Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Brief: ‘Vryheid van spraak mag nooit bydra tot doodslag en wrede moorde nie’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

PL Scholtz van Kaapstad skryf: Ek het vanoggend op RSG geluister na die debat tussen ds Rudi Swanepoel en Jaco Kleynhans.

In dié verband wil ek net graag u aandag vestig op die volgende:

Oor ’n lang tydperk het die aksies en die beleid van die ANC-regering, die Amerikaanse regering gegrief.

Die ANC se beheptheid met Rusland, China en Iran en SA se lidmaatskap van Brics is nie vir die VSA aanvaarbaar nie.

Iran, ondersteun deur Rusland, organiseer en ondersteun terroristegroepe, soos Hamas in Gasa, Hezbollah in Libanon en die Hutis in Yemen, om teen Israel op te tree.

Die ANC se veroordeling van Israel se optrede in Gasa, sonder om Rusland se betrokkenheid in Oekraïne te veroordeel, gaan ook nie goed af in die VSA nie.

SA se saak teen Israel in die hof word ook nie in die VSA verwelkom nie. Daar is gerugte dat die ANC geld ontvang van Iran en in ruil daarvoor moes SA die saak teen Israel maak.

Die openbare uitsprake van Malema: “Kill the boer” en die voortdurende wrede plaasmoorde op boere in SA, is ’n doring in die vlees van die Amerikaanse regering en is glad nie aanvaarbaar vir hulle nie.

Dus, as gevolg van al hierdie omstandighede, is die Amerikaanse regering alreeds gegrief en negatief teenoor SA. Selfs sonder enige besoeke van groepe uit SA, sou die Amerikaanse regering in elk geval die handelstariewe teen SA ingestel het.

President Ramahosa is op sy besoek in die VSA gekonfronteer met ’n video van Malema se openbare optrede en die sing van die lied “Kill the boer”. President Trump het vir hom gevra waarom Malema nie gearresteer word nie en Ramaphosa het geantwoord dat daar vryheid van spraak is in SA en dat dit nie beleid is van die ANC om boere dood te maak nie.

Die feit is dat hierdie lied neerkom op haatspraak en dit is nie aanvaarbaar in ’n ordelike samelewing nie en kan dus nie as vryheid van spraak gesien word nie, aangesien dit neerkom op openbare onrusstoking, wat definitief bydra tot die wrede plaasmoorde.

Vryheid van spraak mag nooit bydra tot doodslag en wrede moorde nie. Die feit dat die hof beslis het dat Malema se lied nie neerkom op haatspraak nie, is totaal onverstaanbaar.

Dus is die Amerikaanse regering hewig ontsteld oor hierdie toedrag van sake. Dus het die besoeke van die VF+ en Solidariteit aan die VSA geen verskil gemaak aan die Amerikaanse beleid teenoor SA nie.

Die VF+ en Solidariteit het waarskynlik die VSA ingelig oor die huidige stand van sake in SA, maar sou waarskynlik gevra het dat die handelstariewe nie ingestel moet word nie, maar dat daar eerder druk toegepas moet word op individue binne die ANC regering. Sulke druk kan onder andere insluit die vriesing van bankrekenings en die weiering van visums.

Die VF+ is deur die Amerikaanse regering meegedeel wat die vereistes is, waaraan die ANC-regering moet voldoen, voordat betrekkinge tussen hierdie twee lande weer genormaliseer kan word. Die VF+ het hierdie vereistes skriftelik aangestuur aan president Ramaphosa.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top