sielkunde-sessie nie – die spirituele begeleier vervul ’n intensionele funksie in my geloofslewe om my te help luister en duideliker te sien wat God besig is om in my lewe te doen. Die impuls vir die gesprek kom uit die alledaagse lewe van die begeleide, sê Marina; die tema is dikwels bloot ’n alledaagse ervaring, “die aartappel wat vandag bo in die sak lê”. Dis my taak as begeleide om te vra: “Hoe speel hierdie tema of ervaring in op die pad waarop God my lei?” Ek word nie voorgesê nie; die begeleier help my net om dieper te kyk, nuut te kyk, en te sien wat God vir my lewe begeer, soos dit selfs in geringe ervarings weerspieël word. 

Lees ook: Spiritualiteit: ‘Kom word met elke sintuig stil’

God is altyd eerste op die toneel en wag ons in, sê George. Ons is voortdurend met God op reis, maar ek is nie altyd bewus van God se teenwoordigheid in die detail van my lewe nie. Hier speel die spirituele begeleier ’n rol: my ervarings is die ‘materiaal’ van my pad met God, en die begeleier loop saam, vra vrae, merk temas op … en help my om met verloop van tyd patrone raak te sien waarvan ek nie altyd self bewus is nie. ’n Gereelde ontmoeting met jou begeleier is soos om seep te kook in die ou dae, sê George: die seep kook, die skuim word afgeskep, dit kook, die skuim word afgeskep … Dinge wat onder die oppervlak verborge lê en my verhouding met God vertroebel, kom geleidelik na bo, word herken en “afgeskep”. 

Nicolin beklemtoon dat daar drie persone in hierdie gesprekke teenwoordig is: begeleier, begeleide en die Heilige Gees. Die inisiatief gaan van die Gees uit, die Gees luister saam en die gesprek is ’n heilige ruimte waar ’n mens veilig en eerlik kan wees. So raak ’n mens diep bewus van die teenwoordigheid van ’n aktiewe God. 

Die gesprek is ’n geleentheid vir stil word, sê George. In hierdie ruimte raak die geraas in ons koppe en in ons binneste stil en kan ons ons oopstel vir ’n groter gesprek – ’n gesprek wat vanuit die stilte na vore kom. 

Watter waarde kan predikante put uit spirituele begeleiding?

Begeleiers word opgelei om geloofsleiers kans te gee om te gesels.  Die kerkstrukture ondersteun nie altyd die leiers om hul eie broosheid te besef en in veiligheid daaroor te gesels nie. Tom gebruik die beeld van ’n reisagentskap: die dominee is dikwels soos die agent wat vir ander mense reise uitwerk en beplan, maar nooit self op reis gaan nie. 

Hy verwys na skrywer Eugene H. Peterson se driehoek waarvan die drie uiterlike sye bestaan uit ‘Teaching’, ‘Preaching’ en ‘Admin’, terwyl die innnerlike hoeke ‘Prayer’, ‘Scripture’ en ‘Spiritual direction’ (spirituele begeleiding) verteenwoordig. Die innerlike elemente is die anker ten einde die uiterlike elemente versterk. So word leiers van binne toegerus om op ’n nuwe manier te lei. 

Predikante het dikwels onverwerkte pyn, moegheid, verlange, jarelange seer, meen George. In die begeleidingsproses word jy met jouself gekonfronteer en leer jy jou outentieke self ken terwyl die ego algaande terugstaan. Dan word jy die mens met ’nothing to prove, nothing to project, nothing to protect’. 

Dis die plek waar God jou beetkry, sê Marina; waar jy God self beleef, nie net informasie oor God nie – sodat jy kan sê: ‘Ek is in God gegrond.’

  • Magdaleen du Toit was die vorige sameroeper van die Netwerk vir Spiritualiteit.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top