Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Brief: ‘Gasvryheid – selfs teenoor ander gelowe – is nie verraad van die evangelie nie’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

JG de Bruin van Groote Kerk skryf: Ek het met aandag die twee briewe oor die intergeloofsgeleentheid in die Groote Kerk gelees, een deur Bernhard Ficker en een deur Tinus Diedericks. Albei kom uit plekke van diepe geloof en liefde vir die kerk, en albei dra iets van die ongemak waarmee baie lidmate vandag sit: Wat gebeur met die heiligheid van die kerk as sy haar deure oopmaak vir mense van ander gelowe, of vir gesprekke wat polities klink?

LEES OOK: ‘Die kerk is nie ’n galery vir politieke solidariteit nie’

Dit is ’n belangrike vraag, maar dalk moet ons dit effens anders stel: Wat gebeur met die kerk as sy NIE meer oopmaak nie?

Om gasvryheid te wys, selfs teenoor mense wat anders glo of anders praat, is nie ’n verraad van die evangelie nie. Dit ís die evangelie. Die kerk raak nie minder heilig wanneer sy haar deure oopmaak nie; sy raak juis méér soos Christus.

LEES OOK: ‘Hieroor was die intergeloofsgeleentheid by Groote Kerk vir my traumaties’

Ek verstaan die vrees dat die kansel ’n plek van verwarring kan word wanneer ’n imam daar praat of ’n Palestynse vlag langs die kruis hang. Maar dalk moet ons onthou: Die kruis was nog altyd ’n plek van verwarring. Dit is ’n plek waar hemel en aarde mekaar sny, waar geweld en genade in dieselfde asem asemhaal. Jesus het nie aan ’n neutrale muur gehang nie, maar tussen mense; tussen Romeine en Jode, tussen gelowiges en ongelowiges, tussen mag en lyding.

LEES OOK: Kaapse gemeente poog om solidariteit te toon deur gasheer te speel vir Francesca Albanese in brandpuntgesprek oor Israel en Gasa

Die kruis staan nie teenoor die wêreld nie, maar in die wêreld. En die kerk, as liggaam van Christus, behoort ook dáár te staan, nie noodwendig as ’n galery vir politieke slagspreuke nie, maar as ’n ruimte waar pyn, onreg en hoop in gesprek kom. Dit is makliker om die kruis te beskerm as om dit te beliggaam. Maar Christus het ons nooit gevra om wag te staan voor die kerk se deure nie.

Geloof is nie apolities nie, want om vir geregtigheid, vrede en menswaardigheid te pleit is politieke taal – dit is die taal van die koninkryk. Wanneer ’n vlag en die kruis in dieselfde ruimte hang, hoef dit nie ’n botsing te wees nie. Dit kan ’n ontmoeting wees, ’n ongemaklike, heilige, menslike ontmoeting waar God dalk iets nuuts probeer sê. Die Groote Kerk se ruimte is nie ontheilig omdat ’n Palestynse vlag daar gehang het nie. Heilige grond is nie grond sonder stof nie; dit is grond waar mense ontmoet, waar trane val, waar gebede kruis.

Ek glo nie die Groote Kerk het haar heiligheid verloor nie. Ek dink sy het haar menslikheid herontdek. En dalk is dit presies waar heiligheid begin.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

15 thoughts on “Brief: ‘Gasvryheid – selfs teenoor ander gelowe – is nie verraad van die evangelie nie’”

  1. William McKay

    Ek wil aansluit by JG de Bruin se vraag: Wat gebeur met die kerk se Heiligheid? Ek wil die vraag uitbrei: wat (het) gebeur met die Groote Kerk kerk se Heiligheid en
    Geloofwaardigheid toe slawe na diens op Kerkplein verkoop was? Wat (het) gebeur met die Heiligheid en Geloofwaardigheid van die kerk
    toe gelowiges van Kleur verbied was om in dieselfde Kerk te aanbid? Die oop interkerklike en inter-geloof dienste by die Groote Kerk het weer die Heiligheid, Geloofwaardigheid en Getuienis van die NG Kerk in die wêreld herstel. Dankie Groote Kerk vir julle Groot Hart en Groot Liefde vir die wêreld

    1. Chael TerBlanche

      Dit is ook my vraag. Wat het gebeur met die kerk se heiligheid? Was die kerk afgesonder vir die Here of vir mense? Indien Jesus nie verkondig was nie, was dit nie vir die Here nie. Die kerk het in die verlede baie keer gefaal, net soos nou.

