Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Mai Shaer noem haar kunsuitstalling ‘The Violet dream’, want 'die kleur violet is ’n mengsel tussen blou wat staan vir vrede en vryheid en rooi wat staan vir oorlog en dood … dit vertel my mense se storie en hoe almal net daarna kyk' sê hierdie jong kunstenaar uit Gasa. Foto: Helene Meissenheimer

‘Kuns sal my gereedskap wees om Gasa se storie te vertel,’ sê vlugteling wat in die Kaap heenkome vind

Sestigduisend van haar landgenote in Gasa is al dood en nou dreig hongersnood … terwyl “die wêreld net toekyk”. Mai Elshaer sê dit is hoe dit vir haar voel. Dié 23-jarige het in November saam met haar ma en haar 10-jarige sussie via Egipte na Suid-Afrika gekom nadat sy ’n oorsese kunsnavorsingsgenootskap (fellowship) van die Ben Instituut ontvang het.

Sy vertel hulle het aansoek gedoen om vlugtelingstatus. Haar pa, broers en ander susters bly by familie in Egipte. Haar ma is ’n sjef wat soms kookklasse aanbied in die kerksaal van die Groote Kerk. Dié gemeente vorm deel van ’n gemeenskapsnetwerk wat die gesin help, het Riaan de Villiers, een van die gemeente se predikante, vroeër vir Kerkbode vertel.

Kerkbode ontmoet Mai buite die Michaelis School of Fine Art in Kaapstad waar sy besig is om aan haar eerste kunsuitstalling te werk. Sy nooi my na haar “office” soos sy die klein ateljee beskryf waar sy werk.

Agter haar rug staan ’n treffende halfklaar portretskildery van ’n ouer vrou wat soos sy lyk. Dit is van haar 48-jarige ma, Souad Qeshta, sê Mai. Op haar gesig is twee reghoekige blokke wat lyk soos outydse swart en wit skyfies. Daarop staan geskryf ‘You watch’.

Mai mis hoe dit was. Sy wys video’s op haar selfoon … Foto: Helene Meissenheimer

Sy noem haar uitstalling ‘The Violet dream’, want “die kleur violet is ’n mengsel tussen blou wat staan vir vrede en vryheid en rooi wat staan vir oorlog en dood … dit vertel my mense se storie en hoe almal net daarna kyk,” verduidelik die fyngeboude kunstenaar sag in beperkte Engels. Sy dra swart. Net die kopdoek om haar donker hare het kleur, ligpienk.

Ek en sy gesels op ’n Woensdagmiddag. Net ’n paar kilometer weg hou ’n klein klompie getroues weekliks op hierdie tyd waakdiens (vigil) voor die St George’s-katedraal met ’n paar plakkate in die hand wat sê Israel moet die oorlog teen Gasa stop. Ons gesels ’n bietjie oor protesaksies en hoe dit blyk al meer mense regoor die wêreld daaraan deelneem. Hier in die Kaap, in die VSA, Brittanje, Europa, Australië, selfs in Israel.

“Ons is regtig dankbaar vir elkeen wat iets sê,” sê Mai, maar voeg dan by haar hoop is dat iemand vir die Israeliese premier Benjamin Netanyahu sal kan sê om sy planne vir militêre oorname van Gasa te stop en dat hy sal luister.

“Meer as 60 000 mense is al dood …  my wens is dat Palestina vry kan wees soos enige ander land en dat Gasa weer kan wees soos dit was voor die oorlog,” voeg sy by.

Mai sê sy onthou hoe veilig dit gevoel het terwyl sy in Rafa, ’n stad op die Egiptiese grens, grootgeword het. Grafika: Commons.wikimedia.org

Net video’s bly oor

Mai sê sy onthou hoe veilig dit gevoel het terwyl sy in Rafa, ’n stad op die Egiptiese grens, grootgeword het. “Ons het sulke mooi herinneringe opgebou,” vertel sy. Sy wys video’s op haar selfoon wat netjiese moderne stede wys. ’n Mens sien breë strate omsoom met palmbome, hoë geboue en moskees, ook ou kerke met kleurvolle mosaïekmure.

