Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In die Ou Testament is ʼn gelofte iets wat die persoon wat die gelofte aflê, nakom. Sias Meyer bekyk die teksgedeeltes.
Ons het grootgeword met die idee dat daar ʼn paar dae voor 16 Desember 1838 ʼn gelofte afgelê is voor God: dat as God op die dag ʼn oorwinning sou gee aan die voortrekkers, hulle en hulle nageslagte ʼn kerk sou bou en altyd die dag sou vier as ʼn soort Sabbat. Maar wat is ʼn gelofte en waar kom dit vandaan?
LEES OOK | Brief: Intersessie vs Islamofobie
Dit kom uit die Bybel, veral uit die Ou Testament (OT). In die 2020-vertaling word die Afrikaanse woord “gelofte” gewoonlik vir die Hebreeuse něděr gebruik. Die selfstandige naamwoord něděr kom 60 keer in die OT voor. Daar is ook ʼn werkwoord van die stam ndr wat “gelofte aflê” beteken. Wat is ʼn něděr, of dan ʼn gelofte? ʼn Gelofte is in sekere gevalle ʼn soort belofte wat ʼn individu of ʼn groep wat hulleself in moeilike omstandighede bevind aan God maak. “Here as U my/ons hiermee help, dan doen ek/ons dit of dat vir U.” ʼn Paar voorbeelde sal ons dalk help.
LEES OOK: Is NG Kerk ondanks die insigte van missionale teologie steeds besig om wit belange te beskerm?
In Numeri 21 word die Israeliete deur ʼn Kanaänitiese koning genaamd Arad bedreig. In vers 2 lê hulle ʼn gelofte af: “As U hierdie volk ten volle in my hand gee, sal ek hulle stede met die banvloek tref.” Nog ʼn voorbeeld is die berugte Jefta wat in Rigters 11 moet gaan baklei teen die Ammoniete en dan ʼn gelofte aan die Here aflê (verse 30-31): “As U werklik die Ammoniete in my hand gee, dan sal die een wat uitkom, wat by die deur van my huis uitkom om my te ontmoet wanneer ek behoue van die Ammoniete af terugkeer, aan die Here behoort. Ek sal hom as brandoffer offer.” Ons ken almal die res van die verhaal, want dit is sy enigste dogter wat hom tegemoetkom. Hy offer haar uiteindelik as ʼn brandoffer. In 1 Samuel 1 lees ons van Hanna wat nie kon swanger word nie en dan in vers 11 lê sy ʼn gelofte af dat as die Here vir haar ʼn seun sal gee, dan sal sy hom vir die Here “teruggee”. Gelukkig beteken “teruggee” nie offer nie, maar oorhandig vir diens in die tempel. So lees ons dan in vers 24 dat Hanna eers vir Samuel speen en hom dan aan die priester in Silo gaan oorhandig om daar diens te doen. Samuel word een van die belangrikste karakters in Israel se geskiedenis veral in die oorgang van die rigterstyd na die koningstyd.
LEES OOK: Wat sê die Bybel oor die duiwel en die Bose?
Hopelik is dit duidelik dat in al drie gevalle die persoon of persone wat die gelofte afgelê het in die knyp was en het hulle God se hulp nodig gehad. Hy help dan in elke geval en hulle kom hulle gelofte na. In baie gevalle in die OT het so ’n gelofte ʼn offer as teenprestasie aangebied en dit word ’n “gelofte-offer” genoem (Deuteronomium 12:6).
LEES OOK: Wat sê die Bybel oor die Heilige Gees?
Dit is belangrik om te verstaan dat so ʼn gelofte bindend was. Tekste soos Numeri 30:2 en Deuteronomium 23:23 sê duidelik dat wat ook al oor jou lippe kom, dit moet jy nakom. In die res van Numeri 30 kom die patriargale konteks van die OT duidelik na vore omdat vrouens eers moet toestemming kry voor die gelofte bindend is, maar vir ʼn man is daar nie uitkomkans nie. Dit verduidelik byvoorbeeld Jefta se geval. Al is die OT oorwegend teen menseoffers (’n ingewikkelde debat vir ʼn ander dag), is dit nie ʼn verskoning vir Jefta om sy gelofte te breek nie. Hy moes eenvoudig sy dogter offer.