  2. JG, die kruis was nog nooit ’n plek van verwarring vir gelowiges nie, maar vir ongelowiges. Ware gelowiges is nie verwar oor wie God is, wat Hy deur Sy Seun gedoen het en wat Hy gaan doen nie. Daar is geen verwarring vir die wat in Christus is en oor wat die kruis beteken nie. Die verwarring kom in by die wat Hom nie ken en erken as die weg en die waarheid en die lewe nie, en dat niemand na die Vader kan kom behalwe deur Hom (Christus), nie.
    Om die palestynse vlag (wat grootliks islam verteenwoordig) langs die kruis (wat Christus verteenwoordig) te hang, in ‘n christelike kerk, tesame met imams en dies meer agter die kansel, is nie ‘n teken van heiligheid, geloofwaardigheid, getuienis en menslikheid nie, maar een van ‘n ontkenning oor wat die islam-godsdiens werklik is en ten doel het, en ‘n verwarring oor wie Christus is. Dalk het ek dit verkeerd en die Groote Kerk se hele idee is/was om hierdie ongelowiges (islam) te laat afsien van hulle godsdiens en hulle te lei tot bekering en na die ware geloof in Christus Jesus? Indien dit dan so is, neem ek aan dat die Joodse vlag langs die kruis gaan hang en ‘n paar Rabbis volgende Sondag hulle speekbeurt om vir geregtigheid, vrede en menswaardigheid te pleit, in die Groote Kerk, gaan kry?

    1. Om ’n Palestynse vlag in die kerk te sien, beteken nie dat die kerk Islam bely nie; dit kan beteken dat die kerk pyn raaksien. Dit kan ook beteken dat sy weet die wêreld se wonde is nie net teologies nie, maar menslik. Wanneer die kerk in sulke oomblikke gasvry is, is dit nie om haar geloof weg te gooi nie, dis om Christus se medelye uit te leef.

      Christenskap hoef nie Islam te demoniseer om getrou te bly aan Christus nie. Ons glo nie omdat ons dink ander verkeerd is nie; ons glo omdat ons Hom ontmoet het. En dis daarom dat ons Hom dáár dra waar mense nog soek, selfs as daar verskil of misverstand is.

      Eks bly die kruis is nie vir jou ‘n plek van onsekerheid nie, maar ek dink vir baie mense (insluitend myself) is dit ‘n moeilike spasie, en dis ok, want ek dink nie twyfel is die vyand van geloof nie. Ek dink ons sekerheid laat ons meer in die steek as enige iets anders.

      Die kruis was nog altyd ’n plek van verwarring — selfs vir die dissipels. Nie omdat hulle nie geglo het nie, maar omdat die manier waarop God red en regeer altyd anders is as wat ons sou kies. God se heiligheid is nie broos nie.

      As die kerk ooit so seker raak van haar suiwerheid dat sy nie meer die wêreld se pyn durf aanraak nie, dan het sy vergeet wie se liggaam gebreek is en vir wie se vrede dit was.

  3. Sleutelbordkryger

    Nee, die evangelie is nie gasvryheid nie. Die evangelie is die Goeie Nuus van Christus.

    So kan mens maar ‘n Israeli vlag in die Groote Kerk hang? Ek vermoed die antwoord is ‘n duidelike “nee”. Die NG Kerk het kant gekies in ‘n oorlog wat baie minder met haar te doen het as ander oorloë (bv die massamoord van Chistene in Nigerie ens, wat skynbaar baie minder belangrik is as om ons geld vir Gaza te stuur) terwyl dit eintlik glad nie gevraagd was nie.

    Die rede is sodat die leiers gesien kan word as inklusief en anti-apartheid, en progressief, dis vir hulle meer belangrik as om die Woord uit te dra. Hierdie was mos nou ‘n gulde geleentheid om bietjie vir mense te vertel van Jesus, maar hulle is skaam vir die Boodskap.

    Verder, vra jouself af: sal ‘n moskee se leierskap toelaat dat ‘n pro-Israeli dominee daarin praat of dat ‘n LGBTQ+ flag in die binneruim gehang word? Beslis nie.

