Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

My bedoeling is nie hier om te sê dat die organiseerders by die Groote Kerk se bedoelings met die tekens reg was en die ander interpretasies verkeerd – of andersom – nie. Die punt is dat verskillende mense se kontekste van interpretasie nie genoegsaam bymekaar uitgekom het nie, skryf Dieter de Bruin, 'n praktiese teoloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria. Grafika: Saamgestelde foto ter illustrasie

Uit ’n ander hoek: Só kan tekens en simbole betekenisoordrag versterk óf kelder 

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ook op kansels en in kerke geld die reël: Wat een persoon sê, is nie noodwendig wat die ander persoon “hoor” en verstaan nie, skryf Dieter de Bruin met verwysing na die geleentheid waar Groote Kerk op 26 Oktober as gasheer opgetree het vir ’n publieke vraag-en-antwoord-sessie met die regskenner Francesca Albanese. In hierdie bydrae, wat volg op briewewisseling die afgelope weke, asook beriggewing oor die geleentheid self, bied De Bruin ‘n bykomstige perspektief oor die sterk emosies wat dikwels aan tekens en simbole gekoppel is.

 

Die geleentheid getiteld Critical Discussion on International Justice, Human Rights, and the Collapse of the International Legal Order het op ’n Sondagmiddag in die kerkgebou plaasgevind en sonder om dit te oorvereenvoudig, sou ’n mens kon sê dat die meeste tekens wat die dag sigbaar was in die kerkgebou simboliese tekens was. Met ander woorde: tekens waarvan die verwysingskrag nie voor die hand liggend is nie, maar wat deur konvensie en tradisie – en die interpretasies wat in verskillende kontekste daaraan geheg word – funksioneer.

LEES OOK: ‘Liturgiese ruimte behoort aan God alleen’

Volgens sommige is die kerkgebou en die kansel, ens., nie meer “heilig” as ander plekke nie, aangesien die mense self die woning van God is en die liturgie in die lewe gebeur, ens. Vanuit een perspektief is dit natuurlik waar, maar in hierdie geval is dit nie die punt nie. Dit is ooglopend dat die organiseerders van die dag nie die kerkruimte as bloot “funksioneel” en “neutraal” gesien het nie. Daarvan getuig die bewuste gebruik van tekens, soos die klerikale drag, die vlae wat gedrapeer word ens. 

Die vraag is nou eerder of daar suksesvolle betekenisoordrag van die tekens plaasgevind het? Om net twee voorbeelde te noem:

Vir die organiseerders verteenwoordig die Palestynse vlag nie die staat Palestina nie, maar die mense van Palestina. Vir ander verteenwoordig die Palestynse vlag Hamas, “from the river to the sea” en die aandrang dat Israel van die gesig van die aarde gevee word.

Vir die organiseerders verteenwoordig die Joodse en Moslem-geloofsleiers wat op die kansel staan ’n pleidooi vir vrede vanuit elkeen se geloofsperspektief. Vir ander is die teken van die kansel onlosmaaklik verbind aan die verkondiging van die (Vleesgeworde) Woord en daarom nie die ruimte vir ander geloofsleiers om rede te lewer nie.

LEES OOK: ‘Gasvryheid – selfs teenoor ander gelowe – is nie verraad van die evangelie nie’

Tekens en simbole is nie net een-tot-een-verwysings na ’n bewuste betekenis nie, maar dit lê veral op die onderbewustelike emosionele vlak. Vandaar die sterk emosies wat daaraan gekoppel is.

 

Wanneer slaag betekenisoordrag?

Na aanleiding van die Amerikaanse filosoof Charles Peirce, voer die teoloog Graham Hughes aan dat betekenis nie net ’n gegewe in die wêreld is nie, maar iets wat tussen die skeppers van betekenis en die ontvangers daarvan ontstaan. Betekenis is dus nie staties nie, maar ontwikkel in ’n proses van kommunikasie — en dan meer spesifiek – die uitruil van tekens.

LEES OOK: Kaapse gemeente poog om solidariteit te toon deur gasheer te speel vir Francesca Albanese in brandpuntgesprek oor Israel en Gasa

In Peirce se teorie van betekenis is daar drie faktore betrokke: Die produsent, die ontvanger en die interpretatiewe konteks wat die skepping en ontvangs van betekenis in die eerste plek moontlik maak. Elke teken het op sy beurt eweneens drie dimensies, nl. die betekenaar, die betekende en die objek. Vir die betekenaar — om suksesvol die bedoelde betekenis oor te dra — moet die konteks van betekenis ook ’n rol speel, wat aan beide die skepper en die ontvanger van betekenis moontlike interpretasies van die teken kan gee om sin vanuit te maak.

Vir betekenisoordrag (semiose) om te slaag, volgens Hughes, is dit nodig dat die skepper en die ontvanger beide hulle onderskeie kontekste van betekenis naby genoeg aan mekaar kan bring. En juis omdat dit nie noodwendig aangeneem kan word dat beide die skepper en die ontvanger van betekenis dieselfde konteks van interpretasie deel nie, is die oordrag, die ontvangs en die skep van betekenis ’n brose onderneming. Om dit eenvoudig te stel: Wat een persoon sê (en dit weet ons al te goed uit ons ervaring van alledaagse kommunikasie) is nie noodwendig wat die ander persoon “hoor” en verstaan nie. Waar die persoon wat iets sê en die persoon wat hoor glad nie ’n wêreld van betekenis deel nie, misluk kommunikasie geheel en al.

Hughes onderskei tussen drie tipes tekens (mens sou dalk ook raker kon sê drie dimensies van tekens): Ikoniese tekens, indeksikale tekens en simboliese tekens.

  • Ikoniese tekens verwys na die objek van betekenis deur ooreenstemming daarmee. Dink aan die stokmannetjie by ’n mansbadkamer om die geslag van die badkamer aan te dui.
  • Die indeksaliteit van ’n teken dui (o.a.) op die koherensie wat daar is tussen dít wat die “gebruiker” of skepper met die teken doen en dít wat hy/sy graag met die teken wil doen (of dalk wat die teken gedóén wil hê).
  • Simboliese tekens verwys na die objek van betekenis slegs deur konvensie en tradisie.

 

My bedoeling is nie hier om te sê dat die organiseerders by die Groote Kerk se bedoelings met die tekens reg was en die ander interpretasies verkeerd – of andersom – nie. Die punt is dat verskillende mense se kontekste van interpretasie nie genoegsaam bymekaar uitgekom het nie.

Waar laat dit ons dan? Vir Hughes lê daar ’n verantwoordelikheid op beide die mense wat tekens inspan (kom ons dink aan die liturge van ons dag) en die mense wat die tekens moet interpreteer (dink maar aan gemeentes of die NG Kerk in hierdie geval).

Vir ons wat blootgestel word aan tekens wat ons ontstel of waaraan ons negatiewe interpretasies heg, is die uitdaging dan om die goeie bedoelings (die indeksaliteit) van die een wat die tekens inspan as vertrekpunt te neem. 


Dr Dieter de Bruin is ‘n dosent by die Departement Praktiese Teologie en Missiologie aan die Universiteit van Pretoria. 

 

 

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top