LEES OOK | Brief: Geloftedag se herinnering van geloof
Daar is ook iets soos ʼn buitengewone gelofte. Ons lees daarvan in Levitikus 27, Numeri 6 en 15. Dit klink soos ʼn gelofte wat iemand aflê wat nie in die moeilikheid is nie, maar bloot iets vir God wil doen. Die beroemdste voorbeeld hiervan is die Nasireërgelofte van Numeri 6. Beide mans en vrouens mag so ʼn gelofte aflê. So ʼn persoon mag niks eet of drink wat van die druiwestok kom nie, nie sy/haar hare sny nie en dooies ten alle koste vermy. So ʼn persoon word as heilig beskou (vers 8).
Om terug te keer na 16 Desember, dit is duidelik dat die idee om ʼn belofte aan God te maak wanneer jy in die knyp is, uit die OT kom. Maar waar het ons voorvaders aan die idee gekom dat ʼn gelofte bindend kan wees vir toekomstige geslagte? So ver ek kan sien kry ʼn mens nie hierdie idee in die OT nie. ʼn Gelofte is iets wat die persoon wat die gelofte aflê nakom. Jefta offer sy dogter. Hanna oorhandig haar seun vir tempeldiens. In Numeri 21 tref die Israeliete self die stede van Arad met die banvloek. In die OT is ʼn gelofte net bindend op die persoon wat dit aflê, nie toekomstige geslagte nie. Die vraag is dan waar ons voorvaders aan die idee gekom het? Hiermee sal (kerk)historici ons moet help.
Prof Sias Meyer doseer Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria.
Geloftedag deur die jare in Suid-Afrika
GELOFTEDAG is aanvanklik “Wendag” en “Dingaansdag” genoem. Die aanloop tot en die Slag van Bloedrivier self op 16 Desember 1838, is die oorsprong van Geloftedag. Bloedrivier 1838 was nie soseer ’n wit-swart-polarisasie nie, maar het eerder, vanuit ’n bepaalde gesigshoek gesien, oor Christelike waardes gegaan – soos eerlikheid, regverdigheid en vryheid. Benewens die 468 Boeremans en drie Engelse, was daar ook 60 swartes en ’n onbekende aantal bruinmense in die laer van die Voortrekkers. Dingane was nie as aanvoerder van ’n “swartmag” beskou wat teen ’n “witmag” te staan gekom het nie. Bewys daarvan is die bondgenootskap tussen die Voortrekkerleier, Andries Pretorius, en mPande, halfbroer van Dingane, wat hierna met ’n strafekspedisie, waaronder 17 000 Zoeloes, finaal met Dingane afgereken het. In die dae voor 16 Desember 1838 het die Voortrekkers* op versoek van Pretorius en onder leiding van Sarel Cilliers aan God belowe dat, sou Hy aan hulle die oorwinning oor die Zoeloes gee ná, onder meer, die moord op Piet Retief en sy mense, hulle en hulle nageslag die betrokke dag “soos ’n Sabbat” in dankbaarheid aan Hom sou wy. Die Voortrekkers het die oorwinning behaal, en daarna het hulle die betrokke dag jaarliks soos ’n Sondag gevier, hoewel van hulle, en selfs Pretorius, hierin mettertyd verflou het. Die vraag is of ’n groep mense hulle nageslag met so ’n gelofte kan bind. Die Voortrekkers het besef wat in daardie stadium op die spel was – dalk die Christelike geloof self in daardie deel van die land? – en dit getuig van hulle geloof in God dat hulle so ’n gelofte gemaak het. Hulle het die erns van die situasie besef. So gesien, was dit nie ’n ligsinnige gelofte nie, en kon hulle seker minstens hoop dat hulle nageslag sou verstaan waarom hulle die gelofte gemaak het en daarin sou wou deel. In die hedendaagse Suid-Afrika het Geloftedag “Versoeningsdag” geword en het die gelofte van destyds by baie in die vergetelheid verdwyn. Die gelofte van toe en versoening in die nuwe omstandighede, is egter nie teenstellend nie. Dit sou vir die nageslag van die Voortrekkers, en mense wat hulle met die waardes van die Voortrekkers kon vereenselwig, vertel waar hulle vandaan kom en watter rol geloof in God in hulle geskiedenis gespeel het. – Skrywers: PW Bingle, FM Gaum, Bron: eCKE
