Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Brief: ‘Regter sê slegs dat saak moet wag’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Theo Danzfuss van Nelspruit skryf: Gelowiges behoort hulle geskille eerder deur die kerklike kanale uit te klaar as om mekaar voor heidense regters te daag (1 Kor 6:1-3). Maar ook Paulus moes by geleentheid homself op die burgerlike hof beroep vir sy reg as Romeinse burger. KO art 23.6 bevestig lidmate “… mag hulle nie tot die burgerlike hof wend in hulle beswaar teen ’n kerkvergadering se besluit(e) nie, voordat hulle nie eers die kerklike middele tot hulle beskikking aangewend en uitgeput het nie.”

Die Bybel en Kerkorde gee dus geen vrypas vir kerkvergaderings om lidmate willekeurig te boelie met die troos dat hulle nooit voor ’n burgerlike hof rekenskap hoef te gee van magsmisbruik en boeliegedrag nie.

Lees ook: Brief | ‘Regter se besluit was slegs oor dringendheid’

Lees ook | Brief: ‘Hof het nog nie oor die meriete van die saak beslis nie’

Lees ook: Brief | Hofsaak teen kerk: ‘Aansoek sal wel binne enkele maande op nie-dringende basis aangehoor word’

Ds Coetzee, van Karatara-Sedgefield, is verlede jaar permanent as predikant geskors weens ’n belaglike kwaadwillige klag teen hom. Uit eerbied vir die Woord het hy hom op daardie stadium nie tot die KMVA of Arbeidshof gewend nie, maar besluit om eers die kerklike pad te loop. Na meer as ’n jaar se tevergeefse pogings om ’n onpartydige kerklike verhoor te kry, is hy amptelik in kennis gestel dat al die kerklike middele tot sy beskikking nou uitgeput is. Die enigste oorblywende opsie is om hom nou te wend tot die burgerlike hof. Sy saak is reeds by die hooggeregshof geliaseer, maar tans wag hy nog om ’n geskikte hofdatum te kry. Weens die groot emosionele en finansiële skade wat hy en die gemeente al meer as ’n jaar lank moes ly, het sy regspan op 5 Augustus die hof genader vir ’n dringende tussentydse bevel om met die steun van sy kerkraad en gemeente, te kan voortgaan met sy werk totdat hulle ’n hofdatum kry. Die hof wou egter op hierdie stadium geen uitspraak oor die meriete van die saak maak nie, maar slegs dat dit nie so dringend is om nou voor ander sake op die rol in te druk nie.

Dieselfde dag, 5 Augustus, publiseer Kerkbode ’n “Verklaring uitgereik deur Charl Stander, aktuarius van die Sinode van Wes-Kaapland namens die respondente.” Hierdie verklaring is ongelukkig misleidend en vals. Die indruk word geskep dat die regter al sy besware verwerp en hom vermaan het om die besluite van die kerklike pad te aanvaar. Daarvolgens het hy dus reeds die hofsaak verloor. Die valse verklaring het groot skade aan hom en sy gemeente gedoen. Die waarheid is egter dat die regter enige uitspraak oor die meriete van die saak uitdruklik weerhou het, maar slegs aangedui het dat dit moet wag vir die normale beurt op die hofrol.

Lees ook | Verklaring: Regter stel voormalige leraar se aansoek ter syde

Lees ook |Verklaring: Regstegniese implikasies van hofuitspraak (opvolg) 

Die verklaring is amptelik gepubliseer deur Charl Stander namens die respondente: dit is die Ring van Knysna, die Ringstugliggaam van Knysna, die Sinode van Wes-Kaapland, die SAL van Wes-Kaapland, die Algemene Sinode, die appèlliggaam van die Algemene Sinode, en die Algemene Sinode se ASM. Die vraag is nou: Gaan hulle saam met Charl pa staan vir hierdie vals verklaring en die gevolge dra, of gaan hulle die integriteit toon deur hulleself in die openbaar daarvan te distansieer? Die lidmate wag in spanning.

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top