Vandag is die meeste hiervan weg. Hierdie antieke strokie kusgrond langs die Middellandse See is nou grotendeels murasies en tentdorpe. Van Rafa het net ’n rommelhoop oorgebly.

Mai mis hoe dit was. Sy vertel: “Dit was ’n veilige plek, ’n mooi plek om in te lewe. Ons was ’n hegte gemeenskap … die gevaar was altyd van buite,” voeg sy by. Sy verduidelik Israel, hulle noordelike buurland, beheer al vir baie jare die invoer van kos asook elektrisiteit en watertoevoer na Gasa. “Dit is hoekom ek sê ons land word beset,” voeg sy by.

Van Rafa het net ’n rommelhoop oorgebly. Foto: Commons. wikimedia.org

Verskillende narratiewe

Ons kom agter ons narratiewe verskil. Vir haar was Israel nog altyd die aggressor. Hamas, die Islamitiese weerstandsbeweging wat beheer oor Gasa oorgeneem het in 2007 en volgens die VSA as ’n terroriste-organisasie beskryf word, is vir haar doodgewoon net “ons regering”.

Sy rits die een datum na die ander af wat Israel voor Oktober 2023 vir Gasa gebombardeer het. In 2014 het Israel Gasa vir 50 dae aangeval (volgens een verslag deur die Verenigde Nasies het meer as 2 000 Palestyne toe gesterf, wat meer as 500 kinders insluit).

“Hoekom het mense dit geïgnoreer?” vra sy.

Hierdie spanning tussen Israel en Gasa is die hartseer nagevolg van ’n veel langer komplekse geskiedenis waarvan sy tot haar skok agterkom baie mense wat sy in die Kaap ontmoet het nog steeds bittermin weet.

Haar ma is ’n sjef wat soms kookklasse aanbied in die kerksaal van die Groote Kerk. Dié gemeente vorm deel van ’n gemeenskapsnetwerk wat die gesin help, het Riaan de Villiers, een van die gemeente se predikante, vroeër vir Kerkbode vertel. Foto: Verskaf

Sy ontdek dat mense nie weet Israel was deur Brittanje beset voor dit oorgegee is aan die Verenigde Nasies nie. Hulle weet ook nie van die gewelddadige ontheemding van duisende Arabiese gesinne in 1948 (bekend as die Nakba wat beteken ‘katastrofe’ in Arabies) of al die oorloë en konflik daarna nie.

Ek sê vir haar dit is waar. My eerste kennismaking met moderne Israel was as tiener toe ons as gesin in die vroeë 1980’s ’n dominee-begeleide toer deur die land van die Bybel gedoen het. Die storie was God het sy volk teruggebring na die beloofde land. Ons het gehoor van die Sesdae-oorlog en Israel wat wonderbaarlik regkry om te floreer omring deur vyandige bure. Niks is gehoor van Palestyne wat onderdruk word nie.

Palestina se grondverlies sedert 1947. Kerkbode-argief

Die narratief waarmee vele Christene in Suid-Afrika grootgeword het, is een waarin Israel gesien is as die een wat “alles doen om vrede te bewerkstellig en dat Palestyne grootliks verantwoordelik is vir die aggressie,” het dr Marthie Momberg dit in 2019 in Kerkbode verduidelik. Sy het gesê “miljoene gelowiges – dikwels met goeie bedoelings – glo dat Israel onvoorwaardelike lojaliteit verdien”.

