Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

NG Kerk

Johan van der Merwe: Dié belydenis moet weer afgestof word

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die Rustenburgberaad wat 35 jaar gelede plaasgevind het, staan in die geskiedenis van die NG Kerk uit as een van die belangrikste roetemerkers. Dié beraad, wat vanaf 5-9 November 1990 plaasgevind het en deur verteenwoordigers van meer as 80 kerke en godsdiensorganisasies bygewoon is, is die plek waar prof WD Jonker sy bekende belydenis namens homself, die NG Kerk en die Afrikanervolk gedoen het. Hy het die volgende gesê: “I confess before you and before the Lord, not only my own sin and guilt, and my personal responsibility for the political, social, economic and structural wrongs that have been done to many of you and the results of which you and our whole country are still suffering from, but vicariously I dare also to do that in the name of the DRC of which I am a member, and for the Afrikaner people as a whole.” Hy het voortgegaan deur te beklemtoon dat die besluite van die Algemene Sinode van 1990 die weg gebaan het vir hierdie belydenis.

LEES OOK | Verstaan die Ou Testament: Wat leer ’n mens uit die Bybel oor die aflê van geloftes?

Wat die belydenis so belangrik maak in ’n tyd waarin daar weer stemme opgaan wat die NG Kerk oproep tot skuldbelydenis, was die reaksie van die afgevaardigdes. Aartsbiskop Desmond Tutu het namens die lede van die beraad gereageer deur te sê: “As die NG Kerk vandag sê dat hy berou het dan moet almal sê: ‘Ons vergewe julle.’” Jonker beskryf die oomblikke daarna: “Op daardie oomblik het almal opgestaan. Daar was trane, daar was ’n gees van bewoëndheid. So iets het ek nog nooit tevore belewe nie. Ek het dit ervaar as ’n omarming, as ’n diepe gebaar van aanvaarding deur medegelowiges wat in diepe bewoëndheid ons skuld van ons afneem.” Dr Frits Gaum het kort daarna in Kerkbode oor die belydenis geskryf: “Vir die NG Kerk is die skuldbelydenis van die Algemene Sinode van 1990 en die oordra daarvan aan die Rustenburgse Kerkeberaad ’n oomblik van bevryding.”

Natuurlik was daar ook negatiewe reaksie op die belydenis. Tydens ’n buitengewone vergadering van die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) is Jonker en die afvaardiging van die NG Kerk daarvan beskuldig dat hulle nie die hele besluit van die sinode aangehaal het nie. ’n Groot groep beswaarde lidmate het ook op 1 Desember 1990 in Pretoria byeengekom om die belydenis te bespreek en te kritiseer. Hierdie reaksie het egter gewys dat die belydenis, alhoewel omstrede, die hart van die NG Kerk geraak het.

Waarom is dit belangrik om die belydenis spreekwoordelik weer af te stof? Die antwoord is voor die hand liggend. Te midde van nuwe oproepe om skuldbelydenis, mag daar nie gemaak word asof die kerk nog nooit belydenis gedoen het nie. Die gebeure in Rustenburg was heilige oomblikke in die geskiedenis van die kerk, wat verdien om onthou te word.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Johan van der Merwe: Dié belydenis moet weer afgestof word”

  1. Ek distansieër my totaal van Prof Willie Jonker se belydenis. In daardie opsig moet dit dalk afgestof word en weggebêre word. Mens kan dit nie tot niet maak nie – dis nou klaar deel van die kerk se geskiedenis. Mens moet egter baie versigtig wees wanneer jy so ‘n belydenis maak en dit koppel aan die kerk self. Selfs die Algemene Sinode is nie regtig verteenwoordigend van die kerk nie. Daar is maar ‘n klein persentasie van die kerk teenwoordig wanneer die AS besluite neem.

Comments are closed.

Scroll to Top