Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Hierdie artikel deur Philip Coetzee ondersoek die diepgaande kontraste in aanbidding tussen Moslems en Christene, met spesifieke verwysing na die praktyke en geloofsbegrip binne die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK).
Deur die lens van hierdie twee geloofstradisies word die verskille in aanbiddingsvorme, rituele, en dieper geestelike betekenis verken – nie om te oordeel nie, maar om begrip en insig te bevorder in hoe elke geloof God dien en ervaar.
Die eerste en belangrike punt is dat Christene en Moslems nie in ’n “denominasie”-verband gebring kan word nie, want in ’n Christelike kerklike verband beteken “denominasie” ’n georganiseerde groepering van kerke wat saamstaan rondom ’n gemeenskaplike geloofsbelydenis, tradisie, leerstellings en praktyke, volgens die Kerkorde van die NG Kerk van 2023, en ook verskeie ander Christelike denominasies.
Verder stel die Kerkorde (49.2) dit duidelik wie tot die heilige nagmaal toegelaat mag word, waarvan Islam nie ’n deel is van nie, want Islam verteenwoordig ’n ander geloof. Daarom moet daar gelet word op die Kerkorde se beskrywing en die praktiese toepassing van die kriteria van sameweking of aanbidding tussen Christelike denominasies soos vervat in Reglement 26:
3.1 Samewerking met ander Christelike kerke
3.1.1 Die NG Kerk stel hom ten doel om op verantwoordelike wyse, sonder prysgawe van die eie standpunt, met ander Christelike kerke saam te werk ter bevordering van die koninkryk van God.
3.1.2 Die graad en wyse van samewerking sal in elke geval bepaal word deur die graad van ooreenstemming ten opsigte van belydenis, kerkorde, erediens en die Christelike lewenswandel van die betrokke kerk.
3.1.3 Ekumene moet deur alle kerkvergaderinge beoefen word, te wete die Algemene Sinode, sinodes, ringe en kerkrade. Dit is nodig om te beklemtoon dat plaaslike ekumene op die agenda van elke kerkraad moet bly.
Wat die nagmaal betref
Dit opsigself is nie verkeerd om verskeie akademici se verstaan van die nagmaal te ondersoek nie, maar wat sê die Bybel? Jesus het die nagmaal ingestel as ’n herinnering aan sy kruisdood en opstanding (Matt 26:26-28; 1 Kor 11:23-26). Dit is dus ’n geloofshandeling wat uitdruklik aan Hom verbind is en aan sy liggaam (die kerk). Die nagmaal is ’n “gemeenskap” (koinonia) met Christus self (1 Kor 10:16). Dit veronderstel geloof in Hom as Here en Verlosser.
Daarom waarsku die Skrif oor deelname aan die nagmaal: Paulus sê dat iemand wat dit onwaardig gebruik (sonder geloof of selfondersoek), die liggaam en bloed van die Here tot sy eie oordeel gebruik (1 Kor 11:27-29). Daarom word die nagmaal binne die gemeenskap van gelowiges gevier, nie as ’n algemene intergodsdiensritueel nie.
Verder tref Paulus ’n onderskeid tussen gelowe. In 2 Korintiërs 6:14-16 waarsku hy teen ’n “ongelyke juk” tussen gelowiges en ongelowiges, en stel dit duidelik dat aanbidding en deelname aan Christus nie vermeng kan word met ander gode of geloofstelsels nie. In 1 Korintiërs 10:20-21 skryf hy dat gelowiges nie “die beker van die Here én die beker van die demone” kan drink nie – ’n beeld van hoe deelname aan die Here se tafel, maar ook in die samekoms van gelowiges, onversoenbaar is met ander godsdienstige oortuigings of uitsprake wat nie op die Skrif gebaseer in nie, omdat dit ’n heilige instelling van Christus self is.
Die nagmaal is dus ’n Christus-gefokusde, geloofsgebaseerde handeling. Dit veronderstel dat almal wat daaraan deelneem, Christus as Here bely en glo in sy kruisdood, sy opstanding en sy Godheid. Daarom sou die Bybelse rigting wees dat die nagmaal nie saam met mense van ander gelowe (wat Christus nie bely nie) gevier moet word nie.