Lees ook: NG Kerk gee uit medelye humanitêre hulp in Midde-Ooste

Ons gesprek herinner my aan ’n onlangse Amerikaanse podsending wat ek gekyk het, The Weekly Show. Jon Stewart, die aanbieder van die Daily Show, het in Augustus tydens sy onderhoud met die Palestynse skrywer, Mosab Abu Toha, opgemerk hulle as Amerikaners is “grootgemaak in ’n narratief dat Israel ’n noodsaaklike goeie is”. Hy het genoem watter invloed rolprente soos Steven Spielberg se Oscar-bekroonde Schindler’s list asook ’n rolprent soos Munich, op hom gehad het en dat hy self ’n lemoenboompie in Israel gaan plant het. Nou wonder hy of hy dit moet uithaal … (ek het na die tyd vir Jon geGoogle en gesien hy is ’n Jood).

Toe Hamas se aanval op Joodse kibboetze en jongmense by ’n musiekfees op 7 Oktober 2023 plaasvind, was die Westerse wêreld nog grootliks aan Israel se kant. Amerika en Duitsland het wapens aan Israel voorsien met die Duitsers wat eers onlangs besluit het om dit te stop.

Mai sê sy verstaan dat mense nie al die dinge weet nie. “Dit is nie hulle skuld nie, maar hulle moet opgevoed word,” voeg sy by. Sy onthou die verwarring van daardie Oktober in 2023. Na hulle gehoor het van Hamas se aanval op Israeliese kibboetse, sê sy, het hulle net by die huis gesit om te kyk wat gaan gebeur. Toe begin die bomme val en neem die Israeli-weermag totale beheer oor alles en almal wat inkom en uitgaan.

Lees ook: Lesersbydrae | Israel en Gasa: ‘Die vraag is nie soseer wie reg en verkeerd is nie, maar wie ons deernis en medelye nodig het?’

Sy is nie kwaad vir Jode nie

Na byna twee jaar waarin Israel Gasa feitlik verguis het, is dit die beelde van menslike lyding, baba’s en kinders wat verhonger, wat wêreldwyd besig is om hierdie ‘goeie beeld’ van Israel te verander.

Mai vertel hulle as gesin was gelukkig om almal te kon wegkom. Sy gesels op WhatsApp met bekendes wat agtergebly het – wanneer hulle internetsein het. Dit is ongemaklike gesprekke, “ons het nie meer woorde om hulle beter te laat voel nie,” vertel sy. Daar is amper niks kos in Gasa te koop nie en dit wat daar is, is peperduur (sy sê ’n hoender as ’n mens een kan kry, kos soveel as 150 Amerikaanse Dollar wat neerkom op sowat R2 600). Geld is min. Mense wat in professionele posisies was, kan nie meer werk nie, want hulle werkplekke bestaan nie meer nie.

Sy is nie kwaad vir Jode nie, sy blameer die Sioniste wat alles net wil kom oorvat, sê Mai. Sionisme is “’n imperiale, politieke ideologie met die doel om Palestina te verander in ’n Joodse staat” soos Momberg dit in haar boek omskryf. Onder Christene sowel as Jode is daar verdeeldheid rondom ondersteuning vir Sionisme. Die NG Kerk was sover versigtig om standpunt hieroor in te neem.

Lees ook: ALGEMENE SINODE 2023 BESLUIT: Palestina en Israel

Kuns kan ’n kragtige medium wees

Maar Mai sê sy hou nie eintlik daarvan om oor politiek te praat nie. Haar passie is haar kuns.

Sy het eintlik ’n kommersiële graad agter haar naam. Dit was haar ma en toe haar kunsonderwyser wat haar aangemoedig om haar kuns verder te vat.

So het sy twee dinge ontdek, dat kuns haar passie is en ook dat dit ’n kragtige medium is om ’n boodskap oor te dra. Dit is wat haar laat besluit het om haar talent so aan te wend.

Sy knik beslis haar kop: “Jy moet die regte ding doen met jou stem. Tevore het ek goed geteken wat met my praat, maar nou is dit my plig om met my kuns namens my land te praat. Ek het besluit kuns sal my gereedskap wees.”

‘Tevore het ek goed geteken wat met my praat, maar nou is dit my plig om met my kuns namens my land te praat.’ Foto: Helene Meissenheimer
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top