Jaco Strydom se nuutste boek Eendag is te ver, is ’n klein geel boekie wat vir jongmense (en die kerk) vertel: “Jóú tyd is nou, nie eendag nie”. Die boek het ewigheidswaarde! Die resensent is Emily Smith (15 jaar oud en in graad 9 by die Afrikaanse Hoër Meisieskool, Pretoria.

Uitgewer: Lux Verbi, 2025
Resensent: Emily Smith (Emiliedjie)
Strydom se skryfstyl is gemaklik en eerlik, met ’n goeie skoot humor. Hy maak komplekse geloofsvrae verstaanbaar en boeiend. Sy passie vir jeugbediening en sy vermoë om Bybelse waarhede met moderne uitdagings en persoonlike ervarings te verweef, skep ’n gevoel van intimiteit en verbintenis.
Koop die boek | Beskikbaar by Bybelmedia
Eendag is te ver was vir my ’n Ester-ervaring, soos in Ester 4:14: “Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het.”
Ek het opnuut besef dat my generasie meer is as screen time en sosiale media. Jy is op die regte plek, op die regte tyd. Wat sin en betekenis in jou lewe gaan bring, is wanneer jy besef dat die Here jou op ’n tyd en plek neersit om vir Hom ’n verskil te maak. Dit is wat Ester moes hoor en dit is wat ek in Eendag is te ver gehoor het.
Ons hoor daagliks: kry goeie punte en ’n goeie werk met ’n groot salaris. Maar is dit waar jy regtig geluk gaan vind, gaan dit jou lewe purpose gee?
In teenstelling hiermee is die boek se eenvoudige maar kragtig boodskap: “As jy werklik gelukkig wil wees, kry vir jou iets wat die moeite werd is om te doen.”
Jongmense moet besef – jy kan nou al ’n bydrae lewer, jy kan nou al ’n verskil maak, net daar waar jy is, al is jy jonk, want eendag is te ver!
Dewald Gouws se liedjie sluit mooi by die boek aan:
Ek het lank gewag tot nou
my verskonings was so flou
Maar toe het ek U onthou
en besef die tyd is nou
Emily Smith is 15 en in graad 9 by die Afrikaanse Hoër Meisieskool, Pretoria.
