Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Uit Nioma se dagboek | Medewerkers in hoop: Ons moet dringend nuwe maniere van saamwerk vind

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Hierdie week het my op ’n reis geneem – van Hatfield na Kaapstad, en aanlyn in gesprekke met mense regoor ons land wat passievol is oor die bediening van hoop. Dit was ’n week waarin ek weer besef het hoe groot die nood is en hoe uitdagend ons werk is. Ons moet dringend nuwe maniere van saamwerk vind.

Die gewaarwordinge van die week het begin by die direksievergadering van Hugenote Kollege in Wellington. Daar is verslag gedoen van 137 voornemende maatskaplike werk- en 145 vroeëkinderontwikkeling-studente wat aanmeld vir opleiding in 2026. Hier is 282  jongmense wat hulle lewe wil wy aan diens en omgee, en hulle kies om hul opleiding by ’n kerklike instelling te doen. Maar dit laat my wonder: hoe gaan ons as kerk en maatskaplike strukture hierdie energie kanaliseer sodat dit werklik ’n verskil maak in ons land? Ek was ook onlangs deel van ’n byeenkoms van bestuurders van kerklike maatskaplike diensorganisasies wat met groot besorgdheid en soms frustrasie praat oor die uitdagings van samewerking met die kerk.

By die ledevergadering van die Kerklike Maatskaplike Dienste Raad (KMDR), later die week, het ons gepraat oor die mediadekking die afgelope twee weke, waar daar verwys is na die KMDR se impak en besteding en dit gekoppel is aan die werk van die NG Kerk. Dit is inderdaad so dat professionele maatskaplike dienste met ’n lang historiese verbintenis ’n modaliteit van die kerk se werk is. In 2019 het die KMDR ook weer ’n ooreenkoms aan die Algemene Sinode van die NG Kerk voorgehou waarin verklaar word dat die organisasies hulself as deel van die kerk beskou. Hoewel die NG Kerk se finansiële bydrae tot KMDR-organisasies beperk mag wees, lewer ons op ander maniere ’n waardevolle bydrae. Die beheerrade van hierdie organisasies bestaan grootliks uit leraars en lidmate – menslike kapitaal word moeilik in monetêre waarde omgesit. Om egter met integriteit te getuig van samewerking, moet dit oor meer as geld en vul van vakatures gaan. Die kritiese vraag is hoe hierdie verhoudings op grondvlak lyk. Persoonlik dink ek ons mis groot geleenthede deur nie beter te doen met samewerking en integrasie nie. Dit kan nie meer besigheid soos altyd wees nie. Ons dag en tyd vra vir nuwe bedieningstrategie en veral ten opsigte van geloofsgebaseerde, interdissiplinêre samewerking. Noem dit sosiale innovasie, soos die dienste van die nuutgevestigde SENSi (Sentrum vir Sosiale Innovasie) by die Hugenote Kollege in hul naam en diensaanbod aan gemeentes en gemeenskappe suggereer.

Hulpbronne is beperk. Nood is oorweldigend. Die regering faal ons. En ons leef in ’n gepolariseerde samelewing waar dit al te maklik is om terug te trek en net ons eie ding te doen as dinge te moeilik raak. Kompleksiteit is nie ’n verskoning nie. Ongekoördineerde aksie en silovorming is nie effektief nie. Ek kry, met respek gesê, al te veel die idee dat die kerk en die maatskaplike diensorganisasie mekaar as diensverskaffers sien – en nie werklik as medewerkers nie. Dit sal ons nie ver bring nie. Dit is dieselfde nood wat ons dring. Waarom kry ons dit nie reg om ons visie en strategie beter te belyn nie? Is dit visie of wysheid wat ontbreek?

Ons het die mense, die gawes, die netwerk – maar het ons die wil om hande te vat en saam beter te doen – tot God se eer?

📖 Lees meer: The Networked Church: Scaling for Impact

#NGKerk #KMDR #Netwerkdenke #Diakonaat #Samewerking #KollektieweImpak

Nioma Venter is Algemene Sekretaris van die NG Kerk. In ’n weeklikse rubriek skryf sy oor plekke, mense en ervarings wat sy in die uitvoering van haar werk teëkom en dit wat sy beleef. In die week van 29 Augustus 2025 was sy aan tafel met medewerkers in opleiding en in maatskaplike dienslewering.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top