Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hanna de Kock tree dikwels op as lewende getuigskrif van die werk wat die CMR Gauteng-Oos verrig. Foto; Verskaf

‘Ek ken beide kante van die stelsel’ | Ontmoet Hanna de Kock – CMR Gauteng-Oos se ambassadeur en motiveringspreker

Hanna se storie begin toe sy as driejarige aangeneem is. Sy beskryf haar ma as nomadies en iemand wat sy nooit geken het nie. Die familie wat haar aangeneem het was aanvanklik baie gelukkig, maar teen die ouderdom van 11 het haar aanneempa se werkloosheid en afhanklikheid gelei tot gesinsgeweld en verwaarlosing. Haar aanneemma het haar nie beskerm nie, maar die woede eerder aangevuur.

 

Ten spyte van alles sou sy enige iets doen om in die geborgenheid van ’n gesin te bly. “Maak nie saak hoe sleg jou ouers is nie, ’n kind sal alles verduur ter wille van die geborgenheid van ’n familie en ’n kind sal alleenlik begin uitpraat of vra vir hulp as dit eintlik reeds te laat is. Dit het gevoel of dit my verantwoordelikheid was om my ouers te beskerm, hulp te soek en na hulle om te sien.”

Die aand toe dinge heeltemal verkeerd geloop het

Dit was in Desember, Hanna was 13 jaar oud en al vir twee weke sonder kos. Teen die tyd het haar ouers nie slegs oor naweke gedrink en gewelddadig geword nie, maar dwarsdeur die week, dag en nag. Haar ma was bedgebonde en ook verslaaf aan drank en medikasie. Niemand het kos gekoop of gemaak nie en sy was heeltemal aangewese op haarself. “Ek het by maatjies en bure geëet en gebedel vir kos. “My pa dreig die heeltyd hy gaan die gesin uitwis en sy was ewe bang om te gaan slaap en wakker te bly. Die 303-geweer staan in die hoek van die kamer en die handpistool en die messe was altyd byderhand.” Sy het die bure gaan vra vir hulp en ’n predikant het kom inloer, maar haar pa was reeds te dronk om rede in te sien. Dit het hom woedend gemaak toe hy besef sy het stories aangedra en haar beveel om die deure te sluit. “In my hart het die Here egter duidelike instruksies gegee: hou die sleutels, moenie die ‘Yale lock’ aansit nie.” Haar pa het haar met ’n vleismes gegooi, maar sy kon daarvoor koes en uit die huis vlug tot by die oorkantste bure. Terwyl sy klop hoor sy die skote klap en sy het net Psalm 23 onophoudelik opgesê.

Anneke Steyn (regs) by ’n uitstalling van CMR Gauteng-Oos wat gehou is by Skuilkrans NG Gemeente se getuienismaand. Saam met haar op die foto is uitreikaksieverteenwoordiger Maryna Minnie wat saam met Anneke probeer bewustheid skep vir Huis Benjamin – die CMR Gaunteng-Oos se huis van veiligheid waarby die gemeente betrokke is.

Niemand is raakgeskiet nie, maar die polisie het haar pa gearresteer en sy het hom selfs in die aanhoudingselle besoek met klere en sigarette. Haar ma was te kwaad om met haar te praat. Steeds gee sy om vir hulle en sou sy enige iets doen om haar gesin terug te kry. ’n Baie jong maatskaplike werker het hard baklei om die gesin bymekaar te probeer hou, maar haar pa het elke kans om te rehabiliteer van die hand gewys.

Terwyl sy by die bure in veilige sorg was, het sy twee keer haar ma se lewe gaan red terwyl sy probeer selfdood pleeg het. Haar pa het ook later sy wapens terug gekry danksy ’n goeie prokureur en net voortgegaan met sy lewe. Dit was bitter moeilik om teen hom te getuig in die hof en die geleentheid vir berading het nooit gekom nie.

