Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Bianca Roberts van Kimberley skryf: As jeugbedienaar sien ek dit dikwels. Kinders is nie vasgevang in puntenerige fynhede nie. Volwassenes is.
Sondag in die kinderkerk herleef ons die verhaal waar Jesus die skare voed. Die vraag was eenvoudig: Hoeveel vissies en broodjies het die jong seun vir Jesus gegee?
Ek moet bieg, ek was self nie heeltemal seker nie. Maar wat my regtig getref het, was die kinders se reaksie. Toe hulle nie die “korrekte” antwoord gehad het nie, het ’n golf van moedeloosheid oor hulle gespoel. Hulle het begin voel dat hulle misluk het, nie omdat hulle die kern van die boodskap gemis het nie, maar omdat hulle die spesifieke syfers nie kon onthou nie.
Later het ek hieroor met my man gesels. Sy antwoord: “Dit gaan nie oor die vis en brood nie.” En hy was reg. Ons volwassenes sukkel ook met hierdie mentaliteit van “vissies en broodjies”. Ons word so vasgevang in die detail, die presiese getalle, die historiese konteks en die teologiese fynighede, dat ons soms die groter prentjie mis. Ons vergeet dat die wonder lê in God se oorvloedige voorsiening en mededeelsaamheid.
Hierdie neiging om op die fynighede te fokus, sien ons ook binne die groter kerk van vandag. Neem byvoorbeeld die skenking van fondse vir noodleniging in Gasa. Dadelik ontstaan daar vrae: “Hoekom soveel geld?” “Kon dit nie vir ons eie mense gebruik word nie?” Hoewel dalk goed bedoel, toon die vrae weer ’n tendens om vas te kyk in die “vissies en broodjies”.
Ons vergeet dat die evangelie ons oproep tot ’n uitreik wat grense oorstyg. Dit gaan oor die openbaring van God se liefde en genade, wat nie beperk is tot ons grense nie. Wanneer ons net fokus op die “hoeveelheid” en die “vir wie”, mis ons die groter waarheid van ’n God wat voorsien, wat sorg, en wat ons oproep om sy liefde uit te deel, ongeag die omstandighede.
Die moedeloosheid wat ek by die kinders gesien het, weerspieël die frustrasie wat baie lidmate voel oor sake in ons kerk. Ons raak moedeloos wanneer ons nie die volledige prentjie verstaan nie, wanneer ons vasgevang bly in die detail, en wanneer ons nie die groter genade en oproep agter die besluite sien nie.
Laat ons dus leer om verder as die vissies en broodjies te kyk. Kom ons soek na die wonder van God se voorsiening en sy uitreik. Kom ons probeer om die hele storie te verstaan voordat ons moedeloos word oor die syfers. Die kerk se roeping is groter as net ons onmiddellike omgewing; dit is ’n uitnodiging om deel te wees van God se universele plan van liefde en herstel.
Laat ons nie toelaat dat die “vissies en broodjies” ons verblind vir die wonder van God se voorsiening, sy genade en sy liefde wat vir almal bedoel is nie. Kom ons fokus op die boodskap, die liefde, en die roeping wat God vir ons elkeen het, ongeag waar ons is of wat die omstandighede mag wees.