Wat sê Matteus 26:26-28 vir ons? “Neem, eet; dit is my liggaam … Drink almal daaruit; want dit is my bloed van die nuwe verbond wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.” Dus ’n persoonlike verbintenis deur brood en wyn direk met sy liggaam en bloed.
In Johannes 6:53-54 sê Jesus: “As julle die vlees van die Seun van die mens nie eet en sy bloed nie drink nie, het julle geen lewe in julle nie.” Die nagmaal is dus ’n Christusgesentreerde verbondshandeling: dit gaan oor sy liggaam, sy bloed, sy kruis en sy wederkoms – en kan daarom nie deel vorm van ’n multigodsdienstige ritueel nie.
Wat sê die Qur’an?
Islamitiese leer beklemtoon dat aanbidding aan Allah alleen behoort en nie gemeng mag word met oortuigings wat tawḥīd (die eenheid van Allah) weerspreek nie. Ook word die nagmaal nie gevier nie omdat Jesus nie erken word as ’n Godelike persoon nie, maar slegs as ’n gewone mens. Let asseblief op: Die verse in die Quran word Surahs genoem en die meegaande verwysings word direk vertaal uit The Noble Qur’an, Dr Muhammad Taqi-ud-Din Al-Hilali en Muhammad Muhsin Khan (nd).
Surah 5:72-73: “Hulle het sekerlik ongelowiges geword wat sê: ‘Allah is die Messias, die seun van Maria.’ … Hulle het sekerlik ongelowiges geword wat sê: ‘Allah is die derde van drie.’” Dit is dus ’n ontkenning van kern-Christelike oortuigings (die Godheid van Christus en die Drie-eenheid).
Surah 109:1-6 (Al-Kāfirūn): “Sê: O ongelowiges, ek aanbid nie wat julle aanbid nie, en julle aanbid nie wat ek aanbid nie … Vir julle is julle godsdiens, en vir my, my godsdiens.” Hier word skeiding in aanbidding beklemtoon weens verskillende geloofsoortuigings.
Surah An-Nisā’ (4:157-158): “Hulle het Hom egter nie doodgemaak nie, en Hom ook nie gekruisig nie; maar [’n ander] is vir hulle soos Hy laat lyk … Inteendeel, Allah het Hom tot Homself opgeneem.” Dit wys dat Islam die kruisiging en dood van Christus verwerp.
Die Qur’an word slaaf gevolg deur sy aanhangers en hulle word ook, tot ’n sekere mate, aangemoedig om Christene te respekteer, maar ook voorwaardelik:
Surah al-Ma’idah 5:82: “… jy sal vind dat diegene wat die naaste aan liefde vir diegene wat glo is, dié is wat sê: ‘Ons is Christene.’ Dit is omdat daar onder hulle priesters en monnike is, en omdat hulle nie hoogmoedig is nie.” Net so moet Christene hulle Moslembure die nodige respek bewys.
Geloofsrespek
Christene moet hulle geloof beskerm, net soos hulle Moslembure, om sodoende hulle identiteit te behou. Vir Christene is dit noodsaaklik om die Skrif slaafs te volg as God se duidelike Woord aan hulle, soos geopenbaar deur die Heilige Gees. Christene mag nie gelykvormig raak aan die wêreld nie.
Jakobus 4:4 stel dit duidelik: “Weet julle nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dus ’n vriend van die wêreld wil wees, stel hom as ’n vyand van God.”
1 Johannes 4:1-3: “Geliefdes, moenie elke gees glo nie, maar toets die geeste of hulle van God is, omdat baie vals profete die wêreld ingegaan het. Hieraan ken julle die Gees van God: Elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is van God, en elke gees wat Jesus nie bely nie, is nie van God nie. Dit is die gees van die antichris waarvan julle gehoor het dat dit kom, en nou al in die wêreld is.”
Die Qur’an gee duidelike riglyne aan Moslems wat hulle as nabye vriende en bondgenote (Arabies: awliyā’) kan kies. Die kern is dat gelowiges nie hulle lojaliteit aan ongelowiges bo dié aan Allah en ander gelowiges mag plaas nie.
