Suid-Afrikaanse pelgrims hoef nie meer na Spanje te reis (of die mensegedrang daar te trotseer) vir ’n 800 km camino-ervaring nie. Via Baviaans is die Pelgrimstog van Hoop se nuutste toevoeging tot hulle netwerk van staproetes en saam met die Tuinroete-en Lighuisroete is dit nou vir fikse stapgeesdriftiges moontlik om vanaf Jeffreysbaai via ’n kronkelroete deur Baviaanskloof, Uniondale, sewe klein buitekerkies in die Langkloof en Tuinroete tot by Mosselbaai te stap met ’n laaste skof kuslangs tot op Kaap Agulhas.
“Nou is dit moontlik om te stap tot op die suidpunt van Afrika en dan dink en bid ons vir Afrika. Ons sien uit om te sien wie is eerste,” sê dr Frederick Marais (67), die touleier wat in 2014 dié Pelrimstog-inisiatief hier op Afrikabodem help vestig het ná hy die Camino de Santiago in Spanje gestap het.
Hy het in Oktober, soos met elke nuwe PvH-roete, saam met ’n klein groepie verkenners elke tree van die sowat 211 km stapdeel van die roete oor tien dae geloop buiten ’n ry-gedeelte deur die Baviaanskloofnatuurreservaat. Soos met die meeste van die ander verkenningstogte was Kerkbode ook saam.
’n Paar duisend pelgrims het oor die afgelope tien jaar al die kenmerkende rooihoede op hulle kop gesit om op van die Pelgrimstog van Hoop (PvH) se veeldag slenterstaproetes te stap. Marais vertel dat mense meermale terugkom om ’n volgende roete ook te doen.
Via Baviaans bring die PvH se aantal staproetes op sewe te staan. Almal is ontwerp om veeldagstappers ’n ryke stapervaring te bied gevul met natuurskoon, ontmoetings met herbergiers sowel as landbouers en plaaslike entrepreneurs.




Marais het vertel dat hulle by Pelgrimstog van Hoop daarop trots is dat daar honderde mense langs die pad gereed staan om elke 20 km oornag en kos te gee, pad aan te wys en moed in te praat.
Op Via Baviaans, soos vier ander staproetes van hierdie NG Kerk-inisiatief word die besprekings sowel as opbou en ondersteuning van ’n netwerk van herbergiers deur plaaslike gemeentes hanteer. In hierdie geval is dit Uniondale se NG gemeente. Hulle dien ook reeds as wegspringpunt op die gewilde Tuinroete-been tot in Mosselbaai. Laasgenoemde is waar die Lighuisroete begin wat by die vuurtoring op Kaap Agulhas eindig.
Hierdie inisiatief vestig dus ook gemeenskapsnetwerke en ploeg weer terug in die plaaslike omgewing. So het die Tuinroete-been al honderde bome by kerke geplant en kon die een kerk wat in onbruik verval het, in ’n herberg omskep word.
Soos ds Petrus Carstens van Uniondale-gemeente sê: “Ons doen dit (die staproetes) nie vir onsself nie, maar vir die gemeenskap”.
Op die PvH se sosiale media lees ’n mens ook van vele deelnemers wat getuig dat die stap van so ’n camino vir hulle helend was.
- Besprekings vir die Via Baviaans kan gemaak word vir vanaf Maart 2026. E-pos: viabaviaans@gmail.com
