Tussen medegelowiges by ’n driedag “teologiese avontuur” in Pretoria besef Annabelle Lombard ’n paar dinge omtrent haar eie geloofstyl, vind sy herbevestiging in haar roeping en ervaar sy ’n buffer teen die pyn van verlies.
My eerste Lentekonferensie was ’n geskenk wat ek nog vir maande gaan ontsluit.
Ek het dit as deel van my gemeente se bedieningspan bygewoon en deel my belewenis met die nota van voorbehoud dat ek nie as ’n teoloog of ’n objektiewe joernalis by die geleentheid was nie. Ek was uit my gemaksone, maar ervaar reeds die aankoms as ’n tuiskoms. “Church people are the same everywhere,” fluister dr Nicole Dickson instemmend toe dr Tom Smith haar gerusstel oor haar Engelse kerkverband by dié grootliks Afrikaanse saamtrek.

LEES OOK | Opinie: Dié ‘lisensie’-uitsprake weerspreek Algemene Sinode 2015-besluit
Die konferensie word gereël deur Excelsus, waar Smith aan die hoof staan. Excelsus is ’n sentrum vir bedieningsontwikkeling. Dit beteken hulle ontwikkel en organiseer leergeleenthede, kursusse en konferensies, wat gerig is op die ontwikkeling van die volgehoue bedieningsvaardighede van leiers in die NG Kerk. Die sentrum is deel van die Kuratorium van die Universiteit van Pretoria (UP) en een van die diensverskaffers van die NG Kerk se Taakspan vir Voortgesette Bedieningsontwikkeling (VBO). Die Hervormde Kerk (NHK) was een van die vennote by die aanbieding van die Lentekonferensie, wat vanjaar vir die 20ste keer aangebied is en van 16-18 September sowat 160 afgevaardigdes baie besig gehou het in en rondom NG Universiteitsoord in Pretoria.

LEES OOK | Diepte-artikel: Hoe lyk die impak wat diensleraars op gemeentes en gemeenskappe het?
Die goue draad wat regdeur die konferensie geloop het was ons geloofsbelydenis wat deur woord, beeld en daad oorgedra en uitgeleef word. Woorde, taal, grammatika, beelde en optrede skep realiteit, konteks en lewe. Stories is die voertuig en brug waarmee geloof gedra word. Eerw Trevor Hudson nooi ons uit om ’n geloofwaardige vergestalting van ons boodskap te wees en ons woorde versigtig te kies sodat dit kan opbou, versoen, uitdaag, troos, eer en lig bring. Hy sê: moenie vra waar jy moet getuig nie, maak eerder seker jy het iets om te sê, as iemand jou vra. Bestee tyd by die Here om goed voor te berei en jou woorde te weeg. “We live in the house of our own words. Your life cannot contradict your words,” waarsku die wyse reverend. “Maar my lewe is teenstrydig met wat ek preek”, bely ’n jong ma tydens ’n groepbespreking. “Ek preek oor die toewyding aan jou gesin, maar ek het geen tyd vir myne nie.” ’n Ander merk op: Ek en my man leef soos twee vetplantjies wat net oorleef op ’n druppel water af en toe, terwyl sy haar trane lastig wegsluk.

G’n lang debatte nie
Ek beleef by baie leraars ’n kollektiewe broosheid, openhartigheid, leergierigheid en honger vir gemeenskap. Daar is nie kitsantwoorde, oordeel of lang debatte nie en ons is hier om by mekaar te leer en netwerke te bou. Min mense verstaan die druk van ’n leraar wat alleen in ’n Noord-Kaapse gemeente werk en omtrent dood moet neerval voor sy siekverlof kan neem. “Iewers moet ’n mens kan stop en sê: Dis nou genoeg, ek het my bes gedoen”, vertel ’n leraar wat altyd voel hy weeg nie op teen die verwagtings van sy gemeente, of die stukkende omgewing rondom sy krimpende kerk nie. “Die lewe is morsig, in chaos en verdeeld. Aanvaar dit en draai jou gesig na die lig, sê ds Maartje van der Westhuizen in ’n aanbieding aan die einde van die konferensie.

Aan elke leser wil ek my indruk deel: Jou leraar se hart is brandend, maar onder onmenslike druk. Kyk met sagte oë na jou dominee en weet – hy/sy dink die hele tyd aan maniere om jou beter te bedien. Hulle wil nie in nog een van die aanbieders, dr Nico Simpson, se woorde: “net links of net regs van die lidmaat preek, maar nooit die teiken tref nie.” Ek hoor in elke gesprek die persoonlike offers wat gebring word ten koste van eie gesondheid en die gedeelde frustrasie van leiers wat baie meer kritiek as ondersteuning kry uit hulle gemeente.