Surah Āl ʿImrān (3:28): “Laat die gelowiges nie die ongelowiges as bondgenote neem in plaas van die gelowiges nie. En elkeen van julle wat dit doen, het geen deel aan Allah nie – behalwe as julle uit versigtigheid teen hulle voorsorg tref. En Allah waarsku julle vir Homself, en na Allah is die [uiteindelike] bestemming.” Dit beteken dat gelowiges hulle lojaliteit aan ander Moslems moet hou, maar in gevalle van gevaar mag daar uiterlike, en nie innerlike vriendelikheid getoon word (taqiyya).
Surah Al-Mumtahanah (60:1): “O julle wat glo, moenie My vyande en julle vyande as bondgenote neem deur aan hulle genegenheid te betoon nie …” Hier word die vriendskap wat liefde en lojaliteit impliseer, verbied.
Die Qur’an verbied nie gewone sosiale interaksie of regverdige behandeling van nie-Moslems nie (Surah 60:8), maar wat verbied word, is intieme vriendskap, lojaliteit of bondgenootskap wat die band tussen Moslems en Allah, deur ander gelowiges kan verswak. Dus, hierdie verhoudings gaan oor bondgenootskap en lojaliteit, nie noodwendig oor eenvoudige buurmanskap of beleefdheid nie.
Slotbeskouing
Alles in oënskou geneem: Kan of mag Christene en Moslems hulle geloof kompromitteer, terwyl daar onoorkombare leerstellige verskille is – en altyd sal wees? Hierdie vraag is des te meer relevant in ’n tyd waarin intergeloofsdialoog en ekumeniese inisiatiewe dikwels as noodsaaklik voorgehou word, maar dit mag nooit binne ’n gesamentlike aanbiddingsgeleentheid plaasvind nie. Daar is ander platforms waarbinne gesprekke kan plaasvind, sou dit nodig wees.
Indien daar reeds uitreikprogramme en sendingwerk bestaan wat primêr gerig is op die verkondiging van die evangelie aan nie-gelowiges en aan mense van ander geloofsoortuigings, behoort die vraag gevra te word waarom Christene hulle eie geloofsgrondslag sou wil verswak of aanpas. Sou dit nie eerder meer verantwoordelik wees om aandag te gee aan die dringende vraagstukke wat tans binne die NG kerkverband self bestaan nie?
“Want die tyd het gekom dat die oordeel moet begin by die huis van God” (1 Petrus 4:17). Hier beteken “huis van God” die gemeente of volk van God. Dit leer dat gelowiges self eers getoets en gesuiwer moet word voordat hulle na buite toe kan getuig of regverdig oordeel. Dit sluit ook aan by om met ’n bybelse verstaan te oordeel tussen ’n ware lering en ’n valse lering, en ook gesien word om eerste jou huis (kerk) in orde te kry.
Ware leer – Die suiwer leer van Christus, en vals leer
’n Ware leer (of ware onderrig) is dit wat getrou bly aan die boodskap van Jesus Christus en die apostels – soos dit in die Bybel geopenbaar is. Dit lei mense tot geloof, bekering, liefde, gehoorsaamheid en ’n lewe in waarheid.
2 Timoteus 3:16-17: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, weerlegging, teregwysing en onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Dus, ’n Ware leer is die leer wat getrou aan Jesus Christus en sy Woord bly – dit bou op, troos, korrigeer en lei tot die waarheid; terwyl ’n vals leer die evangelie verdraai, mense weg van God lei en dikwels aanvanklik reg lyk en klink, maar bring geestelike skade. Ware leer kom uit die Skrif, nie uit menslike opinies nie.

Besonder goeie insiggewende brief! Baie dankie vir die plaas daarvan. Ons wil meer van jou briewe lees, Philip!
Baie goeie skrywe met Skrifgebaseerde ondersteunning..nou wonder ek hoe mis die predikant die en laat hy hierdie gruwel toe in die plek van same koms.. juis hierdie optrede het gelei tot ballingskap eers vir Isreal en toe vir Juda.Hoe lank nog sal die gemeente die Here terg….