    1. Ek stem saa,: die evangelie is nie bloot gasvryheid of simboliese inklusiwiteit nie. Die evangelie is die goeie nuus van Jesus Christus, maar daardie goeie nuus kom altyd eerste na die honger, arme, en gemartelde.

      As die Groote Kerk dus ’n Palestynse vlag ophang of saam met mense van ander geloofstradisies staan, is dit nie noodwendig omdat sy “progressief” of “anti-apartheid” wil lyk nie, maar omdat sy glo dat die kruis nie net ’n antwoord vir individue is nie, maar vir die hele wêreld se stukkendheid. Dit beteken nie die kerk kies ’n politieke kant nie, dit beteken sy kies die kant van menslike pyn. En dit is presies wat Christus self gedoen het.

      Die vraag oor waarom ’n Palestynse vlag “mag” hang, maar nie ’n Israeli vlag nie, is ’n belangrike een. Maar ek dink die punt behoort egter nie te wees wie se vlag daar hang nie, maar WAAROM dit daar hang. As dit ’n teken is van solidariteit met slagoffers van geweld, ongeag hulle nasionaliteit, dan dra dit iets van die evangelie se etiek.

      Met betrekking tot jou punt oor moskees: nee, hulle sal waarskynlik nie ’n predikant toelaat om oor Christus te preek nie. Maar die kerk se roeping word nie bepaal deur wat ander doen of toelaat nie. Die kruis het nog altyd die rigting omgedraai, dit wys nie na beskerming van die eie nie, maar na selfprysgawe vir die ander. Ons doen dit nie omdat ander dit sou doen nie; ons doen dit omdat ons glo dit is hoe God self optree.

      As die kerk se optrede in hierdie geval oppervlakkig of strategies was, is dit reg om dit te bevraagteken. Maar as dit was (soos wat ek dink) om Christus se medelye te beliggaam in ’n wêreld wat brand van geweld, dan getuig dit nie van skaamte vir die evangelie nie, maar van gehoorsaamheid aan Hom wat gesê het: “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

  4. Hallo JG.

    Laat ek begin deur te sê dat hierdie skrywe van my nie daarop gemik is om te oordeel en te beswadder nie, maar (soos ek glo) gemik is op die waarheid en die egtheid van die Evangelie (Jesus Christus) wat ons behoort te verkondig en oor wie God is, wat Hy gedoen het en wat Hy gaan doen. Dit is alles vervat in die Woord (Bybel). Alles begin en eindig by God. God red en God alleen red.

    Dit bring my by die “woke”-ideologie wat hoofsaaklik gefokus is op sosiale geregtigheid, wat op sy beurt gefokus is op wat die mens (spesifiek die liberale mens) sien en reken as geregtigheid. Die “woke”-ideologie het stadig maar seker die christelike kerk binne gedring en vorder fluks. Hier word die terme menslikheid, medelye, gasvryheid, insluiting en dies meer, by uitstek gebruik. Dit gaan oor die wys van sogenaamde “liefde” maar ongelukkig met die afwesigheid van die waarheid (omdat daar skynbaar geen absolute waarheid is nie). Die uiteinde van hierdie “woke” benadering bring Universialisme mee wat die broer van Sekularisme is.

    Die punt is, Jesus Christus is die absolute Waarheid en Hy het nie gesê “Ek is die weg en die liefde en die lewe nie” maar “Ek is die weg en die Waarheid en die lewe”. Enige menslike poging van heiligheid, geloofwaardigheid, getuienis en menslikheid behoort te begin en te eindig in Christus, sonder Hom is dit futiel. Daarom, is die kerk se roeping die verkondiging van die waarheid van die Evangelie van Christus en dit in liefde.

    Die gevaar wat die Groote Kerk loop is een van verwarring saai deur islam in die kerk te nooi met imams, vlae en dies meer, sonder om hulle te bedien met die waarheid van die Evangelie van Christus, en eerder te fokus op wat hulle sien as ‘n teken van heiligheid, geloofwaardigheid, getuienis en menslikheid. Waar en hoe is Christus verkondig, bedien en verheerlik?