’n Paar van die sessies skuif my na antieke tye as ons gaan kuier by Chrusostomos, Plato en van die Roomse pouse deur die lens van prof Chris de Wet se lesingreeks, wat oor drie dae strek. Die verskynsel van “allegorie” (dink byvoorbeeld wanneer Dawid se klippies elk name kry tydens ’n preek), word kreatief bespreek en die meriete van dié benadering tot die teks word oorweeg. De Wet is professor in Nuwe Testament en Vroeë Christelike Studies en departementshoof in die Departement van Nuwe Testament en Verwante Literatuur, Fakulteit Teologie en Religie, aan UP.
Die sistematiese teoloog prof Tanya van Wyk vat ons na die taal van genade en die kerk se rol in dialoog en brugbou. Ek wonder hoeveel lidmate verstaan die komplekse wetenskap van teksontleding en waardeer die tyd, navorsing en kennis wat agter ons gemeentes se teologiese onderbou en preekmaakprosesse sit? Ek is in konstante verwondering oor elke spreker, elke vraag, elkeen se besonderse bedieningsgawes. Ds Méri Schoeman het op dag twee geopen met die aanhaling van Albert Einstein “of alles is ’n wonderwerk, of niks is nie.” Psalm 8 en dr Isabelle van Rensburg se orrelspel neem ons na mistieke plekke verby taal of beelde. Die konferensie is soos ’n verrassingspakkie wat elke dag nuwe kennis en vaardighede oordra en nuwe belangstellings in my prikkel. Ek ontwikkel ook erg FOMO as ek na terugvoer van vriende luister wat ander wegbreeksessies gekies het as ek. (Gaan kyk ’n bietjie na die indeling van die program hier: https://lentekonferensie.co.za/)


Geesgenote en stories
Op hierdie driedag teologiese avontuur besef ek ’n paar dinge omtrent my eie geloofstyl, herbevestig dit my bedieningsroeping en my toewyding aan mense. Ek ontmoet geesgenote wat ewe slaafs sweet om mense se stories te vertel, omdat dit ook God se stories is. ’n Mens doen dit met egtheid en verantwoordelikheid op iemand se heilige grond. Ek herontdek die vaste geloof dat die kerk, ons belydenis en die gemeenskap die teengif is, vir alles wat donkerte bring in die wêreld.
Frank Opperman se briljante vertoning in die eenmanstuk Reünie (geskryf deur Dana Snyman), vermaak en konfronteer die gehoor en neem ons op ’n tuimelrit van emosies as hy elke klasmaat laat opdaag. Hy spot fyn en deernisvol met elke tipiese karakter wat in elke skool was en steeds is. Hy gee elkeen lewe deur een enkele skoolbaadjie te fatsoeneer en lewe te gee met sy stem en hele wese. Hy omskep elkeen in ’n karikatuur en ek dink dis darem ’n wilde stereotipering, maar is dit nie hoe ons maar almal na mense kyk nie?
Dienspligtiges se wonde
“Storytelling as confessional” is vir my ’n nuwe konsep waaroor ek nog gaan moet leer. Dr Nicole Dickson voer ons weg oor Angola se grens in ’n ratel by Smoke Shell in 1980 in “Operation Sceptic”. Die ekskapelaan en skutter in my groep is merkbaar ontroer. Dit word ’n meesterklas as sy 30 jaar se ervaring en vyf jaar se navorsing konsentreer in ’n deernisvolle aanbieding. Dit maak ons bewus van twee geslagte wat ons kerkbanke vol sit met hulle onsigbare en soms selfs sigbare wonde. Kerke kan heilige ruimtes wees waar mense se stories eerbiedig word en genesing fasiliteer. “Ons broosheid is waarmee ander kan identifiseer en ander toelaat om ook hulle weerloosheid te wys”, sê di Jaco Strydom en Rudi Swanepoel teenoor Kerkbode-redakteur Le Roux Schoeman, maar erken dat dit vir skrywers moeilik kan wees. Die drie sprekers inspireer my mateloos in hulle paneelgesprek oor die krag van stories. Ek neem myself voor om dapper te wees, oor myself te kom en my getuienis ook in my terugvoer in te glip.

My eie verhaal en verlies
Ek en my familie is nou reeds nege maande in die brose spasie van afskeid en aftakeling van my pa weens melanoomkanker. My pa wat so lief was vir toer, maak nou gereed vir sy laaste reis. Net soos geboorte oor ’n tydperk van nege maande plaasvind, was hierdie ook toenemend moeiliker en morsiger in die laaste trimester. Tydens die week word hy opgeneem en ons verloor die vermoë om met hom te kommunikeer, ons weet hy en my ma ly baie erg. Die Lentekonferensie word ’n buffer en ’n balsem wat die Here reeds vroeg vir my beskik het, sodat ek dié week verwyder kon wees uit die storm en gevul kon word vir die finale afskeid. Terwyl alles om my afspeel sit ek in die asemrowende mooi Universiteitsoord aan die voete van leermeesters, besig met my ewige Vader se dinge. Ek kon uit volle bors sing, bid, leer en reflekteer verwyder van my daaglikse gang. Dit is byna te groot vir my lyf om te besef hoe die Here my ontmoet het waar ek is en kom omring het met 160 van die land se begaafde teoloë, Christenskrywers, beraders, akademici en boonop mooiste mense. Ek weet my pa sou trots en dankbaar wees! Ek was die week die een langs die pad en elke Leviet was die barmhartige Samaritaan. Dankie aan elkeen wat wysheid gedeel het, deernis betoon het en ’n vreemdeling ingenooi het in hulle kring. Dankie aan prof Malan Nel wat dekades gelede hierdie pragtige tradisie begin en uitgebou het tot wat die Lentekonferensie vandag is. Ek voel verkwik, verfris en dankbaar na die 20ste Lentekonferensie en sien nou reeds uit na volgende jaar s’n!
Annabelle Lombard is onderlingesorg- en kommunikasiebestuurder by Skuilkrans NG Gemeente in Pretoria.

Jou waarnemings tydens die Konferensie is mooi en getrou en eerlik verwoord. Dis elke jaar ook vir my as Leraar ‘nnie-bedreigende spasie waar ek kan kyk en luister en leer en net wees. Johan (NGPotch-Noord )
Dankie vir hierdie artikel, ek is dankbaar dat die konferensie ons help om Jesus te volg en in hierdie tye te bely met woord, beeld en daad.