Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jan Lubbe | Uit my Kerkdagboek: Van verlate paaie tot gedeelde hoop

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Die afgelope maand se paaie lê uitgestrek van Burgersdorp in die Oos-Kaap na eMseni in Gauteng, en kruis en dwars deur die Vrystaat.

Van die doop van ’n seuntjie in daardie kerk wat die gemeente Burgersdorp só mooi herstel het ná die brandramp wat hulle getref het, tot ’n vergadering van die ASM se dagbestuur wat geloofsonderskeidend die Bergrede gelees het – Jesus se woorde oor ’n “rein hart”, “barmhartigheid” en “vrede”.

LEES OOK | Vinnige feite: Die NG Kerk en plaaslike asook internasionale nood

Op die Vrystaatse paaie: van ringsitting na ringsitting, ses in tien dae; van Betlehem tot Wesselsbron; 1 307 km padlangs. Daar ís herstelwerk op Vrystaatse paaie aan die gang; ’n paar plekke van stop-en-ry, ’n padwerker wat dit reguleer en met haar hand vriendelik terugwaai. Weerskante lê vlaktes in die laatwintersonnetjie en bak, landerye wag vir reën, droë weivelde bang vir wegholbrande. Ent-ent, as ’n mens so ingedagte ry, sekerlik ook: “Dit is ’n verlate pad.”

LEES OOK: ‘Kuns sal my gereedskap wees om Gasa se storie te vertel,’ sê vlugteling wat in die Kaap heenkome vind

“Dit is ’n verlate pad,” teken die reisverhaalskrywer in Handelinge 8 op, daardie pad “van Jerusalem af na Gasa”. Die “ontmande” wat op sy wa sit en lees en wonder, waarskynlik ook gedagtig aan die gebede wat hy in Jerusalem by die tempel kon bid én oor hoe dit sy werk as ouditeur in die Etiopiese paleis raak. Hoe dra ’n mens jou getuienis uit, so tussen vreemdes? Wat beteken dié woord oor ’n “skaap wat stom is voor sy skeerders”; “oor Wie gaan dit regtig hier?” (Handelinge 8:32-33).

LEES OOK: NG Kerk gee uit medelye humanitêre hulp in Midde-Ooste

Waar gemeentes byeenkom – want dít is wat ’n ring is, die eerste uitdrukking van kerkverband – is dit ook wat ons behoort te vra: die vraag na God, na betekenis, na ’n getuienis. Die Bybel word in ons ringe as Woord van God gelees, dít het ’n mens nou weer ervaar; ons bron vir wysheid, die lamp vir ons voet. Daar gebeur nóg iets in so ’n ringsitting: die lees van die Skrif saam as afgevaardigdes uit die kerkrade, laat hoor ons hoe ’n verskeidenheid van ánder stemme, die Stem van God hoor. Ons lees dit nie alleen nie, en só word ons verstand verlig, ons hart weer warm, ons vertroue verdiep en ons hoop vernuwe. Destyds in Genéve het die Kerkhervormer Johannes Calvyn dit noodsaaklik geag dat die dominees elkeen ’n beurt kry om in so ’n weeklikse “ringsbyeenkoms” te preek en hulle as kollegas dit dan met mekaar bespreek, mekaar in liefde begelei oor jou tekskeuse, eksegese en hermeneutiek; oor die konfessie en watter Psalms uit die Geneefse beryming gekies is, en oor jou homiletiek – ’n oggend se “VBO”! Calvyn self het immers sy bekering as dié na ’n “leerbare gees” beskryf. Is ons ringsittings veilig genoeg en óns ego’s uitgesorteer dat ons dít sou kon laat gebeur? Dat ringe “leergemeenskappies” kon word vir dominees, hulpleraars, ouderlinge met erediensbevoegdheid, bereid om te hoor hoe hoor “die gewone Christene” óns?

LEES OOK | Elders gesien: NG Kerk gereed om skenking aan slagoffers in Gasa te maak

En dan, in ringsittings verneem ons na mekaar se welstand en hoe dit met die bediening in gemeentes gaan; hoe dit met die dominees gaan. Ringe verskil daarin: sommige spandeer drie ure hieraan, ander twee dae; sommige noem dit “visitasie” – soos huisbesoek – en ander doen dit met ’n lys vrae. Uit dít weer word daar handegevat: hoe kan ons mekaar help met Sondae se bediening, met kategese en ’n gesamentlike kamp, met die verspreiding van kospakkies, met hulp by die ouetehuis, met die opleiding en ondersteuning vir brandspanne in die distrik, ’n koue fles water of die aankoop van data vir selfoonkommunikasie? Ringe is netwerke van sorg en bemoediging. Dit is ook waar ons mekaar as ’n breër kerkverband ontmoet; geleentheid kry om inligting van die sinode deur te gee en vrae te vra. Só staan een ouderling toe aan die einde van ons sessie op, ’n ouer vrou uit ’n plattelandse gemeente: “Dominee, ons sien aand na aand die lyding in Gasa, die geweld van daardie oorlog – wat doen ons kerk daaraan?”

Daar het ’n stilte in die kerksaal gehang.

“Dit is ’n verlate pad.” Volgens Google Maps lê daar tussen Jerusalem en Gasa 78 km. Blykbaar kon dit jou in die onlangse verlede etlike ure neem, selfs ’n dag om dié afstand te reis, afhangende van jou taal, herkoms en paspoort. Dit was vóór die ramp van ’25. Destyds, so lees ons, het die Parakleet – die Trooster – vir Filippus daarheen gelei en weer “weggeneem”, na ander omliggende dorpies in daardie streek van Palestina (Handelinge 8:29, 39). Die Gees van God wat soos die wind waai waar Hý wil. Wat Filippus “die Evangelis” op ’n middaguur by die wa van die ontmande ouditeur uit Etiopië gebring het, en hom woorde gee om die Woord uit te lê en die doop te bedien. Het dié twee – die man uit Afrika en die vir-die-evangelie-verjaagde uit Jerusalem (8:4-5) – dalk padkos gedeel, ’n broodjie of stukkie vis, so al in die gesels? Dit word ’n dag van groot blydskap (vers 39), toe die goeie nuus oor ’n oop graf en leë kruis buite Jerusalem, 78 km vandaar, op die pad na Gasa gedeel is en saamgeneem is Noord-Afrika toe. Oor die Lam, “stom voor die skeerders”. Sy liggaam – die Kerk – ter slagting. Só moet julle op pad gaan, het Jesus gesê: van Jerusalem en Judea, deur die hele landstreek, tot daar waar die wêreldmag van destyds gesetel was, Rome. Moenie wegskram nie. Spreek die profetiese woord teen keisers en magte in. Moenie verbystap by dié wat kreun van pyn nie, het Hy vertel oor ’n priester en Leviet wat op daardie ánder gevaarlike pad – volgens Google Maps óók 78 km weg, soos die kraai vlieg – die pad tussen Jerigo en Jerusalem gestap het nie; daardie keer toe die vreemde Samaritaan die naaste naaste van die lydende een geword het.

Dikwels, só het ek nou weer in myself ontdek, is dit nie die afstand op die kaart wat my grootste probleem is nie, maar dié afstand tussen daardie kruis en my hart, my kultuur, my vrese, my verontskuldigings. Sodat ek moet vra: Here, verander my deur u Gees.


Ds Jan Lubbe is predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top