Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Brief: ‘Die kerk is nie ’n galery vir politieke solidariteit nie’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Tinus Diedericks skryf: Die onlangse intergeloofsaamtrek by Groote Kerk verwys.

Aan die eerwaarde leraar en die geagte raad van ouderlinge, met die grootste erns en ’n hart vol verslaenheid rig ek hierdie skrywe tot u. Ek skryf nie uit ’n gees van twis nie, maar uit ’n gewete wat nie langer kan swyg waar die heiligheid van ons geloof in die weegskaal gegooi word nie. Daar het iets plaasgevind wat, in die geskiedenis van ons gereformeerde belydenis, as ’n skending van die heiligdom self beskou sou word: die vertoon van ’n Palestynse vlag, die simbool van ’n geloof en ideologie wat die Godheid van Christus ontken, binne die kerkgebou, agter die kruis van ons Here Jesus Christus. Hoe laag kan julle daal en hoe aan die slaap is julle? Om só ’n simbool te plaas waar slegs Christus geëer behoort te word, is om die heilige ruimte te verwring tot ’n politieke of kulturele speelveld.

LEES OOK: Kaapse gemeente poog om solidariteit te toon deur gasheer te speel vir Francesca Albanese in brandpuntgesprek oor Israel en Gasa

Die kansel, daardie plek van Woordverkondiging, van Sola Scriptura, van die ewige evangelie, is gedeel met iemand wat nie die Naam van Jesus as Here bely nie. Dit is nie net ’n kwessie van optrede nie, maar van beginsel, want waar die grense tussen lig en duisternis vervaag, daar begin die sout laf word en die lamp dof skyn. Die Skrif sê: “Wat gemeen het die tempel van God met afgode?” (2 Kor 6:16). En weer: “Wee hulle wat die kwaad goed noem en die goeie kwaad” (Jes 5:20).

LEES OOK | Christendom en Islam: Twee gelowe, twee kontrasterende perspektiewe

Het ons dan vergeet dat Christus self die tafels omgekeer het toe die huis van gebed tot ’n mark gemaak is? Hier gaan dit nie oor onverdraagsaamheid of oor politieke lojaliteit nie, maar oor die heiligheid van die altaar, die eerbied vir die kruis, en die verantwoordelikheid van die herder oor sy kudde. Wanneer die Woord verdun word in die naam van “verdraagsaamheid”, verloor die kerk haar profetiese stem en word sy ’n weerklank van die wêreld wat sy behoort te verlig. Ons geloof is nie ’n samekoms van idees nie, dit is ’n belydenis van waarheid: “Ek glo in God die Vader, en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, onse Here.” “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh 14:6). Eerwaarde, ek vra u in nederige, maar besliste toon: Erken hierdie daad as ’n fout, as ’n dwaalspoor, en herstel die eer van die heilige Naam wat alleen in die kerk behoort uitgelig te word. Laat die kruis weer alleen staan, suiwer, onbevlek, sonder politieke of religieuse vermenging. Julle het die kruis daar gesit met ’n rede, nou kry die vlag dieselfde rede, hoe durf julle? Die wêreld vra vir vrede; maar die kerk moet eers waarheid hê, want daar kan geen ware vrede sonder waarheid bestaan nie. Die kerk is nie ’n galery vir politieke solidariteit nie, maar die ecclesia Dei, die liggaam van Christus, die pilaar en grondslag van die waarheid. As lidmaat spreek ek nie uit veroordeling nie, maar uit die pyn van liefde, liefde vir die Here, vir sy kerk, en vir die erfenis waarvoor ons vaders gebid, geveg en gely het. Mag daar ’n herbesinning wees, ’n terugkeer na die eenvoud en majesteit van die evangelie sodat hierdie gemeente weer met skoon gewete kan sê: “Soli Deo Gloria.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top