Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Hoewel daar tans steeds verskeie vraagstukke rondom die strukturele ondersteuning aan diensleraars en gemeentes bestaan, stel die data uit die 2025-vraelyste die kerk in staat om enkele gewaarwordinge oor moontlike toekomstige tendense te bepaal. Opvallend uit die data versamel deur die Algemene Bevoegdheidsraad, is daar in 2025 meer diensleraars as predikante gelegitimeer.

Diensleraars is geen ‘kortpad’ na die bediening nie

Data oor diensleraars weerlê aannames rondom dié nuwe baan van teologiese opleiding in ’n NG Kerk met ’n groot predikanttekort: Dit is geen kortpad nie … en nie beperk tot klein plattelandse gemeentes nie. Diensleraars, waarvan sowat 52% steeds ’n ander beroep saam met hulle bedieningsverantwoordelikhede beoefen, bring verskeie ontwikkelde gawes en diverse bevoegdhede na die bediening, berig Erick Zulch.

 

Met die toenemende opleiding, legitimasie en bediening van diensleraars in die NG Kerk, werp die Algemene Sinode se Taakspan Navorsing (ATN) lig op die huidige en moontlik toekomstige landskap van leierskap in die NG Kerk.

LEES OOK: Diepte-artikel: Hoe lyk die impak wat diensleraars op gemeentes en gemeenskappe het?

Vir baie is die saak rondom diensleraars ’n vae en spanningsvolle vraagstuk met min amptelike en begeleidende riglyne. Saam met die Algemene Kuratorium se uiteensetting van teologiese opleiding in die verband, Geroep, gevorm, gestuur (2022), asook die nuwe data ingesamel deur die ATN, kan die vervaagde beeld moontlik duideliker word.

Die reaksie op ’n onlangse ATN-vraelys, wat deur byna negentig diensleraars ingevul is (dit wil sê 75% van alle huidige diensleraars), word daar lig gewerp op hierdie nuwe terrein. Hierdie navorsing bied die geleentheid vir enkele gewaarwordinge.

Diensleraars is tipies persone wat reeds in verskeie loopbane ervaring opgedoen het. Terwyl die meeste diensleraars wat die bediening voltyds betree dit as tweede of derde loopbaan aanpak, blyk dit uit die data dat sowat 52% tans steeds ’n ander beroep saam met hulle bedieningsverantwoordelikhede beoefen. Die omvang van hierdie beroepe, ook vasgevang in die vraelyste van die taakspan, sluit in dié van onderwys, polisie, boekhouding, sending, vakmanskap en vele ander. Bykomend blyk dit dat die grootste gros tans tussen die ouderdom van een-en-veertig en sestig is. Diensleraars bring dus nie net ryk roepingsverhale na die tafel toe nie, maar ook verskeie ontwikkelde gawes en insig aangaande ’n diverse reeks bevoegdhede en loopbane.

Volgens dr Yolande Steenkamp, dekaan van die Skool van Teologie en Bediening by Hugenote Kollege op Wellington, is die lewenservaring van ouer voltydse en deeltydse studente wat beoog om diensleraars te word, ’n onmeetbare geskenk aan die kerk. “Nie net word ander vrae aan die teologie gevra nie, maar word dit ook anders geïntegreer,” vermeld Steenkamp wat vertroud is met die pad wat diensleraars moet stap om gelegitimeer te word en sodoende die impak van lewenservaring op die studie van teologie eerstehands beleef.

Hoewel daar tans steeds verskeie vraagstukke rondom die strukturele ondersteuning aan diensleraars en gemeentes bestaan, stel die data uit die 2025-vraelyste die kerk in staat om enkele gewaarwordinge oor moontlike toekomstige tendense te bepaal. Opvallend uit die data versamel deur die Algemene Bevoegdheidsraad, is daar in 2025 meer diensleraars as predikante gelegitimeer. Alhoewel daar nie tans ’n konkrete toekomstige tendens hieruit geïdentifiseer kan word nie, is dit duidelik dat diensleraars in die NG Kerk nie ’n kleinskaalse verwikkeling is nie, maar wel ’n sentrale en moontlik toenemende impak mag hê in die uitvoering van die amp. Hierdie moontlike impak is ook nie soos sommige mag dink net gebonde aan plattelandse kontekste nie, soos duidelik gemaak deur die 50% van diensleraars wat reeds in stedelike gebiede bedien.

Hiermee saam is dit duidelik uit die navorsing dat diensleraars verskeie vooroordele as verwronge persepsies uitmaak. Vir dié wat graag sou wou verklaar dat dit ’n kortpad is na die bediening, dui die navorsing aan dat die meeste diensleraars nie klaar gestudeer is nie. ’n Derde van die hele steekproef wil nie net verder studeer nie, maar graag uiteindelik alle nodige kwalifikasies en teologiese opleiding ontvang om as leraar met volle bevoegdheid gelegitimeer te word. Ook in stryd met vooroordele, dui die meeste diensleraars aan dat hulle “baie gereeld”, “gereeld” of “ten minste soms” die Skifgedeelte waaruit hulle preek in die grondtaal (soos Grieks en Hebreeus) bestudeer. Dit staan parallel met die 65% van predikante wat dieselfde in 2021 se Predikantepaneel aangedui het.

Alhoewel daar tans ’n wesenlike gaping is tussen die werklikheid van gemeentes se behoefte aan leraars en dié van ’n kerklike struktuur wat nog vele ondersteunende en begeleidende riglyne moet formuleer, bied die ATN se navorsing oor diensleraars verfrissende en noodsaaklike insig op die saak. Hierdeur mag die kerk die onbekende landskap van leierskap in die toekoms begin karteer.


Ds Erick Zulch is leraar in Kaapstad by NG Kerk Drieankerbaai en die Groote Kerk. Die skrywer was ‘n deelnemer aan vanjaar se Slypskool vir Skrywers, met die tema: Diensleraars se impak op die NG Kerk. 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top