    Soos reeds gevra, wie is volgende aan die beurt en agter die Groote Kerk se kansel, die Joodse Rabbis met hulle Israel vlae, gevolg deur die Budiste en hulle tekens, dan die Hindus en hulle afgodsbeeldjies, en so voorts? Ek meen daar is lyding oral in die wêreld en dus kan die bewys van liefde, solidariteit, gasvryheid, geloofwaardigheid, menslikheid en medelye sekerlik nie beperk word tot een godsdiens groep nie? En dan, wanneer gaan die Groote Kerk se leierskap in een (of almal) van die Kaapstadse Moskees aan die woord kom as teken van heiligheid, geloofwaardigheid, getuienis en menslikheid tesame met die kruis wat agter hulle staan in “soliraditeit” met islam?

    1. Dankie Dolf. Ek verstaan heeltemal jou punte. Ek dink dit is goeie en eerlike vrae.

      Is die kerk se roeping om die waarheid van Christus te verkondig?
      Ja, altyd. Sonder die waarheid van Christus het die kerk geen boodskap nie.

      Het die Groote Kerk Christus verloën deur saam met ander geloofsgroepe te staan?
      Nee. Sy het nie Christus verloën nie; sy het probeer wys dat Christus se lig selfs in ander mense se donker plekke kan skyn.

      Was dit “woke” of sekulêr?
      Dit het nie gegaan oor ideologie nie, maar oor menswaardigheid — iets wat juis uit die evangelie vloei.

      Waar en hoe is Christus verkondig?
      Deur teenwoordig te wees by mense wat ly, deur vrede te soek, en deur te getuig van die God wat liefhet.

      Moet ander gelowe nou ook uitgenooi word met hul simbole en rituele?
      Nee. Die punt is nie om alles toe te laat nie, maar om die kruis in gesprek te bring met die wêreld se pyn. Die vlag was nie aanbidding nie, dit was ’n teken van solidariteit.

      Sal die kruis ooit in ’n moskee mag staan?
      Waarskynlik nie, maar die kerk volg nie die moskee se voorbeeld nie. Sy volg Christus, wat saam met alle mense geëet het, met mense van wie almal gesê het: “Hy hoort nie hier nie.”

      Is dit gevaarlik om verwarring te saai?
      Ja, as Christus verduister word, is dit gevaarlik. Maar as Hy deur ons dade van vrede en deernis sigbaar word, is dit nie verwarring nie — dit is getuienis.

    2. Johann Nortier

      Dolf.
      Stem heeltemal met jou saam.
      Dit was n politike byeenkoms en die ontheiliging van God se temple.

  5. Hi JG. Dankie vir jou skrywe. Ek hoor jou duidelik en ja, dit is ‘n manier om deur dade van vrede en deernis, geloof in Christus sigbaar te maak. Ons weet dat geloof sonder dade dood is maar ook dat dade nie red nie, maar geloof – dade is dus ‘n uitvloeisel van geloof. Daar is, soos jy weet, baie mense wat uiterste deernis en medelye met mense het, wat besonderse goeie dade elke dag doen en hulle self en hulle tyd opoffer vir mense wat ly. Hierdie mense is nie noodwendig christene nie maar van baie verskillende godsdienste en van hulle is selfs ateïste.

    Die vraag is, wys goeie moslems, Allah wat ‘n hart vir mense het wat ly en hulle liefhet? of goeie Boediste, Boedha wat ‘n hart vir mense het wat ly en hulle liefhet?, ens. Wat of wie, wys goeie ateïste deur hulle dade? Het die imams Christus of Allah verheelik toe hulle in die Groote Kerk vir geregtigheid, vrede en menswaardigheid gepleit het? Mense kom tot geloof deur die hoor van die Evangelie van Christus – deur die werk van die Heilige Gees. Hoe kan mense van Christus weet as Hy nie verkondig word en hulle hoor nie?

    Ek kan verkeerd wees want ek was nie daar (Groote Kerk) nie, maar is Christus woordeliks met volle geloofoortuiging en sonder kompromie, verkondig aan al die moslems wat teenswoordig was (insluitende die imams), sodat daar geen verwarring is dat Christus red en Hy as die Seun van God, die enigste waarheid en weg is en daar slegs lewe in Hom is? Of is dit “ge-bypass” met dade van sogenaamde vrede, deernis en medelye met solidariteit tussen die kruis en die palestynse vlag (wat hoofsaaklik islam verteenwoordig)? Of was dit nie die “regte tyd” nie, of sou dit dalk onvanpas toe gewees het? Jy sien JG, die Waarheid bring verdeeltheid en word daarom in sommige kringe soos die pes vermy.