Van kinderhuis tot lewensafrigter

Uiteindelik het sy na Abraham Kriel-kinderhuis gegaan uit die besef dat die gevaar tuis nie verby is nie en die vrees dat sy nie skool sal kan klaarmaak nie. Sy het vas geglo die Here het ’n doel vir haar lewe en het alles gegee om bo uit te kom. Sy vertel van al die puik maatskaplike werkers op haar pad en al haar mooi kinderhuisherinneringe en hoe sy dalk ’n bietjie voorgetrek is.

Terwyl sy daar was kom die nuus dat haar ma oorlede is, maar sy kon dwarsdeur haar lewe vashou aan Psalm 27:10 wat sê al verlaat jou ouers jou, sal die Here jou versorg.

Jare later versorg sy haar pa liefdevol tot hy sy laaste asem uitblaas na ’n kankerlyding. Sy het hom onvoorwaardelik vergewe – ter wille van haar eie sielerus – en het hom nooit ophou liefhê vir die mens wat hy was en kon wees nie.

LUISTER OOK: Anneke op Ligsoekers se podsending en Hanna op Ligsoekers se podsending

 

Hanna het ’n passie vir kinders en families en het op ’n stadium as sekretaresse by die Cullinan-tak van CMR Gauteng-Oos gewerk. Dit was vir haar wonderlik om ook die ander kant van die stelsel te beleef en was dikwels saam as kinders gered moes word. So gebeur dit ook dat die heel eerste aanmelding waarheen sy op huisbesoek uit was, was van kinders wat verwyder moet word. Niemand anders nie as ’n meisie wat destyds saam met haar in die kinderhuis was! Dit is bitter selde dat iemand dit regkry om die kringloop te verbreek en self deel raak van die oplossing om lig en genesing vir ander te bring.

Hanna kon uiteindelik sielkunde studeer, haar eie kinders grootmaak en is vandag ’n lewensafrigter en motiveringspreker en dra die trotse titel as CMR-ambassadeur. Dit is haar lewensdoel om vir mense hoop en lig te gee wat vloei uit die duisternis waaruit sy gered is.

Sy weet haar swaarkry was nie verniet nie en die Here kan dit gebruik om ander se lewensrigting te verander. Hanna lewe in totale verwondering oor die lewe en al die hulp en liefde wat sy ontvang het. Dit kos net een persoon wat nie anderpad kyk nie … 


Meer oor CMR Gauteng-Oos 

Een van die getuienisaksies waarmee Skuilkrans NG Gemeente al die langste pad loop, is die CMR Gauteng-Oos. Annabelle Lombard vertel meer.

Die twee dames wat by my kom kuier lyk op die oog af soos enige ander mense wat my pad kruis, maar dit word gou duidelik dat hulle ’n buitengewone roeping het en dit met onblusbare en vreeslose passie verrig. Anneke Steyn skakel met ons gemeente as bemarker by CMR Gauteng-Oos en Hanna gaan dikwels saam as lewende getuigskrif van die CMR se werk.

Dit is wonderlik om hande te vat met ’n organisasie wat sy ontstaan reeds in 1936 gehad het. Anneke vertel hoe die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) uit die NG Kerk se Welsynsraad gegroei het en oor die jare uitgebrei het om die gemeenskap beter te dien. In 2008 word die CMR Gauteng-Oos gestig as niewinsgewende organisasie. Werksareas word deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling bepaal. Die sewe kantore is in Lyttelton, Cullinan, Silverton, Faerie Glen, Bronkhorstspruit, Elarduspark en Waterkloof Glen.

CMR Gauteng-Oos is ’n statutêre kantoor wat kinders in die hof kan verteenwoordig. Die hooffokus is kinders en families en dit word deur vier werksareas gedoen, naamlik kinderbeskerming, gesinsbewaring, armoedeverligting en gemeenskapsontwikkeling.

Die rol van ’n maatskaplike werker in CMR is om kinders te beveilig en hulle in die hof te verteenwoordig. Anneke is lief daarvoor om gehore daarop te wys dat elke kind ’n superhero nodig het, maar dat die CMR se helde nie met mantels, maskers en skilde kom nie, maar rondloop met arms vol lêers en baklei in die hof vir kinders se veiligheid met alles in hulle.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top