  6. Wil net een vraag vra.gaan jul darem die mense van die Oekraiene ook nooi?wat van hul lyding?

  7. Andre Badenhorst

    Die ware toets van die kerk se opregtheid met hierdie benadering sal wees om die Joodse gemeenskap te nooi, en spreekbeurte te gee aan slagoffers van 10/7, tesame met familielede wat in hierdie tyd van skietstilstand moet toesien hoe die oorskot van hul naasbestaandes op ‘n grusame en onmenslike wyse soos hier (https://youtu.be/-Qvc3iI2HiU?si=KBp4sJKvh9d3_60W) geskend word. Eers as dit oor hierdie tipe menslikheid gaan, sonder vooroordeel en sonder dat dit met logiese gimnastiek verwerp word, dan sal ek glo wat in hierdie brief staan.

  8. Philip Coetzee

    lees gerus my artikel ” Christendom en Islam: Twee kontrasterende gelowe” onder Rebrieke in die Kerkbode. Dit verleen ʼn goeie begrip oor twee wyd uitlopende gelowe. Ook verwys ek, anders as Dr Christo Benade wat noem dat ons aan verskillinde denominasies behoort, beklemtoon ek die feit dat ons nie Islam as ʼn denominasies kan of mag sien nie, maar ʼn ander geloof met verwyderde Godsbegrip.Tydens my teologiese studies het ek ook ʼn Bth en Honeurs gedoen in Islam studies en is nogsteeds betrokke met Moslem uitreik, en kan ek.met sekerheid getuig dat hulle nie dieselfde Jesus as ons verkondig nie.

  9. Die kritiek teen die Groote Kerk en die standpunt dat ’n kerk hom van “politiek en ideologie” moet weerhou wanneer dit standpunt inneem oor die slagting in Gaza, klink oortuigend vir dié wat godsdiens (kerk) as ’n veilige, privaat morele ruimte wil hou.
    Tog getuig die Evangelies daarvan dat Jesus juis nie ’n apatiese of neutrale figuur was nie.
    Jesus het nie sy bediening in ’n vakuum uitgeleef nie; hy het in ’n wêreld van Romeinse militêre en Griekse kulturele oorheersing en ’n hegte alliansie tussen politieke mag en godsdienstige elite opgetree.
    Sy verwysing na ’n nuwe koninkryk was nie net ’n geestelike metafoor nie — dit was ’n uitdaging aan die gevestigde magte van die dag.
    Jesus het die tempelleiers gekonfronteer en die waardigheid van die armes, siekes en gemarginaliseerdes probeer herstel.
    Wanneer hy sê “geseënd is die vredemakers” en “alles wat julle aan die geringstes doen, doen julle aan my,” roep hy volgelinge op om morele oordeel uit te spreek oor ongeregtigheid.
    Hierdie uitsprake is nie ideologies of polities neutraal nie; dit verwoord ’n etiese standpunt wat gesag, mag en geweld aanspreek.
    Dit is geen wonder dat Jesus deur die politieke en godsdienstige maghebbers as ’n bedreiging gesien is nie. Sy arrestasie en kruisiging was nie toevallige godsdienstige vervolging nie of die volbringing van profesie nie, maar ’n polities-gemotiveerde poging om ’n rebel stil te maak.
    Wanneer kerke (ook die Groote Kek) dus stem gee aan lyding — of dit Goeie Vrydag in Jerusalem, Soweto in 1976, of Gaza in 2025 is — tree hulle in ’n historiese lyn met profetiese getuienis.
    Om stil te bly uit vrees vir “politiek” of “ideologie” is self ’n politieke of ideologiese keuse: ’n keuse vir status quo.
    Die evangelie beroep hom op geregtigheid, barmhartigheid en waarheid.
    ’n Kerk wat sy stem verhef teen menslike lyding volg nie ’n politieke ideologie nie — dit volg Jesus van Nasaret, die rebel vir liefde en waarheid.

Comments are closed.

Scroll to Top